• Login
  • Search Icon

Dit is blaarmynertyd - wat moet jy doen?

September 2014

GODDY PRINSLOO, LNR-Kleingraaninstituut

Blaarmyner is sedert 2000 teen woordig op koring wat in die Noord-Kaap onder besproeiing geproduseer word. Die vraag is, waar kom die insek vandaan en wat is die rede vir hul teenwoordigheid in koring en gars?

Die antwoord op die eerste vraag is maklik. Die blaarmynervliegie is ‘n inheemse insek. Dit is in 1959 vir die eerste keer met ‘n net versamel uit grasse langs die Gydopas naby Ceres. Daarna is nog voorbeelde versamel naby Giant’s Castle in KwaZulu-Natal en ook buite Maseru in Lesotho.

In 1992 het daar baie blaarmyners op ‘n paar spilpunte net buite Bergville voorgekom. Die infestasies het vir ongeveer drie jaar voorgekom en het daarna verdwyn. Gemynde blare kan steeds in dié area op koring gesien word, maar dit neem nie plaagafmetings aan nie en aangesien dit ‘n inheemse insek is, behoort dit onder biologiese beheer te wees.

Sedert 2006 kom dit ook op gars in die Noord-Kaap voor. Dit het aanvanklik as ‘n plaag tussen Prieska en Douglas posgevat en het sedertdien versprei na die meeste aanplantings al langs die rivier of tot by Bloemhof. Sporadiese voorkoms is ook tydens 2013 by Frankfort en Warden onder nat omstandighede aangeteken. Verlede jaar is dit algemeen aangeteken op spilpunte in die Noordwes-Vrystaat (Bultfontein, Hoopstad, Theunissen, Wesselsbron en Viljoenskroon). Die jongste berigte is dat blaarmyner in die Brits-omgewing sy opwagting gemaak het, maar dit kon nog nie bevestig word nie.

Die tweede deel van die vraag is moeiliker om te antwoord. Hierdie vliegie is ‘n grasmyner en sal nie breëblaarplante myn nie. Aartappels en ander gewasse het wel ook blaarmyners, maar dit is nie die selfde spesie nie en hulle biologie en gedrag verskil. Die koringblaarmyner oorleef ook op ander grasse, soos kanariesaadgras, reddingsgras, wilde hawer, raaigras en bloubuffelsgras. Die oorspronklike natuurlike gashere van die blaarmyner is egter nie bekend nie.

Meeste van die produsente is bekend met hierdie insek. Die volwassene is ‘n swart vliegie (Foto 1) van ongeveer 2 mm groot.

Die wyfie druk gaatjies met behulp van haar lêboor in die blare waarin sy soms eiers lê, terwyl sommige net vir voeding gebruik word (plantsappe wat uit die “wonde” lek). Larwes tonnel binne-in die blaar, vanaf die gaatjies en vernietig die bladgroen sover as wat hulle gaan (Foto 2). Die larwe verlaat ná ‘n sekere tydperk die blaar en vorm ‘n papie in die grond.

image

Verspreiding van blaarmyners

Daar word jaarliks aan die begin van September, wanneer die koring nog klein is en voordat bespuitings teen blaarmyner gedoen word, opnames deur die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) gedoen om ‘n aanduiding te kry van hoe wydverspreid hulle voorkom en hoeveel teenwoordig is op hierdie vroeë stadium. Tien, 1 m hale word met ‘n insekvangnet deur die koring in ‘n land gevee en die versamelde vliegies in etanol geplaas en in die laboratorium getel.

Die vlieggetalle verskil van jaar tot jaar, maar sekere areas is daarvoor bekend dat daar altyd baie vliegies teenwoordig is. So is die Tadcaster-, Springboknek- en Hartswater gebiede vir gereelde hoë besmettings bekend (Figuur 1 en
Figuur 2).

Ná ongeveer 30 dae broei dié papies wat in die grond gevorm het, uit. Alle papies broei egter nie uit nie en dié wat nie uitbroei nie, verkeer in ‘n rustoestand en kan oor ‘n periode van ongeveer tien maande uitbroei.

As die bewerkingspraktyke wat in die lande gevolg word in ag geneem word, maak dit nie sin dat daar sulke groot hoeveelhede vliegies só vroeg in die seisoen in die lande teenwoordig kan wees nie.

‘n Blaarmynerlarf is verlede jaar op ‘n mielieplant in die Bethlehem-omgewing gevind en die identifikasie daarvan is bevestig as ‘n koringblaarmyner. Onlangs is grond uit mielie- en sorghumlande in die Vaalharts-omgewing versamel en gesif en blaarmynerpapies het in beide lande voorgekom.

Die feit dat die blaarmyners ook op mielies en sorghum voorkom, verander die prentjie heelwat wat betref die oorlewing van die blaarmyner. Hulle voltooi dus een of meer siklusse in die mielies en sorghum en kan daarom in getalle opbou wat deur die winter kan oorleef en betyds uitbroei om in groot hoeveelhede in koring en gars op ‘n jong stadium voor te kom. Die voorkoms van die myners op mielies en sorghum sal in die komende seisoen bevestig word.

Hoeveel skade word deur blaarmyners veroorsaak?

Die skadelikheid van die blaarmyner is onlangs redelik in diepte bespreek en daarom gaan daar nie baie aandag hieraan gegee word nie. Uit die veldproewe wat gedoen is, het dit geblyk dat hoewel die blare erg gemyn kan wees, minimale skade aangerig word.

Daar word voorgestel dat die tabelle en grafieke wat in die Julie-uitgawe van SA Graan/Grain verskyn het, geraadpleeg word indien iemand dit oorweeg om te spuit. Hou dan ook veral dievolgende punte in gedagte wanneer daar aan ‘n bespuiting gedink word:

  • Moenie vaskyk in ‘n besmette kol in die land nie, maar kry ‘n totale prentjie van wat in die land aan die gebeur is. ‘n Kol is miskien 100% besmet en al die blare kan dood wees, maar hierdie kol maak miskien net 10% van jou land se oppervlakte uit.
  • As jy weet blaarmyner is in jou omgewing, deursoek jou lande, veral rondom vlagblaarstadium. Onthou die onderste blare word eerste gemyn en ‘n bespuiting kan nie skade ophef nie.
  • Deursoek die hele land, nie net ‘n klein kolletjie nie. Dit kan die moeite werd wees.
  • Maak seker dat jou insekdoder effektief toegedien word.

Vir verdere besonderhede, kontak dr Goddy Prinsloo by 082 875 3401 of prinsloogj@arc.agric.za.

Publication: September 2014

Section: Focus on

Search