• Login
  • Search Icon

Die rommelhoop

May 2017

Beste Grootneef

Soos Buurman altyd sê: Arm en lelik is niks, maar onnosel...Daarvoor is daar nie pille nie. Oral hoor jy van ‘n gerommel en gerugte van rommel. Dit is nou nie Rommel in die noorde van Afrika met sy Duitse offensief teen die Geallieerdes nie; dit is rommel hier in ons eie Suidland. Hoe kom ons weer uit dié jemblik? Voorwaar, elke paradys het ‘n slang.

Buurman vertel verder van al die rommel in Zim. Daar kan jy nou skoolfondse met boerbokke betaal, omdat hul kontant op is. ʼn Boerbok is op sy beste maar ‘n vloeibare belegging, want jy weet nooit aan watter kant van die draad hy die volgende dag is nie. Wat gaan die skole met al die bokke maak? Eersdaags is daar meer bokke as kinders in die skole. En ‘n bok is ‘n blikskottel.

Buurman het ook laat weet dat die Reserwebank in Zim beroof is, maar dat niemand die motief vir die roof kon bepaal nie. En as jy op Air Zim se vliegmasjien klim en hulle vra oor “chicken or beef”, gaan dit oor jou bagasie. En dat hul president die Nobelprys vir Chemie gaan kry, want hy het die Zim-dollar in bollie verander.

Só kan ons aangaan met stories oor ‘n land en sy mense wat te lank in ‘n rommelhoop vasgekeer was. Maar hoe tragies van ‘n eens voerspoedige land, dat duisende van sy mense nou oor die Limpopo vlug omdat hul nie meer ‘n bestaan in Zim kan maak nie.

Hopelik kom ons Suidland betyds uit die rommelstatus, voor die res van die wêreld simpel grappies oor ons begin maak. Maar nou ja, politiek en politici is die gevolge van die sondeval.

Ou Neef, soos my barbier uit Marokko altyd sê, “a happy wife is a happy life!” Ons moet in hierdie moeilike dae fokus op dinge waaraan ons ‘n verskil kan maak. Dit help tog nie om jou te kwel oor wat die rand gaan maak nie. Dié sal wel op- of afgaan, maar nie noodwendig in daardie volgorde nie. Maar dit is dalk ‘n goeie tyd om daardie los skuldjies toe te maak. Dit sal waarskynlik eers moeiliker gaan, voordat dit beter sal gaan.

Sukkel julle ook so om geloodte petrol vir die ou voertuie in die hande te kry, ou Neef? Die rooi LRP-petrol raak nou so skaars soos hoendertande. Ons het maar ‘n paar sinkers in die ou bakkie se petroltenk gegooi, net om hom nog so ʼn loodasempie met al die nuwe unleaded petrol te gee.

Buurman laat weet dat hul oor Paastyd rondgery het tot op Paternoster. Daar kuier hulle toe die een aand tot laat met die mense van die kontrei. Synde uit ‘n ander geweste, vra Buurman sommer bietjie uit oor die Weskus en oor die naglewe in Paternoster. “Nee,” laat weet die man wat die wyne skink, “sy is vanaand op Yzerfontein!”

Ou Neef, so tussen die skete en pyn is daar tog altyd ‘n vonkel vir die oog. Dit hang net af van die bril waarmee jy na die lewe kyk.

‘n Boereplesier wat wag is NAMPO 2017. Vat tog vir Vroulief saam om jou op die regte pad te hou. Sy is jou gewete voordat jy te hard aan ʼn groen trekker se wiele skop en begin voel-voel na daardie tjekboek.

Groete op die Oosgrens! Sien jou op NAMPO.

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: May 2017

Section: Features

Search