• Login
  • Search Icon

Die tweede oudste BEROEP

August 2013

– Augustus 2013

image

Beste Grootneef,

Ek voel vanoggend skoon betol. ‘n Mens kan dit mos nie meer op die paaie waag sonder om in ‘n drukgang ingekeer te word nie. En dan bietjie-bietjie te vorder tot by ‘n glashokkie waar ‘n rumatiek-handjie uitgesteek word om jou swaarverdiende geld af te vat. Net omdat jy ‘n paar wiele laat draai het op dié besonderse stukkie teer. Dit is soos boetebos in die veld, eers was daar een, toe nog een en toe jy jou oë uitvee, was die goed oral.

Of jy nou bietjie wil verkas na die Wildtuin of die see om te gaan afsaal, tollenaars is hot en haar, ek word sommer naar (soos Panevis van Engels geskryf het...). En dit is nie of jy ‘n appel en ‘n ui kan aanbied om deur ‘n tolhek te kom nie – by sommiges is die tollenaars so gulsig – hulle vat in geldwaarde sommer ‘n week se Klipdrift by jou af...

Die ergste is, ons betaal eintlik dubbel, want elke keer as jy jou ryding se tenk volmaak, betaal jy mos reeds ‘n heffing vir padbou?

Ou Neef, ek sê jou tollenaars was al ongewild in die Bybel se tyd. Dit het oor die eeue nie beter geraak nie. Eintlik beoefen hulle die tweede oudste beroep, so met hulle hande in my en jou se sakke.

Maar dit is nie al nie – ons het anderdag gaan kuier by die familie in Gautengeleng. Ou Neef, hier is dit nie net oral drukgange waar jy ‘n kollekte in ‘n bakhand stort nie. Hier is sulke wydsbeen aasvoëls oor die paaie opgesit – met pers oë wat tot binne in jou kar brand. Die ding gaan blykbaar so werk, jy gaan hoes elke keer as jy onder ‘n aasvoëlstellasie deurry, met ‘n vriendelike groetkaartjie aan die einde van die maand wat sal sê hoeveel jy betol is vir jou ritte. Dit is nou as jy nie ‘n tag aan die kar se oor vasmaak nie. As jy jou kar tag, betaal jy óf vooraf, of sommer so op spoed direk uit jou plastiekkaart se rekening.

Die aasvoëls word op dié stadium nog effe teruggehou met hofsake en optogte, maar die wal van weerstand sal seker op ‘n stadium breek. En dan gaan ‘n geheel nasie hoes vir elke wiel wat op Gauteng se hoofweë draai – al betaal jy reeds ‘n heffing met elke druppel brandstof.

Ou Neef, wat het Egipte, Libië, Griekeland, Turkye en Argentinië in gemeen? Opsigtelik nie veel nie, behalwe vir ‘n goue draad wat duidelik uitstaan as jy mooi daarna kyk. En dit is eenvoudig dat hul onderskeie owerhede hul vasgeloop het in die weerstand van massas, nadat hul volgehou het met onbillike maatreëls.

Soos ek vanaand op my eie ou stoepie sit en kyk hoe die son in die weste sak, hoop ek nie ons goewerment onderskat die weersin van onse volkie teen ‘n getollery nie. Dit kan ‘n lollery afgee.

En terloops, die oudste beroep in die wêreld is om te boer!

Groete op die Oosgrens

Kleinneef

Publication: August 2013

Section: E-mails

Search