• Login
  • Search Icon

Direkte plant proewe in Suid-Afrika deur Suid-Afrikaanse en Argentynse organisasies - 'n Oorsig oor die eerste jaar

September 2012

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

image

Na aanleiding van die ooreenkoms tussen Graan SA en die Argentina National Institute of Agricultural Technology (INTA), in samewerking met die Argentynse Kamer van Implementvervaardigers (CAFMA) en
Fundación Cideter (‘n stigting wat implementnavorsing en ontwikkeling en tegniese ondersteuning aan implementvervaardigers bied) is die eerste reeks direkte plant (no till in oesreste) proewe in Suid-Afrika
aangeplant.

Plaaslike insetverskaffers, naamlik Pannar, Syngenta, MBFi en Omnia, het die direkte insette vir hierdie amptelike proewe goedgunstiglik verskaf. Die landboubesighede se landboudienste-afdelings asook die
Landbounavorsingsraad het ook deel uitgemaak van hierdie proewe en gaan ‘n belangrike rol speel in die uitvoer asook die uitdra van die tegnologie.

image

Die doel van die stelselproewe is om:

  • Die direkte plant praktyke wat in Argentinië toegepas word teen die huidige Suid-Afrikaanse praktyke te toets; Die direkte plant praktyke wat in Argentinië toegepas word, pas te maak vir Suid-Afrikaanse omstandighede;

  • Die plantestand, kultivarvereistes en rywydtes te ondersoek;

  • Die optimale wisselbouprogram vir die stelsel te bepaal en die effekte te toets;

  • Seker te maak dat onkruide sinvol beheer kan word en wat met die onkruidpopulasie oor tyd gebeur;

  • Die Argentynse implemente wat beskikbaar is in Suid-Afrikaanse toestande te evalueer;

  • Die effek van die verandering op grondvrugbaarheid en beskikbarevog te bepaal;

  • Te kyk of dit in Suid-Afrika ekonomies haalbaar is om die direkte plant praktyk toe te pas; en

  • Inligting aangaande die uitkomste van die proewe op ‘n gereelde basis aan produsente beskikbaar te stel.

Daar is ooreengekom om vier amptelike proewe wat ten minste oor ‘n periode van vyf jaar strek, op die volgende plekke aan te plant, naamlik:

  • Nigel – wat die koeler oostelike gedeelte van die land verteenwoordig;

  • Lichtenburg – wat die warmer westelike gedeelte verteenwoordig;

  • Odendaalsrus – wat die watertafelgronde verteenwoordig; en

  • Settlers – wat die Springbokvlakte en swaar turfgrond verteenwoordig.

Ongelukkig kon die proef in Odendaalsrus nie aangeplant word nie omdat dit net te veel tydens Desember en Januarie gereën het. Daar is egter ‘n paar ander proewe ook aangeplant, naamlik by:

  • Wonderfontein;

  • Bultfontein – op die sand- en watertafelgronde; en

  • Die LNR-IGG by Potchefstroom.

Ten einde hierdie doelwitte te bereik, is besluit dat ‘n proef ongeveer 10 ha groot sal wees. Die proewe bestaan uit ‘n konvensionele gedeelte wat die medewerker se bestaande praktyk insluit en dan die direkte plant soos deur die Argentyne voorgestel. Wisselbougewasse is ook ingesluit en bestaan uit sonneblom, sojabone asook permanente aangeplante weiding.

In die direkte plant gedeelte is ‘n enkelkoppige, enkelstammige mielie-kultivar teen verskillende plantestande aangeplant. Die rywydtes het ook gevarieer en die volgende rywydtes is aangeplant, naamlik:
0,52 m rye, 0,9 m rye, 1,5 m rye asook ‘n 2,4 m ryspasiëring. Die sonneblom- en sojaboonaanplantings het verskillende kultivars met verskillende groeilengtes asook verskillende plantestande ingesluit en is ook in 0,52 m en 0,9 m rye aangeplant.

Die plantestand van die mielies in die direkte plant gedeeltes, het vanaf 37 000 tot so hoog as 80 000 gewissel. Dieselfde bemestings en onkruiddoderprogram is by alle gewasbehandelings per lokaliteit toegepas.

image

Grondversteuring

Van die staanspoor was daar baie verskille tussen die konvensionele stelsel en die Argentynse direkte plant stelsels. Die eerste waarneming was rondom die grondversteuring. Die Argentynse planters het merkbaar minder versteuring van die grond veroorsaak. Tog het die turbokouters die grond genoeg versteur sodat die saad op die regte diepte in die grond geplaas kon word. Wat verder opvallend was, is hoe gelyk die land was nadat dit met die Argentynse planters geplant is.

Opkoms en plantestand

Dit was opvallend om te sien hoe gelyk die gewasse wat met die Argentynse planters geplant is, opgekom het en hoe presies die plante gespasieer was. By die meerderheid van die proewe was die direkte plant mielies op dag agt reeds 97% op, in vergelyking met die konvensionele stelsel waar dit tot elf dae geneem het om 95% stand te kry.

Onkruidbeheer

Die hoë plantestand met die nouer rye was onkruid se moses. Die oorskadu-effek was net te groot en die laat ontkiemende onkruide het die wind van voor gekry. Tog was dit ook opvallend hoeveel meer onkruide daar in die bewerkte gedeeltes opgekom het, ongeag of die onkruiddoder toegedien is.

Interessante waarnemings

Baie interessante waarnemings kon ook uit die lug gemaak word. By die proef op Nigel is gesien dat die kleur van die gewasse baie tussen die behandelings verskil; dit het amper gelyk of verskillende kultivars aangeplant is. Die oorsaak hiervan was dat veral die mielies se fisiologiese vordering tussen die behandelings verskil het. Die laer plantestand was vinniger tot blom as die hoër plantestande en daarom die kleurverskille.

image

Tydens die wortelondersoeke was daar ook opvallende verskille tussen die stelsels. Die konvensionele stelsels se wortelverspreiding was oor die algemeen dieper as die direkte plant stelsels en daar was by die direkte plant 'n opmerklik groter konsentrasie van wortels in die boonste vrugbare gedeeltes van die grond as by die konvensionele stelsels.

By die proef op Bultfontein op die watertafelgronde is daar 'n baie interessante waarneming gemaak. Die proef is op 'n blok geplant waar daar geen chemiese regstellings gemaak is of verdigtingslae opgehef is nie.

Dit was ook 'n besondere droë jaar en die gevolg was dat die wortels nie deur die verdigting kon beweeg nie. Op die vorige jaar se ripperrye, het die wortels wel die vorige gewas se wortels gebruik om by die water uit te kom.

By 'n ander produsent, ook in die Bultfontein-omgewing, is 'n ander baie interessante waarneming gemaak. Die produsent het die vorige seisoen die land goed bewerk en alle verdigting opgehef en met koring beplant. Die koring is gestroop en direk met mielies opgevolg wat met 'n direkte plant planter geplant is.

Die mieliewortels kon wel die ou koringwortels kry en het met hulle gevorder tot in die water. Daar kon geen verskil in opbrengs tussen die bewerkte en nie-bewerkte gedeelte gesien word nie.

image

Oorskadu-effek

Die oorskadu-effek het ook besondere waarnemings veroorsaak. Die eerste het te make gehad met die hoeveelheid vog beskikbaar vir die gewasse. Hoe hoër die oorskadu, hoe meer vog was vir die plante beskikbaar.

Alhoewel die vogstudies nog nie afgehandel is nie, kon die waarneming gemaak word dat daar meer vog in die bogrond by die hoër plantestande waargeneem kon word. Daar word algemeen verwag dat dit baie warmer moet wees waar die plantestand hoër is. Interessant dat hoe hoër die plantestand, hoe laer is die temperatuur op die grond. Hierdie waarneming is gemaak deur temperatuurmeters wat op die grondoppervlakte aangebring is. Die verskille het gevarieer, maar die hoër plantestand behandelinge was regdeur die tyd laer.

Die belangrikste waarneming was dat hierdie direkte plant sisteem iets in hom het. Gegewe hierdie moeilike jaar, was daar baie goeie stroperresultate gewees. Dit bly egter 'n ope vraag of die resultate volgehou kan word, maar dat daar iets in steek, is gewis. Die resultate het almal betrokke geskok en was gegewe die jaar ongelooflik goed. Om 'n rekord vir die plaas op te stel en dít sonder om te bewerk, wil gedoen wees.

Kultivarverskille

Daar is ook kultivarverskille in die stelsel waargeneem. Nie al die kultivars presteer dieselfde nie. Sommige kultivars sal verseker nie in hierdie sisteem pas nie. Nog baie werk sal hieroor gedoen moet word.

Trekker- en planterkombinasie

Nog 'n waarneming wat gemaak is, gaan oor die trekker- en planterkombinasie. Die trekker en die planter moet by mekaar pas, 'n te swaar en te groot trekker veroorsaak dat die rye wat in die wielspore geplant word, nie behoorlik wil groei nie.

image

image

image

Met die aanplant van die proef by die LNR-IGG was 'n ligte, klein trekkertjie gebruik met net die nodige belading om die planter te trek. Die gevolg hiervan was dat daar nie regtig wielskade waargeneem kon word nie, terwyl daar by die ander proewe groot verskille waargeneem kon word.

Dit is ook belangrik om te sorg dat die turbo-kouter reg gestel is. Die turbo-kouter moet deur die eerste paar verdigtingslae kan sny sodat daar 'n dieper voor is waarin die wortels kan ontwikkel. Die jong wortels van veral sonneblom en sojabone is geneig om maklik te draai as daar nie vir hulle ruimte is om in te ontwikkel nie.

Boeredae

Daar word beoog om boeredae by al die proewe te hou om sodoende die inligting meer sinvol weer te gee. As daar enige vrae is, kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

 

Publication: September 2012

Section: Input Overview

Search