• Login
  • Search Icon

Die weer is deurmekaar

February 2014

– Februarie 2014

image

Beste Grootneef,

Die somerreën het eintlik eers net voor Kersfees in ons geweste begin val. Begin Desember was die veld nog vaal en kaalgevreet en het die vee regtig swaar gekry. Die grootste geskenk was die reën in die week voor Nuwejaar. En tipies Vrystaat, het die rooigras- en borseltjievelde binne twee weke uitgeloop. Die beeste lê nou vroegmôre al by die dam en herkou – dik gevreet aan die milde weiding.

Ou Neef, verlede week sien ek op een bladsy in die Volk se blad twee berigte van twee kante van die aardbol, maar met baie raakpunte. In Australië het hulle in die hinterland temperature van 50°C en meer opgeteken, op sommige plekke die hoogste temperature sedert dit gemeet word. (Seker een van die redes waarom die Ingelse krieketspan in die land van die Aus verwelk het!) Aan die anderkant van die planeet lees ek weer van die ongelooflike koue in die noordelike deel van die VSA en Kanada. Die grootste waterval op aarde, die Niagra Valle, het plekplek verys! Nou moet jy weet, as só 'n massa vallende water in ys stol, is dit selfs vir ysbere koud. Temperature van -33°C is in 'n dorpie "Hell" in Michigan gemeet! Waar die plek sy naam gekry het (in sulke koue), kan 'n mens net raai...

Op die oog af het die Aussies se hitte en die Yanks se koue niks met mekaar te doen nie. Behalwe dat dit ekstreme weersomstandighede weerspieël en sommige wetenskaplikes skryf dat dit die gevolge van aardverwarming is.

In die wêreldwye debat oor aardverwarming, is reeds baie gesê oor die mens se rol al dan nie, om die weer so deurmekaar te maak. Sommige wetenskaplikes sê die weer was maar al die eeue so met siklusse warmer en kouer. Ander sê weer, mense en hul fabrieke ontwrig die atmosfeer en dat te veel CO2 gasse deur industrieë losgelaat word, vandaar dat die weer so deurmekaar reageer.

Die Panamakanaal (vanjaar 100 jaar oud), word tans opgegradeer om hopelik teen 2015 wyer en dieper skepe deur te laat. Sommige wetenskaplikes beweer egter dat die Noordpool se ysplate as gevolg van aardverwarming so vinnig smelt, dat skepe moontlik in sekere maande, kortpad deur die Arktiese see sal kan vat! Dit sal 'n gatslag vir die tollenaars in Panama wees...

Buurman sê as al die ys in die pole smelt en die seevlakke styg, moet hy dalk nou al belê in 'n strandhuis op Beaufort-Wes...

Hoe dit ook al sy – die weer is oral deurmekaar. Vir Suid-Afrika voorspel langtermyn klimatoloë dat die Karoo die westelike mielieproduksiegebiede stadig maar seker bekruip. Die natuur het egter haar eie tyd en ritme, en nie een van die wetenskaplikes wil standpunt maak om te sê wat wanneer gaan gebeur nie. Dis amper soos in die vroeë dae, om vir weervoorspellers te vra waar "elders" is, waar dit so lekker gereën het. Die goue draad wat egter raakgelees word, is dat 'n tendens van klimaatsverandering ook in Suid-Afrika verwag word.

Dit maak dat ons nog meer versigtig met vog sal moet boer. Ons sal ook al hoe meer moet leer van bewaringsbewerking om op insette te bespaar. Eintlik is daar net een raad en dit is om betyds aan te pas, want aardverwarming, ekstreme weersomstandighede en 'n Karoo wat stadig maar seker van die weste inwig, moet alles in ag geneem word voordat 'n koring- of 'n mieliepit geplant word. Dit laat 'n mens dink nè?

Sterkte op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: February 2014

Section: E-mails

Search