• Login
  • Search Icon

Die winde van mahala

November 2010

Beste Grootneef

Ons sal nie nee dankie se vir ‘n goeie bui reen nie. Met die Augustus-winde wat eers behoorlik in September by ons uitgeslaan het, lyk dit of die hele seisoen amper ‘n maand aanskuif. Die weerprofete praat van ‘n goeie tot gemiddelde reenjaar, so ons hou nog moed.

Dit is veral die winterbrande se letsels wat reën kort. Die vee bly mos al op die nuwe groen spruite en vreet die botsels tot in die grond in. Moeilikheid is, dit reen nie gras nie – die veld vat maar ‘n paar weke om reg te kom. As die nuwe veld net teen Desember genoeg kos vir die vee kan gee…

Ek herkou die laaste paar weke oor die winde van mahala wat deur ons land waai. Die gees van iets vir niks – asof die wêreld ons iets skuld. Hoor bietjie hier, nogal heel oulik die kinders van vandag. Eis mos ‘n mahala 20% punte voor hulle aan ‘n pen vat vir die rekordeksamens. En sommer moerig daaroor as daar nie aan die eis voldoen word nie…

Nou reken ek so: die slaagsyfer vir gewone vakke is mos deesdae 30% en 40% vir tale. As die staat nou 20% mahala bygee, hoef die span net 10% met eie moeite bymekaar te skraap en siedaar, dwarsdeur! Vir tale sal die poging moet verdubbel. Praat van ‘n punt vir ‘n punt-stelsel. Met net 10% nodig om uiteindelik te slaag, is ‘n “G” vir houtwerk eintlik nie so sleg nie.

Die eintlike som is egter dat as die ding so sou werk, die kinders met 90% se onkunde spog! Die verdere vraag, as jy nou nie 20% se mahala-punte kry nie en die vraestel daaroor opskeur of die skool afbrand, wie spite jy nou eintlik? Dis mos soos om jou eie agterent te skop! ‘n Regmerkie vir die onderwysowerhede wat nie vir die een geval het nie. Maar, waar leer die kinders in elk geval sulke goed aan? Seker maar by hul onderwysers wat in die vorige maande gewys het hoe om te staak. Wat se die spreekwoord, wat jy saai sal jy maai!

Die mahala-winde verlam egter oral oor. Nie ‘n dag gaan verby dat daar nie nuusberigte van munisipale of staatsamptenare is wat eenvoudig nie hul pligte nakom nie, maar steeds goed daarvoor betaal word. Op die kassie lyk dit soms soos voor ’94, soos wat mense protesteer oor dienste wat bloot nie gelewer word nie.

‘n Mens verwag tog dat onse leiers op ‘n stadium sterk standpunt hierteen sal inneem en nie bloot in vae terme na “diesulkes” verwys nie, maar sommer reguit praat en die skoolkinders en die mahala-geesvangers aanspreek om van hul jis af te klim en te doen wat hul behoort te doen. Skouer aan die wiel is tog die enigste manier, nie die  verlammende gees van mahala nie.

Maar genoeg hiervan. Ek lees ander dag ʼn mooi ding raak. 22 lande uit Afrika nooi Suid-Afrikaanse boere om daar te kom wortel skiet. Die 22ste land is sommer net oorkant die rivier – Namibie nooi boere om hul kundigheid te kom deel langs beide die Oranje en die Kunene.

Tans loop die Oranje en die Kunene se waters wat nie gebruik word nie eenvoudig stroomaf see toe. Kerels, het jul al gedink wat kan gebeur as die ding vonk vat en ‘n klompie Vrystaters en Oewerboere begin mielies en wat nog aan die Namibie-kant van die Oranje produseer? Oppas dat Namibie nie die nuutste uitvoerder van mielies Kaap toe raak nie!

Aan die Noorde van Namibie loop massas water die Kunene af. Ons het in Julie met ‘n boot op hom gevaar – daar is water. Baie. Die noordelike Afrika-mark le weer teenaan die Kunene. Dit sal egter moeiliker wees om ʼn boerdery daar aan die gang te kry as teen die suid-oewer van die Oranje. Tydens ons besoek in Julie was daar nie juis sprake van landbou-infrastruktuur in die noorde nie, maar as daar in die ou dae tenks en ratels tot teen die Kunene geskuif kon word, kan mieliesaad en kunsmis seker nou dieselfde roete volg?

Die hoofpad tot by Ruakana lyk nog goed. Die grondpaaie langs die rivier af sal egter lol. Hoe dit ook al sy – hier is ‘n unieke geleentheid om nuwe landbouwortels te skiet in ‘n Afrikaland waar bykans oral nog Afrikaans gepraat word.

Volgens Agri SA is meer as 10 000 Suid-Afrikaanse boere reeds aktief in Mosambiek, Botswana, Malawi, Zambie en Kenia. Vraag: Wat van oesskattings en SAGIS-syfers vir hierdie gebiede? Dalk nie so vergesog nie – as graanproduksie met ‘n klompie Vrystaters daar posvat, sal ons hier in die suide dit beslis in ons eie produksiebeplanning moetverreken. Ons voer vanjaar hoeka minder mielies uit na die res van Afrika.

Ou Neef, wat sien die res van Afrika se staatshoofde, 22 om presies te wees, in ons klompie boere hier aan die suidpunt van Afrika, wat ons eie owerheid dan so sukkel om raak te sien? Het dit dalk iets met voedselsekuriteit te doen?

Geluk aan die vaandeldraers by hierdie jaar se Graanprodusent van die Jaar plegtigheid. Ou Neef, hulle mag maar. Nie net is hul in eie reg puik boere nie, maar is elkeen ook betrokke in hul onderskeie gemeenskappe. Lig die hoedens hoog kerels, hier is manne wat ons trots maak met wat hulle in hul leeftyd vermag het. ‘n Heildronk ook op hul goeie gades – sonder daardie steun sal ʼn man maar sukkel.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: November 2010

Section: E-mails

Search