• Login
  • Search Icon

Edwin wil help om hongersnood te voorkom

November 2017

Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar (250+-ton) 
 

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker

Mnr Edwin Mahlatsi, 2017 Graan SA/Absa/John Deere Financial Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar word deur die beoordelingspaneel, wat sy plaas vroeër vanjaar besoek het, opgesom as ‘n baie kundige, toe­gewyde en deeglike man wat ‘n passie vir landbou het.

Tydens ‘n sosiale media-onderhoud na afloop van die oorhandigingsfunksie, het Mahlatsi gesê sy grootste droom is om mens en dier wat swaar kry en nie kos het nie, met kos te help. 

Hy het grootgeword op die plaas, Swartlaagte, naby Bothaville in die Vrystaat en het ook later as voorman daar gewerk. In 2012 het sy werkgewer hom gehelp om ‘n huurooreenkoms te kry deur die Proaktiewe Grondverkrygingstrategie (PLAS)-program. Sy werkgewer het verder vir hom toerusting beskikbaar gestel – met die verstandhouding dat Mahlatsi dit oor ‘n aantal jare terug sou betaal. Sy werkgewer is ongelukkig in 2014 oorlede en die toerusting moes terug in die boedel gaan.

Met geen werk, toerusting of kapitaal nie, het hy besluit om die Graan SA-span te nader om hom met ‘n plan, om die 210 ha vrugbare grond ten beste te benut, te help. “Graan SA was uiters behulpsaam deur aan my opleiding te gee. Hulle het my ook ondersteun om befondsing van die regering te verkry en om by te bly met die nuutste tegnologie in landbou, sodat ek beter as in die verlede kon presteer,” het hy tydens ‘n DVD-vertoning dié aand gesê.

Mahlatsi se mentor, mnr Christiaan Bouwer, het hom deur die moeilike 2015/2016-seisoen ondersteun – en ten spyte van die droogte kon hy steeds 250 ton mielies oes. Vanjaar spog hy met ‘n uitstekende mielie-oes van 5,5 t/ha. 

“Ek ken vir Christiaan sedert hy ‘n klein seuntjie was; ek ken sy pa ook betreklik goed. Ons kom al ‘n lang pad saam. Hy help my baie en doen alles met ‘n vriendelike hart,” het Mahlatsi op die DVD gesê.

Hy het ook ‘n veevertakking (beeste en skape) wat 20% van sy besigheid beslaan, maar sy hooffokus bly die mielieboerdery. Met sy eie toerusting wat goed onderhou word, is hy in staat om tydig grondvoorbereiding, bespuiting en aanplantings te doen. Wanneer dit strooptyd is, maak hy gebruik van ‘n kontrakteur.

Mnr Johan Kriel (ontwikkelingskoördineerder, Graan SA), wat die tolk was tydens Mahlatsi se bedankingstoespraak, vertel dat Christiaan hom meegedeel het dat die werk wat hy met Edwin gedoen het, sy lewe gered het. Dit het hom besig gehou en sy vertroue in God versterk. “Edwin en sy gesin is fenomenale mense; ek raak nogal emosioneel as ek oor hom praat,” het Kriel uit sy eie ervaring bygevoeg.
 

Publication: November 2017

Section: Grain SA

Search