• Login
  • Search Icon

Fasiliteite dra by tot winsgewendheid

April 2013

— Deel 2: Plasing van die fasiliteite
 

image

HENNIE DU TOIT, VEEKUNDIGE, NWK LANDBOUBESTUURSDIENSTE

Die fasiliteite van ‘n skaapvertakking speel ‘n enorme rol in die winsgewendheid van die vertakking. Alhoewel die omvang van intensiewe skaapboerdery in Suid-Afrika heelwat kleiner is as in lande soos Australië en Nieu-Seeland, is dit steeds net so belangrik om moeite met die oprigting van die fasiliteite te doen.

‘n Ekstensiewe produksiestelsel beteken die skape leef van die veld af. Strukture wat grotendeels hier voorkom, is oornagfasiliteite en ‘n hanteringskompleks. ‘n Intensiewe produksiestelsel is enige stelsel waar van aangeplante en besproeide weidings gebruik gemaak word; ‘n stelsel wat geslote kan wees, of wat in ‘n voerkraalopset bestaan. Hier sal ‘n meer volledige fasiliteit benodig word.

Die ontwerp van ‘n intensiewe skaapproduksiestelsel

Tydens die ontwerp van ‘n intensiewe kompleks, is die keuse van die terrein een van die belangrikste faktore wat in ag geneem moet word. Die keuse van ‘n geskikte terrein is baie belangrik; eerstens uit die oogpunt van die skape en hulle behoeftes en tweedens is dit nodig dat die terrein die totale plaasuitleg komplementeer. Faktore wat die terreinkeuse sal beïnvloed, is onder meer:

Ekonomie
Die rede vir enige ontwikkeling of uitbreiding is om die wins te verhoog. Die vraag is of die voorsiening van behuising en hanteringsfasiliteite die uiteindelike inkomste só sal verhoog dat dit moontlik sal wees om die koste wat aangegaan moet word, in 'n billike tyd te verhaal.

Effek op die omgewing
Die terreinkeuse moet sodanig gedoen word dat die stelsel nie tot besoedeling sal bydra nie. Potensiële gronderosie wat veroorsaak kan word deur swak beplande stormwatervore en veranderings in helling, moet vroegtydig opgemerk word en aandag ontvang. Daar moet voorts gepoog word dat die voorkoms van elke struktuur tot die omgewing sal bydra.

Relatiewe posisie
Relatiewe posisie is die plasing van die kompleks relatief tot die plaaswerf. ‘n Kompromie moet tussen die gerief om naby die kompleks te wees en die ongerief van die geraas en reuke wat ontstaan, getref word. Die algemene manier om die plasing te doen, is met die soneringsmetode. Die soneringsmodel verdeel die plaas in konsentriese ringe wat as aktiwiteitsones bekend staan. Aktiwiteite word nou volgens lastigheidsgraad in die verskillende sones geplaas (sien
Figuur 1).

image

Toeganklikheid
Eenvoudige toegang tot die produksie-eenheid vanaf die hoofroetes, werkswinkel en voerarea is belangrik. Indien voertuie naby die woonhuis verby moet ry, sal dit groter sekuriteit aan die skaapkompleks gee.

Dienste
Koste en ander implikasies ten opsigte van elektrisiteitsvoorsiening, telefoondienste en watervoorsiening is belangrik.

Dreinering
Dreinering word grotendeels deur die topografie en grondtipe van die terrein, beïnvloed. Korrekte dreinering is baie belangrik, aangesien afloopwater nie in natuurlike stroom gebiede gelaat mag word nie. Laagliggende gebiede moet waar moontlik, vermy word om probleme met ‘n té hoë watertafel gedurende nat periodes uit te skakel. ‘n Geskikte helling is tipies 4% tot 6% met die rigting van die val weg van die woonhuis en geboue af. By té steil hellings moet aandag aan potensiële gronderosie gegee word.

Afvalhantering
Plaas die fasiliteit weg van natuurlike stroomgebiede – dit vergemaklik die ontwerp en konstruksie van die fasiliteit asook voldoende ruimte vir die oprigting, onderhoud en werking van ‘n praktiese afloopbeheerstelsel. Oorweeg dit om oop voerkrale en gange onderdak te plaas om besoedelde afloopwater te verminder.

Heersende windrigtings
Die rigting en sterkte van die heersende winde moet in ag geneem word met die plasing van die fasiliteit relatief tot die plaashuis. Natuurlike beskutting, soos boomlanings en noordelike hellings, kan teen koue winterswinde aangewend word. Die plasing van die fasiliteit moet sodanig wees dat dit maksimum beskerming teen koue winterswinde bied, met goeie ventilasie in die somer.

Uitbreidingsmoontlikhede
Die moontlike uitbreiding van die kudde en produksiestelsel, moet in gedagte gehou word by die keuse en beplanning van die terrein en fasiliteite. In die praktyk is die uitbreiding van ‘n bedryfstak al telkemale geïnhibeer deur swak beplanning vooraf, met die gepaardgaande uiterse hoë koste aan die uitlê van ‘n nuwe eenheid.

Opsomming

Uit die bogenoemde is dit dus duidelik dat die plasing van ‘n nuwe produksiestelsel nie sommer net lukraak plaasvind nie...Daar is baie wetenskap in vervat. Indien daar egter ‘n bietjie beplanning in die plasing van ‘n fasiliteit plaasgevind het, sal in die toekoms, met uitbreidings en so meer, die voordeel daarvan geniet word. Die ander groot voordeel is dat die huislike atmosfeer positief sal wees, sonder die vlieë en die reuke.

Vir enige navrae in dié verband, kan jy vir Hennie du Toit kontak by (018) 633-1153, 084 515 6817 of hennie@nwk.co.za.

Bronnelys

Thorne, M.S. en Stevenson, M.H. Stocking rate: The most important tool in the toolbox. Pasture and range management,Junie 2007, Hawaii.Van Wyk, E.B. Februarie 1991. Handleiding oor skaapfasiliteite.Direktoraat: Landboumeganisasie. Pretoria.

Publication: April 2013

Section: Input Overview

Search