• Login
  • Search Icon

Gemengde boerdery vat 1ste plek

November 2012

ELMARIE SCHOEMAN, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

image

“Ons as produsente moet voortploeg, brand al agt silinders. Suid-Afrika het ons nodig, ons vir jou Suid-Afrika.”

Só het ‘n beskeie Gilly Scheepers van die Bloukruin Landgoed by Fouriesburg, Bethlehem en Paul Roux tydens sy bedankingstoespraak gesê, kort nadat hy op 12 Oktober as Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar aangewys is.

Hierdie toekenning sal sy plek langs verskeie ander toekennings inneem, onder andere Boneprodusent van die Jaar, Koringprodusent van die Jaar en Toppresteerder by OVK.

Gilly het Graan SA vir hulle onbaatsugtige werk bedank asook sy medeprodusente: “Suid-Afrika se produsente boer soms in moeilike omstandighede, met min staat steun; ek dink ons is ‘n paar ysters!” In hulle afwesigheid het Gilly ook sy werkers, of “daardie mean team by die huis”, soos hy na hulle verwys, bedank.

Gilly gesels met lof oor sy Hemelse Vader: “Alle eer aan die Here vir talente, energie, breinkrag en die voorreg om te kan boer in hierdie ongelooflike pragtige Suid-Afrika. Daar is ‘n groot berg agter ons huis en as dinge soms taai raak, kyk ek net na daardie berg en vra: ‘Waar sal my hulp vandaan kom?’ Net van die Here af.”

Syngenta beloon die Graanprodusent van die Jaar-wenner en sy eggenote met ‘n sewe dae vakansietoer na Switserland. Dit sluit ook ‘n besoek aan Syngenta se hoofkantoor in Basel in.

Agtergrond oor Gilly se boerdery

Gilly skrik duidelik nie vir harde werk nie en sy gediversifiseerde boerdery spreek daarvan. Bloukruin Landgoed BK is in 1971 deur Gilly se pa, Jannie, gestig en in 1988 het Gilly die landgoed oorgeneem onder die geweldige druk van die 1980-droogte. Hy het sy beskeie begin op 380 ha, met harde werk en baie opofferings, tot etlike duisende hektare uitgebrei.

Gilly verseker deur sy bewerkingsmetodes, onkruidbeheerprogram en aanpassing van plantestand by die omgewing, ‘n bogemiddelde mielie-opbrengs, ten spyte van die grond wat nie ideaal vir mielieverbouing is nie.

Slegs geelmielies word geplant en die prysfluktuasies daarvan word versag deurdat die geelmielies as voer in die hoender- en veevertakkings van sy boerdery gebruik word. Sy opbergingsfasiliteit vir graan dra daartoe by dat hulle voor planttyd, tydens die graanseisoen, tydens strooptyd en selfs later kan verkoop.

As gevolg van die diversiteit van die Oos-Vrystaat, het Gilly die saaikomponent versterk deur ‘n veefaktor te integreer. Koring word vir twee jaar aangeplant waarna die lande oorlê vir mielies. Ná die mielieaanplanting word droëbone geplant en direk ná die droëbone weer mielies.

Op die plaas is ‘n kraamsaal vir die ooie wat ongeveer 450 van Gilly se beduidende aantal merino’s, wat vir wolproduksie sorg, kan akkommodeer. Hy het ook meer as 100 000 lêhenne waarvan die eiers wyd versprei word.

Publication: November 2012

Section: Other Articles

Search