• Login
  • Search Icon

Dowwe sonneblompitte van die afgelope seisoen bly 'n raaisel

March 2015

ANDRÉ NEL, LNR-Instituut vir Graangewasse

Die 2013/2014-seisoen het almal verras. Sekere dele het die welbekende midsomerdroogte ondervind, maar uiteindelik het dit goed gereën. Sonneblom wat onder die droogte deurgeloop het, het bykans sonder uitsondering goed herstel en alles het baie belowend gelyk – tot met oestyd.

In baie gevalle was die opbrengs laer as wat verwag is. ‘n Groot deel van die oënskynlike groot oes het as dowwe pitte op die land agter die stroper oorgebly. Swak bestuiwing is aanvanklik as die skynbare rede vir die dowwe pitte beskou.

Die probleem het wyd kop uitgesteek en enkele gevalle is in Limpopo en die Vrystaat gesien, maar dit was meer opvallend en gelokaliseerd in die Noordwes Provinsie, veral in die Delareyville-, Schweizer-Reneke-, Migdol-produksiegebied. Aanvanklik is die vinger na sekere kultivars gewys wat veral die probleem getoon het, maar later het dit geblyk dat meer sonneblombasters van verskillende maatskappye ook deurgeloop het. Ook is aanplantings met verskillende plantdatums en ‘n variasie van produksie-omstandighede geraak.

Oorsaak

Dowwe pitte kom byna altyd by sonneblom voor, maar die hoeveelheid wissel van een geval na ‘n ander. Die literatuur noem dat tot 20% dowwe pitte nie ongewoon is nie, maar dit is gewoonlik nie so opmerklik nie omdat die res van die pitte daarvoor kompenseer. Die voorkoms van dowwe pitte gedurende die afgelope seisoen was egter bogemiddeld in sekere produksie-areas, wat dit duidelik maak dat die oorsake daarvan nagevors moet word. Dit is logies dat een of ander gebeurtenis of omstandigheid gedurende die blom- en graanvulperiode daartoe aanleiding moes gegee het.

Op die land kom die koppe normaal voor en is produsente nie altyd van die probleem bewus nie. Sodra daar egter gestroop word, is dit duidelik, maar om dan te probeer vasstel wat vroeër in die seisoen gebeur het, is haas onmoontlik. Leidrade bestaan teen oestyd nie meer nie. Tog kan daar na aangetekende navorsing gekyk word en die moontlike oorsake van dowwe pitte minstens beredeneer of afgelei word.

image

Moontlike oorsake

Insekte
Insekte kan op twee wyses betrokke wees as moontlike oorsake vir die probleem. Eerstens as ‘n moontlike plaag. Die Afrika bolwurm en koolvalslandmeter (looper) kom jaarliks voor en word in baie gevalle met insekdoders bestry. Dat hierdie insekte bydra tot die probleem van dowwe pitte is onwaarskynlik, maar dit is tog iets wat nie buite rekening gelaat moet word nie en toekomstige navorsing vereis.

Buisblomme op die kop wat nie bestuif nie gee gewoonlik aanleiding tot dowwe pitte. Insekte en veral bye en stuifmeelkewers speel 'n belangrike rol as bestuiwers. Die gebruik van insekdoders kan die bestuiwing en vrugvorming indirek beïnvloed as dit die bestuiwers doodmaak of afweer.

Voor die koms van basters in die 1970’s, het insekte ‘n belangrike rol in die bestuiwing van sonneblom gespeel. Moeite is dikwels gedoen om korwe by sonneblomlande te plaas sodat bye die bestuiwingsproses kon bevorder. Alhoewel moderne sonneblombasters selfverenigbaar is en dus self bestuif, speel insekte steeds ‘n klein rol in kommersiële sonneblomlande.

Die afwesigheid van insekte en bestuiwing, of insekte as plaag as die hoofoorsake van dowwe pitte die afgelope seisoen is dus onwaarskynlik, maar kennis moet daarvan geneem word en dit vereis ook verdere navorsing deur entomoloë.

Siektes
Siektes kan plante voortydig laat afsterf en die opbrengs ernstig benadeel. Houtskoolvrot het in die 2012/2013-seisoen skade aan mielies onder stremmingstoestande veroorsaak. Hierdie siekte is 'n groter probleem by sonneblom as wat dit by mielies is, dus is daar groot onsekerheid oor tot watter mate die oordrag-inokulum uit die vorige seisoen se mielielande, die opvolgsonneblom beïnvloed het.

Siektes wat die stuifmeel vernietig of die bestuiwings- en bevrugtingsproses direk benadeel, is onbekend, maar dat dit die beskikbaarheid van fotosintaat kan veroorsaak, is ‘n feit. Weer eens is dit onwaarskynlik dat siektes hier ‘n hoofoorsaak was, maar dit verg verdere navorsing en die evaluering van sonneblombasters vir weerstand teen die siektes, soos onder andere houtskoolvrot, is veral belangrik.

Boortekort
Boor is een van die noodsaaklike elemente by sonneblom, en tekortsimptome, soos nekbreek en misvormde koppe, bestuiwing en ook vrugvorming, is bekend. ‘n Boorgebrek kan swak bestuiwing en dowwe pitte tot gevolg hê aangesien die stuifmeel van plante met ‘n boorgebrek se lewenskragtigheid laag is. Die stempel word ook beïnvloed wat verder tot swak bestuiwing kan aanleiding gee. In 1981 is in Oliesade Nuus berig dat sonneblom in sekere gevalle vegetatief besonder goed gegroei het en hoë saadopbrengste verwag is. As gevolg van ‘n boortekort was ‘n hoë persentasie van die sade dof en uiterse swak saadopbrengste is behaal met ooreenstemmende groot finansiële verliese. Oesverliese as gevolg van 'n boortekort van meer as 60% is daardie betrokke seisoen in talle produksiegebiede waargeneem.

Alle sonneblombasters is sensitief vir boortekorte, maar daar is groot verskille in hul vermoë om boor op te neem. Die verskille verklaar dan ook moontlik tot ‘n mate waarom die dowwepitverskynsel meer by sekere basters as ander waargeneem is. Boortekort kan egter nie alleen as hoofoorsaak beskou word nie, want dit het gewoonlik ‘n interaksie met die heersende weersomstandighede. Ernstige boorgebrekke is bekend tydens droogte, maar dit blyk voorts dat dit ook onder besonder gunstige reën kan voorkom. In die 1981-seisoen is daar spesifiek melding gemaak dat die gunstige reën sterk vegetatiewe groei gestimuleer het, maar dat ‘n hoë persentasie (50% - 80%) ongevulde saad voorgekom het.

Die beskikbaarheid van boor onder sekere toestande en die boorbehoefte van moderne kommersiële sonneblombasters verg dringende verdere navorsing om die interaksies beter te verstaan en probleme in die toekoms te kan voorkom.

Fotosintaatvoorsiening
imageDie produk van fotosintese word kortweg fotosintaat genoem en bestaan uit suikers wat na die verskillende dele van die plant versprei word. Tydens graanvulling vloei van die fotosintaat na die sonneblomkop en word dit deur biochemiese prosesse tot olie, proteïen en ander bestanddele omgeskakel om die kern van die pit te vul.

Onvoldoende voorsiening van fotosintaat is ‘n baie bekende oorsaak van swak gevulde en dowwe pitte. In so ‘n geval is swak bestuiwing nie die oorsaak van dowwe pitte nie. Wat kenmerkend is van ‘n gebrek aan fotosintaat, is dat die dowwe pitte hoofsaaklik in die middel van die kop voorkom om ‘n dowwe kol te vorm.

Navorsing het getoon dat sonneblom wat onder skadunet gekweek word, se dowwepitgetal baie kan toeneem teenoor sonneblom wat in volle sonlig groei, veral as dit in die graanvulperiode plaasvind. Beperkte sonlig as gevolg van bewolkte weer, is een moontlike oorsaak vir dowwe pitte.

Alles dui daarop dat sonneblom oor die algemeen ‘n baie hoë sonligbehoefte het, veral in die blom- en graanvul-groeistadia. Wêreldwyd word dit in semi-ariede klimaatstreke verbou wat deur baie sonskyn en beperkte reënval gekenmerk word.

Die afgelope seisoen het relatiewe lang, nat, bewolkte periodes in die geaffekteerde areas voorgekom, wat moontlik langer geduur of ‘n bepaalde intensiteit oortref het as wat gewoonlik die geval is. Dié buitengewone humiede, bewolkte weer het waarskynlik ‘n groot rol in die dowwepitverskynsel gespeel.

Slotsom

Uit al die bogenoemde is dit duidelik dat die dowwepitverskynsel wat die afgelope seisoen in sekere areas waargeneem is, ‘n komplekse probleem is wat nie bloot net aan ‘n enkele faktor toegeskryf kan word nie.

imageDit dui eerder op ‘n sameloop van omstandighede in die onvoorspelbare natuur. Dit is noodsaaklik dat die saak uitgepluis moet word, want dit is slegs met voldoende insig in ‘n probleem, dat sinvolle oplossings gevind kan word.

Weer eens bevestig dit ook die belangrikheid van voortgesette landbounavorsing op verskeie van hierdie fokusareas in ‘n gewas soos sonneblom, wat so belangrik is in die Suid-Afrikaanse gewasverbouingstelsel.

Publication: March 2015

Section: Focus on

Search