• Login
  • Search Icon

Dít moet jy weet oor massahantering

July 2012

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Bemesting kan op meer as een manier gemeganiseer word. Eerstens kan jy die kunsmis in ‘n vloeibare vorm ontvang en dit dan as ‘n vloeistof toedien. Hiervoor moet die produsent oor genoeg gespesialiseerde opbergings- en vervoergeriewe beskik. Dit sal beteken dat opgaartenks en waens wat met tenks toegerus is, beskikbaar moet wees.

Losmaat kunsmis wat in groot sakke (500 kg of ton sakke) gesak word, is ook ‘n manier om die kunsmis meganies te hanteer. Verder kan die gewone 50 kg sakkies ook op pallette bestel word en op só ‘n mate word die kunsmisaanwending gemeganiseer.

image

Die regte toerusting

Ten einde die voordele van losmaat kunsmisaankope te ontsluit, is dit belangrik dat die regte toerusting hierdie proses moet vergesel. Dit sal beteken dat die kunsmis in groot sakke (500 kg of ton sakke) gesak word sodat dit meganies hanteer kan word. ‘n Goeie laaigraaf of vurkhyser asook ‘n kunsmismeng- of oorlaaiwa kan hier handig te pas kom.

Voordele

Die gebruik van losmaat kunsmis het op sy eie ook belangrike voordele. Arbeid word ongetwyfeld bespaar deur die kunsmis meganies te hanteer. Verby is die dae van ’n klomp arbeiders om die vragmotors afgelaai te kry en om die kunsmis in die planters te kry.

Vermorsing word ook verminder deurdat die groot sakke makliker pak en nie so maklik skeur as die klein 50 kg sakkies nie.

Verder weet ons dat die pallette met sakkies kunsmis as gevolg van die slegte paaie gereeld omval wat meebring dat die pallette oorgepak moet word en dat daar gereeld as gevolg hiervan verliese voorkom. Met die hanteer van die pallette kan dit ook gebeur dat van die sakkies afval wat tot verliese en beserings kan ly.

Groot produsente weet dat die opberging van die kunsmis regtig ‘n probleem kan raak.

Kunsmismeng- of oorlaaiwa

As daar slegs makrovoedingselemente aangekoop word, maak die gebruik van ‘n kunsmismeng- of oorlaaiwaens die werk baie makliker. Hierdie waens kan die kunsmis in afsonderlike kompartemente berg wat later as gemengde kunsmis of afsonderlik in die planters gegooi kan word.

Hierdie waens maak dit ook moontlik om van net een vurkhyser gebruik te maak omdat die kunsmis net by die stoor gelaai moet word.

‘n Meganiese kraan wat op die wa gemonteer is, maak dit moontlik dat die wa sonder hulp van ander toerusting gelaai kan word. Sodoende word die gebruik van ‘n vurkhyser tot die minimum beperk.

Tydens die plantproses, maak die meganisering van kunsmis ook sin. Die kunsmismeng- of oorlaaiwa het die vermoë om die verskillende bemestingstowwe apart te berg en in die regte verhoudings te meng.

Dit word gedoen deur die verskillende bemestingsoorte se invloei na die awegaar te stel sodat die regte verhouding bereik kan word. Die verskillende kunsmissoorte sal dan in die awegaar gemeng word en die regte verhouding gemengde kunsmis sal in die planter se bakke gegooi kan word. Die uitsak van verskillende soorte kunsmis word ook hierdeur beperk.

image

Awegaar

Aangesien die awegaar die hart van die meng- of oorlaaiwa is, is dit belangrik om seker te maak dat die awegaar só vervaardig is dat dit nie die verskillende bemestingstowwe beskadig of die kunsmiskorrels breek nie.

Dit is belangrik dat die awegaar van goeie materiaal vervaardig is sodat dit die slytasie en korrosie wat deur die kunsmis veroorsaak word, kan weerstaan. Aangesien die awegaar die koppelling tussen die mengwa en die planter is, is dit belangrik dat die awegaar lank genoeg moet wees om die kunsmisbakke maklik te bereik. Verder is dit belangrik om seker te maak dat die koppelstuk tussen die awegaar en die kunsmisbakke maklik verstelbaar en lig is.

Ten einde die staantyd van die planter te minimeer, moet die awegaar die vermoë hê om die kunsmis vinnig oor te laai. Gewoonlik word daar verwag dat so ‘n wa in die orde van 40 ton per uur moet kan aflaai. Die maklike en tydige stop van die awegaar is ‘n vereiste om te keer dat bakke té vol gemaak word en dat daar nie vermorsing voorkom nie.

Beskerm teen elemente

Indien daar van ‘n meng- of oorlaaiwa gebruik gemaak word, is dit belangrik dat die wa met ‘n seil toegerus is sodat die kunsmis teen die elemente beskerm kan word. Verder sal die seile help voorkom dat die kunsmis in die vervoerproses afval.

Ontydige reën en veral donderbuie, kom algemeen in planttyd voor en kan baie skade aanrig as waens op die land oop gevang word.

Kunsmis is bekend daarvoor dat dit toerusting en veral staal maklik laat roes. Daarom is dit belangrik om seker te maak dat die meng- of oorlaaiwa voldoende hierteen beskerm word. Maak seker dat die houers ook aan die binnekante beskerm word.

Gee hieraan aandag

Alhoewel hierdie waens gewoonlik net op die punte van die lande bly, moet daar seker gemaak word dat die bande groot genoeg is om in veral los grond te kan beweeg. As hierdie wa ook vir ander take gebruik gaan word, moet daar seker gemaak word dat dit aan hierdie vereistes sal kan voldoen.

Ander aspekte waaraan ook aandag gegee moet word, is die hoogte van die wa. Indien dit te hoog is, kan dit die laai van die wa bemoeilik, maar net so kan die planter as dit te laag is, nie noodwendig maklik gevul word nie. Maak dus seker wat benodig word en koop hiervolgens.

Die beweging en ondersteuning van die awegaar is net so belangrik. Een werker moet die awegaar kan oop- en toevou. In die toegevoude posisie moet die awegaar goed beskerm wees sodat dit nie maklik buig of beskadig word nie. Die awegaar moet so ondersteun wees dat die gewig van die awegaar, indien in werking, nie die wa en koppelpunte beskadig nie.

Hoër bestuursvereistes

Dit is belangrik om te weet dat daar met meganisering ook hoër bestuurs-vereistes gestel word. Die kans vir foute word meer en die gevolge kan baie groot wees. Dink byvoorbeeld aan die effek as stikstof en fosfaat per ongeluk omgeruil word. Maak dus seker dat die operateurs weet en verstaan wat waar gelaai moet word.

Publication: July 2012

Section: Input Overview

Search