• Login
  • Search Icon

EU handelsooreenkomste met Suid-Afrika - wat hou dit vir jou in?

October 2011

WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM: MARKNAVORSING, GRAAN SA

Dit is belangrik vir ‘n bedryfsorganisasie, soos Graan SA, om gereeld met die regering te skakel omdat ondeurdagte onderhandelingsbesluite en voorstelle tussen regerings, verreikende gevolge vir spesifieke sektore binne die graanbedryf kan inhou. Die gevolge van internasionale onderhandeling is nie maklik, indien enigsins, omkeerbaar nie.

Hierdie artikel kyk na wat die Europese Unie (EU) se handelsooreenkoms met Suid-Afrika vir produsente inhou.

Die algemene doelstellings van die Trade, Development and Cooperation Agreement (TDCA)-ooreenkoms

Die EU en Suid-Afrika het vroeër (1995 tot 1999) ooreengekom om op verskeie gebiede beter saam te werk. Die doelstelling van die ooreenkoms is om dialoog te verbeter en Suid-Afrika in die ekonomiese en sosiale oorgangsproses te ondersteun.

‘n Ander doelstelling is ook om samewerking tussen lande in die Suider-Afrika streek te bevorder en Suid-Afrika se ekonomiese integrasie in die Suider-Afrika streek en die wêreld-ekonomie te bevorder. Verder is die doel van hierdie ooreenkoms om die handel in goedere, dienste en kapitaal tussen die partye in die ooreenkoms te bevorder en verder te liberaliseer.

Die spesifieke handelsdoelstellings van die TDCA-ooreenkoms

In terme van handel, het die TDCA-ooreenkoms ten doel om ‘n voorkeurhandelsooreenkoms tussen die EU en Suid-Afrika daar te stel met die uiteindelike doel om ‘n vryehandelsgebied (FTA) tussen die EU en Suid-Afrika in plek te stel.

Die FTA fokus daarop om beter marktoegang vir Suid-Afrika tot die EUmark te bewerkstellig. Die ooreenkoms maak voorsiening vir die liberalisering van 95% van die EU se invoere uit Suid-Afrika en 86% van Suid-Afrika se invoere uit die EU. Vir die EU sluit die produkte hoofsaaklik landbouprodukuitvoere (byvoorbeeld Duitse koring) na Suid-Afrika in, terwyl industriële produkte (byvoorbeeld motors) vir invoer uit die EU vir Suid-Afrika belangrik is.

Reëls van oorsprong

Dit is belangrik om daarop te let dat die ooreenkoms duidelike reëls in plek het ten opsigte van die oorsprong van produkte. Dit beteken dat die EU slegs produkte wat in die EU geproduseer word, na Suid-Afrika kan uitvoer. Hiervolgens behoort dit byvoorbeeld nie moontlik te wees om sojaboon-oliekoek vanaf Argentinië via die EU tariefvry in te voer nie.

Huidige stand van sake

Die EU onderhandel tans met die Suid-Afrikaanse regering met die doel om die huidige TDCA-ooreenkoms (tussen Suid-Afrika en die EU) te vervang met ‘n breër EU-SA Doeane-unie Ekonomiese Vennootskap Ooreenkoms (EPA-ooreenkoms). Indien hierdie onderhandeling suksesvol is, sal dit tot die afsluiting van die handelsgedeelte in die TDCA-ooreenkoms lei.

Mielies, koring en koringmeel word in die TDCA-ooreenkoms uitgesonder en hierdie sensitiewe tarieflyne is nie totaal geliberaliseer nie. Die tariefformule vir beide mielies en koring is steeds van toepassing. Dit is interessant om daarop te let dat die toegepaste tarief nie 50% mag oorskry nie. Die huidige toegepaste tarief op koring is 0%.

Die ander tarieflyne vir kommoditeite wat binne Graan SA se mandaat val, is tans binne die TDCA-ooreenkoms tarief- en kwotavry. Dit beteken dat Suid-Afrika voortaan nie tariewe op sorghum, sojabone, sonneblomsaad, grondbone of kanola uit die EU kan hef nie.

Hierdie kommoditeite is ten volle geliberaliseer en is dus nie belangrik in die nuwe EPA-ooreenkoms nie. Die enigste grane wat vir die finalisering van die EPA-ooreenkoms belangrik is, is witmielies, geelmielies, koring en gars. Dit is egter nie moontlik om die tarief op gars binne die huidige TDCA-ooreenkoms te verhoog sonder om byvoorbeeld tariefvrye en/of kwotavrye invoere op mielies, koring of gars gedeeltelik of ten volle binne die nuwe EPA-ooreenkoms toe te laat nie.

Die impak van waardetoegevoegde produkte

Daar is egter ook ‘n paar ander tarieflyne op waardetoegevoegde produkte wat ‘n potensiële impak op die produksie van primêre kommoditeite kan hê. Volgens die TDCA-ooreenkoms is sommige van hierdie produkte se invoere tarief- en kwotavry.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is die invoer van raapsaad en/of kanolaolie uit die EU. Die tarief- en kwotavrye invoere van plantaardige olies plaas die winsgewendheid van ons plaaslike persbedrywe, soos kanolasaadperse, onder druk met ‘n gevolglike laer produsenteprys aan produsente in die Suid-Kaap.

Weens die voorwaardes in die TDCA-ooreenkoms, is die invoere van plantaardige olies uit die EU tarief- en kwotavry. Dit is dus nie moontlik om vir ‘n hoër invoertarief teen die invoer van plantaardige olies uit die EU aansoek te doen nie. Die voorwaardes van die TDCAooreenkoms wat gedurende 1995 tot 1999 onderhandel was, laat ons kanola- en ander persbedrywe weerloos teenoor plantaardige olieinvoere uit die EU.

Groter marktoegang

In ‘n poging om vordering met die huidige onderhandelinge te maak, stel die EU vereistes aan Suid-Afrika om aan die EU groter marktoegang tot die Suid-Afrikaanse mark toe te staan. Let daarop dat die huidige onderhandelinge nou ook die lande wat ná 1999 lid van die EU geword het, insluit.

Graan SA se standpunt

Graan SA is van mening dat Suid-Afrika nie groter marktoegang vir kommoditeite uit die EU kan toestaan nie. Suid-Afrika en die BLNS-lande behoort nie vir vryer handel met die EU te onderhandel nie. Solank as wat die EU-lande nie hul plaaslike ondersteuning aan hul produsente in die EU opskort nie, behoort Suid-Afrika geen verdere marktoegang toe te staan nie.

Die EU subsidieer die produksie en uitvoere van graan- en oliesadekommoditeite en -produkte tot nadeel van Suid-Afrika se produsente, nywerheidsontwikkeling en indiensneming.

Publication: October 2011

Section: Markoorsig

Search