• Login
  • Search Icon

Diens planters vir optimale plantestand

October 2018

ANDRIES BOTHA, tegniese bestuurder, Cerealis Precision

Die doel van ’n planter is om saad en kunsmis eweredig teen ’n bepaalde hoeveelheid oor ’n land te versprei. Die planter bepaal die oespotensiaal van ’n land tydens planttyd; daarom is die instandhouding, diens en herstel van planters essensieel. 

Dit is krities dat planters sonder uitdagings deur die plantseisoen heen kan funksioneer. Daar moet ook na die fyner detail gekyk word, sodat die planter optimaal kan werk. Enige verstelling aan ’n planter nadat daar geplant is, kan tog nie die potensiaal verbeter nie?

Onthou dat ’n planter ’n presisiemasjien is en daarvolgens bestuur moet word. Daar is paar belangrike aspekte van ’n planter wat aandag vereis voordat ’n mens begin plant.

Saaduitmeetmeganismes
Die belangrikste is die saaduitmeetmeganismes. Dit is die hart van enige planter. Laat dit deur ’n kundige persoon diens. 

Uitmeetmeganismes kan met MeterMax-kalibrasietoetsbanke getoets word om die regte plantestand, plantspoed en ook foute (byvoorbeeld mis-pitte en dubbel-pitte) te bepaal. Daar kan ook seker gemaak word dat die saadgroottes wat gebruik word, akkuraat geplant word. Dit is bewys dat die akkuraatheid van uitmeetmeganismes met tot 10% kan verbeter as hulle op ’n MeterMax getoets en verstel is. 

Alle geslyte onderdele behoort vervang te word om seker te maak dat die uitmeters die plantseisoen sonder uitdagings sal kan deurgaan. Neem die uitmeetmeganismes en genoeg van die betrokke saad wat jy wil plant vroegtydig na ’n MeterMax-verteenwoordiger om dit te laat toets.

Hoogte van die planterbalk
’n Planterbalk se hoogte van die grond af is ook belangrik. Dit beïnvloed hoe die plantereenheid oor die grond beweeg. 

Die parallelarms van die plantereenhede moet horisontaal met die grond wees. Maak ook seker dat die busse nie geslyt is nie en dat die boute goed vas is. 

Afdrukvere se werking word deur balkhoogte beïnvloed en ook hoe glad of egalig die ry-eenheid oor die grond beweeg. As die planterbalk te hoog is, sal die vere nie die ry-eenheid stewig genoeg met die grond laat kontak maak nie. As die planterbalk te laag is, sal die vere weer te veel druk op die grond (en gevolglike grondverdigting) veroorsaak.

Planterbalk
Tesame met die balkhoogte, moet produsente hul vergewis van hoe hoog die plantersleepstang aan die trekkerhaak gehaak is. Dit beïnvloed die oriëntasie van die ry-eenheid. 

Die planterbalk moet ongeveer waterpas met die grond loop. Dit verseker dat die vooroopmakers die regte diepte handhaaf en die saadbuis teen die regte hoek aan die ry-eenheid sit. 

As die planterbalk na vore oorleun, kan die plantdiepte te diep wees, die toedrukwiele aan die agterkant kan dan ook nie korrek funksioneer nie en die toedruk-aksie sal nie behoorlik plaasvind nie. 

Die saad sal ook nie “vryval” deur die saadbuis nie: Dit sal die kante daarvan tref, wat dan die saadspasiëring sal benadeel.

Aandrywings
Gaan alle kettings, laers en ratte vir slytasie na. Kettings en laers wat geroes, styf en geslyt is, moet vervang word. 

Afwykings of rukkerigheid in die aandrywing veroorsaak swak werkverrigting van die uitmeetmeganismes – wat weer tot ’n swak plantestand en -spasiëring lei. 

Banddruk van planterwiele en van kontakdryfwiele is uiters belangrik en moet volgens plantervervaardigerspesifikasies gepomp wees.

Saadskottels
Gaan die saadskottels (coulters) na. Laers is een van die swak punte en daarom moet dit goed nagegaan en vervang word – indien nodig. Die onderste kontakpunt, waar die twee skottels aan mekaar raak, moet tussen 25 mm en 40 mm wees. Verstel deur van die spasieerders agter die skottel te verwyder. 

Die deursnee van die skottel self moet nie kleiner as 370 mm wees nie; vervang die skottels indien dit wel die geval is. Neem ook die hoeveelheid hektare wat geplant moet word in ag: Die skottels moet die plantproses kan deurstaan. As die skottels se deursnee te klein is, kan dit veroorsaak dat die saadvoor nie reg gevorm word nie, die diepte van die saadplasing beïnvloed word, daar grond tussen die skottels inbeweeg en die skottels mag “aanpak” en nie draai nie. 

As grond/klei wat aan die buitekant van die skottel aanpak ’n uitdaging is, gebruik dan skrapers met verharde wolframkarbiedsnyvlakke wat betreklik lank kan hou.

Saadbuise
Gaan ook die saadbuise na vir slytasie en beskadiging – veral aan die onderste punte en waar die sensors geplaas is. Die saadbuis het ’n groot invloed op die plasing van die saad in die saadvoor. Slytasie kom gewoonlik aan die onderpunt van die saadbuis voor. Vervang dit as dit nodig is.

Toetrapwiele
Kyk na die toetrapwiele. Vervang busse wat geslyt is, sodat die planterstert met die toetrapwiele stewig is en nie heen en weer skommel nie. Dit sal verseker dat die saad goeie saad/grond-kontak het, wat vinnige wateropname deur die saad sal verseker. 

Gaan dan ook die sporing van die toetrapwiele na. Laat sak die planter en sleep dit op ’n harde oppervlak ’n paar meter vorentoe en kyk dat die streep wat die saadskottels maak, presies in die middel van die toetrapwiele is. 

Dit kan raadsaam wees om van die rubberwiele met staal speekwiele te vervang, om enige smeerlaag of kompaksie wat die dieptebeheerwiele of saadskottels mag veroorsaak, op te breek vir beter wortelontwikkeling. 

Saadvasdrukkers kan ook geïnstalleer word om pitte op die dieselfde diepte te verseker, goeie saad/grond-kontak te verkry en ’n meer egalige opkoms te verseker.

Ryskoonmakers
Oorweeg die gebruik van ryskoonmakers waar ’n groot volume materiaal geplant word. Ryskoonmakers – veral dié tipe wat vry beweeg en deurentyd die kontoer van die grond volg – kan aan elke ry geïnstalleer en só gestel word sodat dit net materiaal en nie grond wegvat nie. 

As nat grond bo lê, kan dit veroorsaak dat dieptebeheerwiele aanpak en die plantdiepte verander.

Plantermonitor of beheerstelsel
Die plantermonitor op die planter is van kardinale belang sodat ’n mens weet wat met die plantproses gebeur. Gaan na of van die bedrading nie beskadig is nie en indien wel, herstel of vervang dit. 

Maak die saadbuise en saadsensor-ogie deeglik skoon. Daar is heelwat stof en spinnekoprakke in die saadbuise nadat die planter vir ’n seisoen gebêre is. As daar ’n radarpuls vir spoed gebruik word, vergewis jouself daarvan dat dit reg gekalibreer is. Stel vas of die monitor reg vir die planter, rywydte, aantal rye en beplande plantestand opgestel is.

Goeie boerderypraktyke bly steeds van uiterste belang om optimale opbrengs te verseker. Met ’n goed gedienste planter sal die plantproses voorspoedig verloop. 

Skakel die outeur by 018 632 0362 vir navrae in dié verband.

Publication: October 2018

Section: On farm level

Search