• Login
  • Search Icon

Dieresiektes wat die mens aantas
Deel 4: Soönotiese tuberkulose

June 2018

DR JAN DU PREEZ, veterinêre spesialis: Volksgesondheid

Besmette beesmelk en melkprodukte met Mycobacterium bovis-bakterieë wat nie gepasteuriseer is nie, is die hoofbron van besmetting by die mens wat beestuberkulose veroorsaak. Buffelmelk wat met die bakterieë besmet is, kan ook ‘n bron van besmetting by die mens wees.

Inleiding
Beestuberkulose is ‘n direkte antroposoönose (siekte of besmetting wat primêr by die dier voorkom en natuurlik na die mens oorgedra word) en word veroorsaak deur die bakterie M. bovis, wat hoofsaaklik in beeste, maar ook in wild (veral buffels) en vleisetende diere voorkom. 

Die siekte het oorgespoel na wild (byvoorbeeld buffels, elande en bosbokke), vleisetende diere (leeus, hiënas, luiperds en jagluiperds) en ander diere, soos bobbejane, vlakvarke, koedoes en rooibokke. Die besmetting mag oorgedra word na ander vee- en wildsoorte wat in noue aanraking met aangetaste beeste leef en na roofdiere wat besmette prooi vreet. 

Hierdie bakterieë veroorsaak ‘n relatiewe klein persentasie (minder as 2%) van tuberkulosegevalle by die mens. Die meeste gevalle van tuberkulose (meer as 90%) by mense word deur Mycobacterium tuberculosis veroorsaak (menstuberkulose). Mycobacterium bovis-tuberkulose by mense het drasties verminder oor die jare weens doeltreffende siektebeheer by beeste en pasteurisasie van beesmelk. 

Tuberkulose wat by die mens voorkom, kan die dier besmet. Wêreldwyd word jaarliks miljoene nuwe M. tuberculosis-besmettings aangemeld. Hierdie siekte is een van die belangrikste besmetlike siektes wat mense wêreldwyd laat sterf. Na raming is gedurende 2016 meer as 1,6 miljoen mense wêreldwyd dood aan tuberkulose, waarvan 374 000 sterftes mense was wat menslike immuniteitsgebrekvirus (MIV)-positief was. Van die 374 000 sterftes was 180 000 van Suid-Afrika. 

Tuberkulose by mense kan voorkom en beheer word. Die siekte is ‘n toonaangewende siekte onder MIV-positiewe mense. Omdat tuberkulose wederkerig tussen die dier en die mens oorgedra kan word, staan dit bekend as ‘n amfisoönose. Gedurende 2016 was daar na raming 10,4 miljoen nuwe tuberkulosebesmettings wêreldwyd, waarvan ongeveer 1 miljoen kinders was.

Ander name
Ander name waaronder tuberkulose by mense bekend staan, is phthisis (Grieks), consumption (Latyn), scrofula, Pott’s disease en white plague.

Hoe doen ‘n mens die besmetting op?
Nie almal wat met M. bovis asook M. tuberculosis besmet word, word siek nie. Persone wat besmet word en nie siek is nie, het ‘n verborge of onsigbare tuberkulosebesmetting. Hierdie besmette persone voel nie siek nie, het geen siektetekens nie en kan nie die tuberkulose na ander persone versprei nie. 

Daar is wel sekere persone met die latente tuberkulose wat siek kan word. Ongeveer een derde (2,47 miljard) van die wêreld se bevolking (7,5 miljard) het latente tuberkulose, waarvan die oorgrote meerderheid besmet is met M. tuberculosis

Die meeste persone word besmet met M. bovis deur die drink of eet van besmette ongepasteuriseerde melk of melkverwerkte produkte. Die bakterieë kan die mens besmet deur direkte kontak met tuberkuloseletsels tydens nadoodse ondersoeke op beeste of ander diere (byvoorbeeld buffels, koedoes, leeus en vele meer) deurdat hulle die liggaam binnedring deur snytjies of wonde. 

Inaseming van bakterieë van uitgeasemde besmette lug van die dier kan die mens besmet. Direkte besmetting vanaf diere na die mens deur besmette luginaseming (druppelbesmetting) is raar. Oordrag van M. bovis-bakterieë van mens-na-mens kan plaasvind deur inaseming as besmette persone nies of hoes. 

Tuberkulose: Beroepsiekte 
Persone wat weens hulle beroep aan die siekte blootgestel is, is dierehanteerders, abattoir- en slaghuiswerkers, veeartse, asook persone wat op melkplase, wildplase, voerkrale en vleisbeesplase werk. Persone wat rou melk en verwerkte melkprodukte wat ongepasteuriseer is inneem, val in die hoë-risikogroep-mense wat M. bovis-besmetting kan opdoen. Mense wat MIV-besmet is, het ‘n 20 tot 30 keer groter kans om tuberkulose op te doen as mense wat nie MIV het nie.

Persone wat ‘n hoë risiko vir M. bovis-tuberkulose loop, behoort gereeld siftingstoetse vir tuberkulose te onder­gaan. Longradiografie word gebruik om tuberkulose in mense te diagnoseer. Siftingstoetse vir diere sluit tuberkulienveltoetse en bloedtoetse in.

Siektetekens in mense
Nie alle M. bovis-besmettings by mense veroorsaak tuberkulose nie en gewoonlik het hulle geen siektetekens nie. Persone met tuberkulose weens M. bovis of M. tuberculosis het koors, hoes, nagsweet en gewigsverlies. 

Ander siektetekens kan voorkom afhangende van watter organe en liggaamsdele aangetas is. Met longaantasting hoes die persoon gewoonlik en as die dermkanaal aangetas is, kan die persoon diarree of buikpyn hê. 

Behandeling
Tuberkulose wat veroorsaak word deur M. bovis by die mens, word gewoonlik dieselfde behandel as M. tuberculosis-gevalle by mense. Tuberkulose by mense word gewoonlik met kombinasies van verskillende antibiotika behandel. Sonder tuberkulosebehandeling kan die siekte fataal wees.

Voorkoming en beheer van M. bovis in die mens
Gebruik net gepasteuriseerde melk of melk wat ander effektiewe hittebehandeling ondergaan het en gebruik net sulke melk in die vervaardiging van melkprodukte. Vermy kontak met beeste, wild en ander diere wat tuberkulose het. Tuberkulose is ‘n staatsbeheerde dieresiekte in Suid-Afrika kragtens die Wet op Dieresiektes (Wet no. 35 van 1984).

Vir meer inligting hieroor, kontak dr Jan du Preez by drjanh.dupreez@gmail.com of besoek www.zoonoses.co.za.

Publication: June 2018

Section: On farm level

Search