• Login
  • Search Icon

DIE WIEL DRAAI - DIE SKOEN IS NOU AAN DIE ANDER VOET

July 2012

image

‘n Tyd gelede het ek die een en ander geskryf oor die magsbasis wat aan die verander is. Dit is nie net op globale vlak waar die ontluikende markte die pas begin aangee nie, maar ook op plaaslike vlak waar die magsbalans van kopers na verkopers begin skuif.

Soms steek ‘n mens jou nek uit en maak ‘n paar waarnemings bekend en glo jy is reg, maar gedurende die onlangse langnaweek het Vryheidsdag ‘n bevestiging hiervan gebring.

‘n Volgende Chinese afvaardiging het die Wes-Kaap kom besoek om, nie wat nie, maar koring te kom koop! Ons was besonder beïndruk met die huiswerk wat hulle gedoen het. Graan SA wou nog verduidelik van ons kwaliteit ensovoorts, toe noem hulle dat ons gehalte met dié van USA Dark Northern Spring en die Canadian West Red Spring vergelyk.

Dit is geskik vir hulle vier- en vyfster hotelle, terwyl die standaardkwaliteit koring na ander plaaslike Chinese markte gaan. Dit was behoorlik musiek in ‘n Wes-Kaapse produsent se ore. Die werk wat Graan SA verlede jaar gedoen het toe die Chinese ons besoek het, het beslis vrugte afgewerp.

China beoog groot beleggings om die Saldanha hawe op te grader om natuurlik die voorsiening van minerale te verseker, maar dan is daar ook die oorspoelvoordele vir die graanbedryf. Verder het hulle ‘n hele aantal beurse beskikbaar gestel om in die kundigheid van ons mense te belê.

Gedurende Aprilmaand het Graan SA ook ‘n nuwe koringtariefaansoek ingedien en ‘n ernstige beroep op die staat gedoen om iets daadwerkliks aan die beleid te doen (in hierdie geval die tariefbeleid), om voedselsekerheid ten opsigte van koring te verbeter.

Alle aanduidings is dat ons koringaanplantings die laagste in baie dekades gaan wees. Met addisionele nuwe, potensiële groot kopers op ons voorstoep, is die dinamika beslis aan die verander. Indien ons ‘n gunstige verandering in die koringtarief gaan kry asook kopers wat Suid-Afrika se koring wil prys vir die kwaliteit wat dit werd is, gaan die poppe beslis begin dans!

‘n Deel van die uitdaging is natuurlik om nie onverantwoordelik op te tree nie. Aan die een kant is daar die mark (deels tydelik en deels permanent) wat bloot die graan verkoop aan die hoogste bieër en aan die ander kant is daar ‘n plaaslike mark wat meer permanent is en wat deel vorm van Suid-Afrika se voedselsekerheid.

Die balans tussen ‘n hoë koringtarief om plaaslike produksie te stimuleer en sodoende voedselsekerheid te verseker, sal beslis geweeg word teen winsgewende uitvoere van graan na ‘n wêreld wat alewig hongerder word. Ek is versigtig optimisties dat hier ‘n verandering in die windrigting is wat die wintergrane betref, wat dalk vir die eerste keer in dekades na die vet jare kan verwys. Alhoewel dit toekomsmusiek is, bring dit tog ‘n vars bries van hoop vir die sukkelende koringbedryf.

As Graan SA die gekodifiseerde boodskappe in die diplomatieke gange reg interpreteer, gaan Julie 2012 die maand wees waarin die Suid-Afrikaanse en Chinese protokolle vir mielies geteken gaan word.

Ons Minister se besoeke aan China het baie besliste voordele vir Suid-Afrika se graanbedryf opgelewer. Dit wil ook voorkom asof Suid-Afrika se huidige surplus sojabone ook in die toekoms deel van die ooreenkoms gaan word.

Dit laat my terugdink aan my laerskooldae se sportliedjie, “Dis lekker om ‘n graanboer te is, te is!”

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: July 2012

Section: Editorial

Search