• Login
  • Search Icon

Droom jy nog, wat is jou droom en hoe gaan jy daar uitkom?

August 2012

image

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Om alles gemaklik en konstant te hou, is sekerlik die mees ongekompliseerde en gerieflikste vir enige boerderybestuurder. Die werkers weet wat om wanneer te doen en relatief min aandag en tyd hoef aan beplanning gespandeer te word.

Hierdie gemaklikheid kan egter tot groot probleme en krisisbestuur aanleiding gee. Alles is aan die verander en daarom moet die winsgewendheid en effektiwiteit konstant verhoog word.

Deur nie te verander of ten minste veranderinge te ondersoek nie, sal tot gevolg hê dat probleme stil-stil die boerdery infiltreer en tot die boerdery se ondergang aanleiding gee. Deur nie te groei nie en nie doelwitte na te jaag nie, is die eerste teken van verval.

Strategiese plan ontbreek

By die meeste produsente is ‘n goeie strategiese plan met eie doelwitte en mikpunte gewoonlik ontbrekend. Produsente is so vasgevang in die produksieproses en dag-tot-dag bestaan, dat hul vergeet hul bepaal hul eie uitkomste.

‘n Langtermyndoelwit vir waar die boerdery oor vyf, tien en vyftien jaar moet wees, bestaan gewoonlik nie en daarom maak dit nie regtig saak wat oor tyd gebeur nie. Weens hierdie tekortkoming is daar gewoonlik ook nie duidelike korttermyndoelwitte nie. “Die jaar sal mos bepaal wat gebeur,” word gewoonlik voorgehou.

Opstel van haalbare doelwitte

Goeie beplanning en die opstel van goeie haalbare doelwitte wat geïmplementeer word, is seker van die belangrikste take wat ‘n produsent moet aanpak.

Dit is jou as bestuurder se taak om doelwitte op te stel en jaarliks jouself daarteen te meet. Die 2011/2012-produksiejaar is afgehandel en die meeste graan is reeds gestroop. Hierdie jaar is egter nou geskiedenis en produsente moet hulself afvra: Hoe het hulle gevaar?

Hiervoor is dit noodsaaklik om jou eie opbrengste teenoor die omgewing te meet en klem te lê op veral die volgende:

  • Verlede jaar se opbrengste;
  • Die langtermyngemiddeld van jou plaas en die omgewing;
  • Die omgewing se opbrengste behaal;
  • Die realistiese opbrengspotensiaal van jou plaas;
  • Die opbrengs per millimeters reën;
  • Die opbrengs per liters diesel gebruik; en laastens
  • Jou eie doelwitte en mikpunte – om net ‘n paar te noem.

Ongelukkig bestaan die persepsie by baie produsente dat hulle nie verantwoordelik is om vir hulself oplossings vir probleme te vind nie. Studiegroepe bestaan mos, maar daar word baie min data deur die groepe vir die groepe gegenereer.

Daar word gewoonlik ‘n kundige ingeroep om die probleem op te los. Daar is nie baie fout met hierdie benadering nie, maar word daar ooit gepoog om die optimale produksie vir jou boerdery te verkry? Word hierdie inligting, soos deur kundiges voorgehou, geïmplementeer en word dit gemeet om te weet of dit werk? Word daar tyd gemaak om die inligting op die internet te ontgin en om oor nuwe idees op te lees?

Jaag jou drome na

Deur te droom, jou drome te verwoord en dit aktief na te jaag, hou jou aan die beweeg. Deur aandag aan doelwitte en drome te gee, word die eerste groot risiko van jou boerdery aangespreek en eensklaps sal dit weer lekker wees om te boer. Probleme sal as uitdagings gesien word en oplossings sal aktief hiervoor gesoek word.

Bestuur risiko’s en onsekerheid

Risiko en onsekerheid is ‘n integrale deel van boerdery en produsente kan dit nie vryspring nie en word gedwing om dit te bestuur. Die vraag is: Wat gaan aan die risiko’s en onsekerheid gedoen word?

Die optrede van ‘n produsent teenoor risikosituasies word deur die produsent se persoonlikheid, oordeel, kapitaalposisie en doelstellings bepaal. ‘n Produsent se persoonlikheid sal bepaal of hy van risiko’s hou of dit as ‘n bedreiging sal ervaar.

Verder sal produsente met beperkte kapitaal gewoonlik bereid wees om groter kanse te waag omdat sy verlies klein is en sy moontlike winste groot is. Daarteenoor sal kapitaalkragtige produsente dalk nie soveel risiko’s wil neem nie omdat daar vir hulle baie is om te verloor. Ongelukkig kos dit geld om risiko’s te verminder en daarom moet produsente mooi besin oor watter risikoverskansing gebruik gaan word.

Risiko’s kan op drie maniere bestuur word, naamlik deur risiko te vermy, te versag of oor te dra. Saaiboerderyrisiko kan verwyder word deur uit die saaiboerdery na byvoorbeeld die veebedryf te beweeg. Die verlaging in die inkomste is die prys wat betaal word deur só ‘n strategie te implementeer.

Die effek van risiko kan ook deur produsente versag word. ‘n Hoë mate van likiditeit en die opbou van ‘n reserwe is een manier om die effek van risiko te versag. Die kapitaal wat hierin vasgevang word, sal ongelukkig nie beskikbaar wees om in die boerdery aan te wend nie en verder moet daar baie goeie selfbeheersing aan die dag gelê word met die gebruik al dan nie van die fondse.

Deur te diversifiseer kan die effek van risiko’s ook verlaag word. Ongelukkig bring diversifisering mee dat meer tyd aan bestuur afgestaan moet word en daar word hoë vereistes aan die bestuurder van die onderneming gestel. Goeie wisselboupraktyke kan ook die risiko in ‘n boerdery verlaag. Behalwe die hoër produksie, word daar in meer as een mark gelewer, met die gevolg dat al die eiers nie in dieselfde mandjie is nie.

Bemagtig jouself met inligting

Om jouself met inligting te bemagtig en te weet wat veral in markte aangaan, is een manier om jouself teen risiko’s te verskans. Met vandag se tegnologie kan daar daagliks nuwe markinligting verkry word wat sal help om veral verskansing en bemarkingsbesluite tydig te kan maak en deur op hierdie twee faktore te konsentreer, kan baie pyne uitgeskakel word.

Die effek van risiko’s kan ook na ander partye oorgedra word. Versekering word algemeen deur produsente gebruik om risiko’s oor te dra. Haelversekering en insetversekering is ‘n kruk wat deur baie produsente gebruik word. Maak net seker dat daar aan al die voorskrifte van die versekeraars voldoen word en dat die versekeraars nie jou eis kan afwys weens swak boerderypraktyke nie.

Sommige produsente tree ook op as kontrakgroeiers en sodoende word die risiko’s in ‘n groot mate verskans. Hier moet jy seker maak dat jy in die winste kan deel en dat jy nie ‘n werknemer in jou eie boerdery word nie.

Prysrisiko’s is een van die gevaarlikste risiko’s wat produsente moet bestuur. Maak seker dat ‘n vloerprys in plek is en dat hierdie vloerprys altyd verdedig word. Deur die gebruik van die termynmark se opsies, kan pryse bestuur word.

Ons weet egter dat verskansing geld kos, maar so kos diesel ook geld. Verkry die nodige korrekte inligting en maak van hierdie instrumente gebruik.

Ontleed risiko

Jy as bestuurder moet dus elke risiko ontleed en besluit wat jy omtrent die risiko gaan doen. Sommige risiko’s moet geneem word omdat dit inherent tot die boerdery is. Dink hier veral aan ‘n droogte vir ‘n droëlandsaaiboerdery. As jy hier nie die risiko wil neem nie, kan jy nie plant nie.

Sekere risiko’s kan aanvaar word. Dink byvoorbeeld aan die effek van sprinkane in veral Bothaville. Dit het al voorgekom, maar die kans is baie laag. Ander risiko’s kan weer nie geneem word nie. As jy weet jy het nie terugbetaalvermoë nie, maar jy kan ‘n nuwe stroper gefinansier kry, sal dit dwaas wees om so ‘n transaksie aan te gaan.

Net so ook is daar sekere risiko’s wat ‘n produsent nie kan bekostig om nie aan te gaan nie. Dink maar aan die buurman wat sy grond aan jou aanbied teen ‘n baie bekostigbare prys. Jy weet jy sal ‘n lening moet aangaan en jy weet jy sal die paaiemente kan betaal; hier sal dit dwaas wees om nie die transaksie aan te gaan nie.

Deur weer te begin droom en jou drome met ‘n klankbord te bespreek en te beplan hoe jy dit gaan bereik, sal jy uitvind dat jy weer van jou werk hou. Nuwe uitdagings sal aangepak; geïmplementeer en gekontroleer word met die gevolg dat jou boerdery na hoër hoogtes neig.

Maak gebruik van kundiges, medeboere en studiegroepe om weer aktief na oplossings vir probleme te soek.

Indien jy verdere inligting verlang, kan jy gerus vir Pietman Botha by 082 759 2991 kontak.

Publication: August 2012

Section: Input Overview

Search