• Login
  • Search Icon

Fokus op dít waaraan jy iets kan doen

January 2018


JANNIE DE VILLIERS, HUB

Wat gaan 2018 vir ons as graanprodusente en as landsburgers inhou? Ek wonder nogal wat ons sou gedoen het as ons van ‘n paar van die onsekerhede vooraf geweet het – sou dit enigsins gehelp het om die toekoms beter aan te pak? 

Verlede jaar hierdie tyd het ons van ‘n hersteljaar gedroom. Met lae graanpryse en droogte in die Wes-Kaap was daar egter min tekens van herstel. 

Met die skrywe hiervan het die onmoontlike toe ook moontlik ge­raak: President Mugabe van Zimbabwe het bedank. Dit wil 'n mens dié moed gee dat selfs die mees lojale ondersteuners aan die einde van hulle geduld kom. Hierdie gebeure sal beslis ook ‘n uitwerking op Suid-Afrika hê – polities en ekonomies.

Om te spekuleer en voorspellings vir 2018 te probeer waag, het menige mense al op hul neuse laat kyk. Daarom is my advies dat jy fokus op dít waaraan jy iets kan doen om jou boerdery volhoubaar te hou: Die bestuur van jou risiko’s en die bestuur van jou inkomste en uitgawes. 

Ons het al oor die jare gesien hoe innoverend die Suid-Afrikaanse graanprodusente is en dat hulle as die bestes in die wêreld gesien word. Dit is veral op die uitgawe-kant waar die vryemark ons produsente die afgelope 20 jaar geslyp het. 2017 se surplusse en lae pryse was egter slegte medisyne wat ons net weer herinner het dat ons op die inkomste-kant ook moet fokus. Ons gaan altyd prysnemers wees, maar die bestuur van prysrisiko bly iets waaraan ons kan aandag gee. 

Die rol van Graan SA vir 2018 gaan wees om die werk ten opsigte van die verbetering van opbrengste van al ons grane deur middel van die navorsing wat ons doen en die vennootskappe wat ons sluit, voort te sit. Ons gaan verder poog om toegang tot markte (plaaslik en internasionaal) met die oog daarop om surplusse aan te spreek, te vergroot en ons gaan toesien dat die beleidsomgewing verbeter om volhoubaarheid te verseker.

In hierdie onstuimige tye waar die landbousektor bitter alleen gelaat word, sal ons voortgaan om kollektief namens produsente op te tree en ‘n tuiste te skep waar ons mekaar “hoor” en aksies neem om omstandighede op die plaas te verbeter. 

Ek wil tog dink dat ons as organisasie meer tyd moet inruim om mekaar se laste te dra. Die ondersteuning aan landbou is maar oor die algemeen gering en daarom raak ons ook, wat dit betref, al meer op mekaar aangewese. Dit sal beslis ‘n nuwe uitdaging in 2018 wees. 

Graan SA sal graag dáár wil wees vir elke lid as hy/sy alleen besluite moet neem tydens planttyd of verkooptyd of as daar rampe op hande is – of bloot net as daar ‘n negatiewe veiligheidsituasie is.

Ek neem ook waar dat al die addisionele laste wat die staat op die burgers van ons land afskuif, letsels op die leiers in landbou laat. Hul vragte word net al swaarder.

Tog bly ons nie net as landbouers nie, maar as gelowiges, positief oor die toekoms. Dit is iets wat in ons DNS is en wat nie droogte of storm kan uitwis nie. Ons beroep op ons lede is dat ons nie nou sal terugtrek en laer vorm nie, maar sal uitreik na ons medeprodusente en in 2018 mekaar se laste sal help dra.

Voorspoed vir 2018! 
 

Publication: January 2018

Section: Features

Search