• Login
  • Search Icon

Gesogte GRAANTITEL binnekort weer toegeken

October 2018

ELIZABETH BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Afwagting heers oor die bekendmaking van Graan SA se Graanprodusent van die Jaar vir 2018, wat op 12 Oktober vanjaar by ’n glansgeleentheid in Midrand plaasvind. Dié toekenning, wat alreeds in sy 19de jaar is, is ’n toonaangewende vertoonvenster vir die uitstaande graanprodusente van Suid-Afrika.

Die wenner van dié gesogte titel word uit drie finaliste gekies: Van As Broers (Eiendoms) Beperk van Swellendam in die Wes-Kaap, die Van Zyl Familietrust van Ladybrand in die Vrystaat en Wilgrow (Eiendoms) Beperk van Middelburg in die Oos-Kaap. In Julie het die beoordelaarspaneel die drie finaliste besoek en kan nie uitgepraat raak oor hul ervaring tydens dié besoeke nie.

Nominasies vir toekenning
Mnr Jozeph du Plessis, ’n hoofbestuurslid van Graan SA en sameroeper van die beoordelaarspaneel, sê uitnemende graanprodusente word elke jaar deur hul verteenwoordigers vir die toekenning van Graanprodusent van die Jaar genomineer. Hulle voltooi dan ’n beoordelingsvorm, waarop ’n klomp vrae oor hul boerderye gevra word.

Die beoordelaarspaneel besoek hierna elkeen van die finaliste vir ten minste ’n halwe dag lank om hul boerderye te evalueer en te beoordeel, waarna hulle ’n keuse moet maak van wie die gesogte toekenning moet kry. Die stemmery word vertroulik gedoen en na Graan SA se ouditeure gestuur – wat die uitslag eers tydens die swierige funksie op 12 Oktober sal bekendmaak.

Die kundige beoordelaarspaneel bestaan uit vyf lede wat twee hoofbestuurslede van Graan SA wat self produsente is, ’n landbou-ekonoom en twee ervare landboukundiges – gewoonlik ’n grondkundige en ’n agronoom – insluit.

“Vanjaar is die Van As-broers van Swellendam, die Van Zyl-familie van Ladybrand en die Wilken-familie van Middelburg se boerderye beoordeel. Die beoordelaars moes behoorlik kopkrap om ’n wenner tussen dié drie finaliste te kies, want almal is waardige wenners,” vertel Du Plessis. 

’n Ervare produsent
Du Plessis, wat al 13 jaar op die beoordelaarspaneel dien, is self ’n ervare produsent. Hy boer saam met sy familie in die Schweizer-Reneke distrik. Hy verteenwoordig ook dié streek op Graan SA se hoofbestuur. Sy boerdery staan bekend as Locklore Boerdery en bestaan uit droëlandgewasse soos mielies, sojabone en katoen, asook ’n vleisbeesvertakking met geregistreerde Santa Gertrudis-beeste.

Hy sê dit was vir die paneel ’n groot voorreg om by sulke skitterende produsente op hul plase te kuier. “Die paneel kon eerstehands sien en beleef hoe hulle hul besighede positief en met passie opgebou het en vorentoe vat – ondanks die uitdagings waaraan graanproduksie in ons land onderhewig is. Ons was hierdie jaar diep geraak deur elkeen van die drie finaliste se verhale van hoe hulle begin boer het.

“Min mense besef vandag dat dit nog nooit maklik was om ’n boerdery van die grond af te kry en te vestig nie. Ons het by al drie finaliste gehoor van uitsonderlike harde werk, groot persoonlike opofferings en groot uitdagings met uiters uitdagende klimaatstoestande, asook uitdagende finansiële en ekonomiese omstandighede. 

“Van hulle het in hul beginjare groot terugslae beleef, maar weer opgestaan, uitgehou en aangehou tot hulle suksesvol aan die gang was. Hierdie verhale was vir ons almal uiters emosioneel en aangrypend – veral in die tyd waarin ons vandag lewe waar mense dink die lewe skuld hulle alles.”

Waardige wenners
Du Plessis sê elkeen van die drie finaliste is in sy oë ’n wenner, maar die toekenning kan ongelukkig net aan een deelnemer oorhandig word. “Elke finalis sal egter ’n waardige ontvanger van hierdie toekenning wees. Elkeen se boerdery word op ’n besonder hoë vlak bestuur, in harmonie met sy omgewing en op ’n volhoubare, ekonomiese manier.

“In die proses skep hulle almal goeie werksgeleenthede en dra hulle heelwat by tot volhoubare voedselsekerheid vir ons land, wat só belangrik is gegewe ons groeiende bevolking en groot getal arm mense. Hulle is almal passievol, positief en innoverend. Boonop is hulle geloof en deursettingsvermoë ’n voorbeeld vir almal van ons.”

Aangesien Suid-Afrika vernuftige graanprodusente het, is dit vir Graan SA uiters belangrik om die beeld van graanprodusente na buite te bevorder en om die beeld van landbou en produsente, maar spesifiek die standaard van plaaslike graanproduksie, te beklemtoon.

Vermoëns en vaardighede
Du Plessis meen ’n toekenning soos hierdie is beslis nodig om graanprodusente in Suid-Afrika se vermoëns en vaardighede ten toon te stel. Die breër publiek is onbewus van wat dit vereis om ’n suksesvolle produsent te wees – van wat ingesit word, waar produsente vandaan kom, waarmee hulle begin het en op watter gesofistikeerde wyse graanproduksie bedryf word.

“Hierdie toekenning is weens ’n paar redes vir Graan SA ontsettend belangrik. Eerstens gee dit erkenning aan ons graanprodusente, wat onder uitdagende omstandighede uitstekend presteer en vooruitgaan. Dit is vir Graan SA uiters belangrik om aan graanprodusente erkenning vir uitnemendheid te gee.

“Tweedens gebruik Graan SA hierdie toekenning om die beeld van landbou in die algemeen en graanproduksie in die besonder te bevorder en uit te bou in ’n land waar die meerderheid landsburgers glad nie besef op watter gesofistikeerde vlak graanproduksie bedryf word nie en wat dit behels om werklik suksesvol te kan boer nie.

“Derdens is die finaliste – en veral die wenner van die toekenning – ’n voorbeeld en inspirasie vir nuwe produsente en die jonger geslag produsente, wat eerstehands kan sien wat gedoen is om sukses te behaal en by wie ’n mens heelwat kan leer. Die finaliste vertel stories wat inspireer, ’n hoë standaard stel en beklemtoon dat sukses in niemand se skoot geval het nie,” verduidelik hy.

Fokus op graanproduksie
Hoewel die finaliste diversifikasie toepas, het die primêre beoordeling hoofsaaklik op al die fasette van graanproduksie gefokus. Strategiese, finansiële, arbeids-, meganisasie- en graanbemarkingsbestuur is geëvalueer. 

Klem is gelê op die doeltreffende verbouing van graan en produ­sente se doeltreffendheid is gemeet aan verskeie kriteria, wat onder meer agronomie, finansiële, hulpbron- en bemarkingsbestuur insluit. Ander faktore wat ook beoordeel is, is produsente se betrokkenheid in die gemeenskap en beleidsomgewing, produksiepraktyke, plaag- en onkruidbeheer, meganisasie en arbeidsbestuur.

“Gewasproduksie en alles wat verband hou met agronomiese bestuur is uiters belangrik. ’n Boerdery is egter dikwels só geïntegreer dat ’n mens noodwendig ook die interaksie en sinergie met die ander vertakkings en die impak daarvan moet ontleed,” sê hy.

Innoverende produsente
Du Plessis meen Suid-Afrika is geseën met skitterende produsente wat innoverend is, planne kan maak en die nuutste tegnologie winsgewend kan implementeer ten einde volhoubaar ekonomies en ekologies te kan boer. Hulle is nie bang om berekende kanse te waag om te verbeter, om uit te brei en vooruit te gaan nie. 

“Ek het nog nooit ’n graanprodusent teëgekom wat nie bereid was om ’n medeprodusent met raad te bedien nie. Daarom moet ons elkeen die geleentheid gebruik om by ons medeprodusente te leer. Ons moet ’n leergierige gesindheid hê. 

“Heelwat kundigheid is ook beskikbaar – professionele persone wat hoogs opgelei en bekwaam is in verskillende velde. ’n Produsent kan nie altyd ’n kundige op al die verskillende gebiede wees nie – betaal daarom vir mense wat wéét hoe om jou te help waar jy aan kundigheid tekortskiet.

“Laastens moet ons altyd onthou om in nederige afhanklikheid van ons Hemelse Vader te leef en te boer. Dit wat ons is, is net genade. Dit wat ons het, is net vir ons geleen om as rentmeesters daarvan op te tree tot Sy eer,” sê hy.

Publication: October 2018

Section: Grain SA

Search