• Login
  • Search Icon

Ek leer elke dag iets wat my help om te verbeter

April 2012

– George Barnard, 'n finalis van die 2011 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-toekenning

image

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Om elke dag iets nuuts te kan leer en dit te implementeer, is ‘n voorreg wat van George Barnard ‘n finalis vir die 2011 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-toekenning, gemaak het.

George en sy familie boer op Groblersdal met graan en groente onder besproeiing. Tans word mielies, koring, aartappels, saadmielies, groenmielies, ertjies en droëbone verbou. Sy hoofgewas is egter aartappels wat ook in die Baltimor-omgewing deur hom verbou word.

Wil van alles weet

George is ‘n bestuurder wat van alles wat op sy plaas gebeur, wil weet. Hy glo ook om by te wees as die kritieke take uitgevoer word. Tyd is vir hierdie produsent belangrik en daarom maak hy gebruik van ‘n vliegtuig om vinnig van een plaas na die volgende te beweeg. Dié vliegtuig maak dit ook vir hom moontlik om probleme vinnig waar te neem en reg te stel. ‘n Foutiewe spilpunt word só baie vinnig raakgesien en reggemaak.

“Om te weet hoe om iets te doen, sal altyd vir jou werk verseker, maar om te weet hoekom dit gedoen moet word, sal jou altyd die baas laat bly,” sê George. Oor dié rede is hierdie produsent een van die bes ingeligte produsente wat ek al teëgekom het.

Omring met kundiges

George het vinnig besef hy het nie al die kennis wat benodig word nie en daarom het hy homself met kundiges omring. Hy kies hierdie kundiges nie lukraak nie, maar hulle moet dieselfde visie, passie en etiek as hyself openbaar.

George sal hul advies toets, evalueer en dit met hul samewerking aanpas sodat die advies in sy boerdery toegepas kan word.

Implementeer nuwe denke

Moeite was nog altyd vir George die moeite werd en daarom is hy nie bang vir nuwe denke en om die ekstra myl te stap nie. Hy besef dat boerdery oor die bestuur van natuurlike stelsels gaan en daarom gebruik hy altyd ‘n logiese benadering om nuwe oplossings vir probleme te soek.

Tydigheid en voorkoming is die wagwoord in hierdie boerdery. Hieroor word ‘n mikrobioloog aangewend om siektes en plae voortydig te keer. Hy maak ook gebruik van verskillende wisselbouprogramme en chemiese en biologiese middels om hierdie probleme aan te spreek. Aalwurm word aktief op die plaas bestuur.

image

Sy belangrikste hulpbron

Grond is vir hierdie produsent sy belangrikste hulpbron en hy probeer dit so volhoubaar moontlik gebruik. Ten einde die volhoubaarheid te verseker, word alles in sy vermoë gedoen om hierdie hulpbron optimaal te benut en te bewaar. Die boonste 100 mm van sy grond is vir hom die belangrikste gedeelte en daarom bestuur hy hierdie boonste gedeelte aktief.

George glo dat die oesreste met die boonste 100 mm van die grond gemeng moet word en dat daar bepaalde voordele in hierdie stelsel is. Hy glo dat die mikrobe-lewe en organiese materiaal in die boonste gedeelte van die grond, die hoeveelheid addisionele bemestingstowwe wat benodig word, beinvloed en meestal verminder. Oor die rede pas hy hierdie boonste gedeelte van die grond mooi op. Lande is waar nodig gekontoer om gronderosie te voorkom.

Omdat die meeste lande meer as een oes per jaar lewer, is die grond- en bemestingsbestuur baie belangrik. Daar word jaarliks ongeveer ‘n derde van die lande chemies en biologies op ‘n hektaarbasis ontleed en indien nodig, differensieel reggestel.

Hy wys daarop dat hy seker maak dat die kalsium- en magnesiumverhouding reg bly en gebruik kalk om die verhouding reg te stel en reg te hou. Die gewasse se sapontleding word ook aangewend om die plante se voedingstatus te bepaal en indien nodig, regstellings, veral mikro-elemente, te doen.

Water sy lewensaar

Water beteken lewe vir ‘n besproeiingsprodusent en as gevolg van die styging in elektrisiteitskostes moet die watertoediening geoptimaliseer word. Dit word gedoen met behulp van ‘n besproeiingskeduleringsprogram. Hierdie program neem aspekte soos verdamping, windspoed, hitte, die gewas se waterbehoefte en talle meer in ag om die watertoedienings te bepaal.

Verder word die spilpunte se sproeiers gereeld vervang om seker te maak dat die regte hoeveelhede water toegedien word. George maak ook seker dat die hoogte van die sproeiers reggestel is om seker te maak dat die waterverspreiding oor die land eweredig is.

Die belangrikste tyd op die plaas

Planttyd is vir George die belangrikste tyd op sy plaas. Hy doen aktief moeite om by die planters te wees of uit te kom. Planterspoed is vir George baie belangrik omdat dit sy plantspasiering beinvloed.

Deur te vinnig te plant, varieer die spasiering te veel en word opbrengste ingeboet. George het die plantproses so ver as moontlik gemegani seer. Deur tyd te bespaar met die volmaak van die planters, kan daar meer hektare per dag geplant word. Die trekkers is ook toegerus met tegnologie om presisieboerdery te kan toepas.

George het ook vinnig besef dat trekkerwielkompaksie sy opbrengste benadeel. Hy het veral op die aartappels agtergekom dat die aartappelrye wat onder die trekker deurloop opmerklik minder ekstra groot aartappels as die ander rye lewer. Vir die rede word alle aartappelbespuitings met ‘n vliegtuig gedoen. George poog ook om so min as moontlik trekkers oor die ander gewasse te laat beweeg om sodoende sy trekkerwielkompaksie te beperk.

Daarmee saam is hy terdee bewus dat produksie nie ‘n verkeerde bemarkingsbesluit se finansiele effek kan uitkanselleer nie. Hy prober daarom om soveel as moontlik van sy gewasse op ‘n kontrakbasis te verbou en ook om die pryse voor die tyd te verkans – sodoende dra die hele ketting aan die risiko van die boerdery.

In strooptyd moet die stropers optimaal benut word. Die tekortkoming was egter om die graan weg te ry en daarom het George vir hom ‘n graansilo opgerig om die graan te berg en dan op ‘n meer gelee tyd na die kopers uit te ry.

image

Direkte betrokkenheid

Omdat George ‘n hands on-benadering tot sy boerdery volg, doen hy ook moeite om na die finansiele kant van sy boerdery te kyk. Hy glo dat ‘n goeie kontantvloei en gereelde inkomste sy risiko’s verminder.

Verder help die gereelde inkomste dat min rente betaal word en in dien ‘n gewas ‘n probleem gee, kan dit makliker met die ander opgemaak word. Hy weet ook hoeveel dit hom kos om ‘n hektaar te verbou en daarmee saam wat sy pryse vir die gewasse en hul produkte moet wees.

George het ook die meeste van sy werk gemeganiseer – ‘n besluit wat hy op ‘n finansiele basis geneem het. Die masjinerie is duur, maar in die lang termyn dink George is dit die regte ding om te doen.

Hy is terdee bewus dat hy hierdie boerdery en prestasies nie self en alleen kan bereik nie. Hy besef dat hy afhanklik is van sy Hemelse Vader en dat alles wat hy het uit Sy hand kom.

Sy vrou, Marlene, en die plaasbestuurders speel ook hul rol om hierdie besigheid te laat werk. George gebruik hulle as ‘n klankbord en bespreek op ‘n daaglikse basis wat gedoen moet word en hoe dit in die groter prentjie inskakel.

“My plaasbestuurder help my om die breer perspektief te behou en sy insette en kritiek lei tot effektiewer en doeltreffender besluite,” se George.

Baie drome

George is ‘n man met baie drome. Party het reeds waar geword en ander is in proses om waar te word. Hy het agtergekom dat deur van homself te gee, ontvang hy baie meer terug as wat hy gegee het.

Sy ingesteldheid is om daagliks iets nuuts te leer en te probeer implementeer. Daarom is dit vir George lekker om oor sy bedrywighede te lees en meer daaroor te leer. Hy is ook nie skaam om sy kennis met ander te deel nie en sodoende leer hy weer iets by ander.

Vir enige navrae, kan George gekontak word by 082 322 7471.

Publication: April 2012

Section: Wenartikels

Search