• Login
  • Search Icon

Die storms van verandering

April 2018

Beste Grootneef

Die seisoen begin te draai met ‘n koeler aandluggie en die son wat soggens al hoe later opkom. Dis asof die veld en bosse die verandering aanvoel – met gras en saad wat ryper word in die mooi en stil herfsdae. Die witstinkhoute begin geel verkleur en enkeles begin al ‘n blaremat om hul stamme strooi. 

Die seisoen wat so laat en onseker met enkele los buie begin het, het somerreën op die regte tyd gegee. Die veld is uitgedos met digte hooi en die skaaptrop het al vergeet van die maer jare toe hul op ‘n strepie mielies agter die bakkie aan moes oorleef. Die beeste lê al vroeg voormiddag en herkou by die dam.

Die gesaaides blom vol belofte en selfs die laat mielies is vol in die saad. Die sonneblomme vang van vroegoggend af elke sonstraal uit die ooste met ‘n geel gesig. Sommige se koppe begin hang met ‘n olievrag vasgevang in elke pit.

Ou Neef, die veld, die gesaaides en die vee is stil tevrede met die hande vol genade wat met elke reënbui uitgestort is. Dit is ‘n mooi en dankbare najaar. Maar tussen die stille wonings oor die platteland, is daar tog ‘n huiwering net onder die oppervlak: Oor die nuwe seisoen wat op hande is en die onsekerheid oor wat die winde van verandering op elke plaaswerf gaan uitwaai.

Die oumense het vertel van die Uhuru-winde wat reeds in die 60’s deur Kenia gewaai het. ‘n Dekade gelede het ons die winde in Zimbabwe sien ruk. Die storms wat daar gewaai het, het alles uitmekaar gepluk totdat daar bykans geen kos in die winkelrakke oor was nie. Selfs al het jy ‘n triljoen Zim-dollar in die hand gehad, kon jy nie ‘n brood daarmee koop nie. Vandag raam versamelaars daardie absurde geldnoot as herinnering van die tyd sonder rede.

Hier in die Suidland het ons die eerste windvlae in Desember voel verbyjaag. Aanvanklik is gedink dat net enkelinge van oordeel was dat grond in die Suidland deur Jan en Maria gesteel is. In die land se hoogste Huis het die meerderheid lede egter die standpunt geëggo. Dit was soos die samekoms van onweer uit alle windrigtings.

In die suising van die storm se voor-wind, het ons gehoor van grond wat sonder vergoeding verdeel moet word om waardigheid te herstel. Ons hoor ook dat die storm in sy loop getemper sal word, sodat dit nie voedselsekerheid en die ekonomie wegwaai nie. Ou Neef, selfs Salomo sou gesukkel het om dié kloutjie by die oor te bring.

Buurman kry my vanoggend by ons dink-paal op die hoek, waar ons al soveel planne gesmee het. Ons begin gewoonlik die gesels oor vriende en familie se doen en late. Dié keer was die vreugde egter gedemp. Buurman het meestal gepraat waarvan sy hart van vol was. En dit was oor sy onsekerheid.

Hoe moeilik dit vir hom is om vir ‘n nuwe seisoen na die winter te beplan, as hy nie weet of sy plaas sy plaas is nie. Moet hy belê in die stukkie buurgrond wat onlangs in die mark gekom het? Die plan vir die nuwe stoor word vir eers op die lange baan geskuif. Die trekker wat hy op NAMPO wou uitkyk, moet dalk ook ‘n jaar of wat wag.

Want as daar ‘n plaasvattery sonder vergoeding is, wie kry die plaas en wie kry die skuld? En gaan die man van die bank geneë wees vir ‘n nuwe seisoen se produksielening in September, as niemand weet wie se kaart en transport dit is nie?

Buurman se groot vraag was of hy nie nou alles moet verkoop nie. Maar hy is die vyfde geslag op die plaas. Wat sal sy pa en oupa van hom dink? 

En wat van die grondpryse wat skielik so sywaarts loop? Sal hy nog kopers vind? En hoe sal hy vir sy seun op landboukollege vra om ‘n ander loopbaan te kies? Die jongman wou boer vandat hy sy eerste hanslam grootgemaak het. 

Wat gaan hy aan sy werkers sê? Sommige van die span kom al vir 25 jaar saam met hom. Hoe gaan húl waardigheid lyk as hul dorp toe moet skuif om wie weet waar te gaan bly?

En waar gaan hy en sy vrou hul oudag slyt as die plaas sonder vergoeding gevat word. Het hy dan nie ook ‘n bietjie waardigheid nie?

Ou Neef, ek kon nie eintlik enige van Buurman se vrae antwoord nie. Want niemand weet wat die nuwe seisoen inhou en wat die storms van verandering gaan uitwaai nie. 

Groete op die Oosgrens.

Publication: April 2018

Section: Features

Search