• Login
  • Search Icon

Die oes van grondbone: Meganiese oes versus die pak van hopies

March 2015

LOUREINE SALOMON, LNR-Instituut vir Graangewasse

Met die huidige stand van die ekonomie, is dit uiters belangrik vir die grondboonprodusent om alle aspekte rondom grondboonverbouing noukeurig te ondersoek om sodoende koste-effektiewe besluite te kan neem.

Oestyd is een van die mees intense tydperke van die grondboonproduksiesiklus. Besluite wat hier geneem word, kan groot impakte hê op die finale winsmarge wat in die produsent se sak eindig. Dit hang nie net af van die korrekte oesdatum nie, maar ook van die oesmetode wat gevolg word.

Die besluit of daar meganies geoes gaan word, kan gedoen word as die meganisasietoerusting beskikbaar is en wanneer die toestande tydens oestyd die meganiese oes van grondbone toelaat en of daar gebruik gemaak gaan word van handearbeid vir die pak van hopies.

Watter oesmetode?

Wanneer die twee tipes oesmetodes aan die skaal gehang word, is daar beide voordele en nadele aan elk verbonde en sal die produsent elk moet opweeg teenoor sy eie unieke situasie op die plaas, om sodoende die korrekte besluit te kan maak.

Die meganiese oes van grondbone behels die lig van grondbone deur spesiale aangepaste grondboonuithalers (Foto 1) wat die grondbone lossny en uitskud voordat dit in windrye geplaas word wat bestaan uit twee tot vier aangeplante rye.

Hierdie windrye word dan op die land gelaat om winddroog te word en, afhangende van die weerstoestande, mag die windrye omgedraai word om eweredige afdroging te verseker. Wanneer die grondboonpeule ‘n voginhoud van tussen 18% - 20% bereik het, sal die plukproses ‘n aanvang neem. Daarvoor word gespesialiseerde grondboonplukkers (Foto 2) ingespan om die taak te behartig.

image

Hantering

Hier kan die peule in beide losmaat of in sakvorm hanteer word. Indien losmaathantering verkies word, moet daar vooraf met die verwerker reëlings getref word vir die droging van die losmaatgrondbone in spesiale drogingsaanlegte.

Indien grondbone gesak word ná die plukproses, sal die sakke op die land gelaat word om natuurlik af te droog waarna dit vervoer sal word na die verwerkingsaanleg. Hierdie metode van oes verg presisiebeplanning aangesien hier aspekte in gedagte gehou moet word, soos wat die hoeveelheid hektare is wat ‘n plukker per dag kan behartig om sodoende net die regte hoeveelheid grondbone te lig vir ‘n bepaalde dag.

Weer eens moet oesgereedheid in ag geneem word aangesien daar nou aanpassings gemaak sal moet word omdat die hele oes nie op optimale oesgereedheid geoes kan word nie en daar dus ingeboet sal moet word.

Verder sal daar peulverliese wees tydens die omdraai van die windrye, wat oesverliese tot gevolg sal hê. Wat egter tot voordeel van die meganiese oesproses is, is die feit dat daar tot 88% minder tyd bestee word aan man-ure wanneer die grondbone gelig word en 91% aan man-ure wanneer die bone gepluk word.

Die verkorte tydperk wat die grondboonoes op die plaas is nadat dit gepluk word indien meganiese droging beoog word, beteken ook ‘n verlaagde risiko vir die produsent.

Hierdie metode is uiters geskik vir kommersiële grondboonproduksie aangesien daar met groot hoeveelhede gewerk word. Waak egter teen die vermenging van kultivars, wat uiters maklik kan gebeur aangesien meganiese oestoerusting soms baie moeilik is om skoon te maak nadat daar met ‘n spesifieke kultivar gewerk is en sodoende die kanse van kultivarvermenging verhoog.

Met al die voordele uitgelig, is daar wel ook ‘n nadelige kant. Die droging van grondbone in sakvorm nadat dit meganies gepluk is, is ook ‘n proses op sy eie wat beplanning en toesighouding verg aangesien sakke grondbone geneig is om oor nag “voete te kry” en van die plaas af te verdwyn. Sulke diefstal veroorsaak aansienlike oesverliese en verg dus goeie bestuur om dit hok te slaan.

Die aankoop van meganiese toerusting wat benodig word vir die grondboonoesproses moet geregverdig word deur die hoeveelheid hektaar aanplantings wat jaarliks beplan word. Die toerusting is duur en gewasspesifiek. Daar moet dus besin word of die produsent ‘n grondboonprodusent is en of daar net grondbone aangeplant gaan word.

Om met die ou, bekende metode grondbone in hopies te pak, behels die gebruik van baie handearbeid en is ‘n tydsame proses wat goeie mensebestuur behels. Die uithaalproses geskied met 'n lem-tipe uithaler wat grondbone onder die grond lossny en dan 'n span arbeiders wat agterna kom en die grondbone fisies skud om van oortollige sand ontslae te raak (Foto 3).

Die plante word dan in grondboonhopies gepak waar hulle gelaat word om natuurlik te droog oor ‘n tydperk van ses tot agt weke. Hierna word die plante gepluk en die peule gesak, waarna die oes na die verwerkersaanleg vervoer word.

Hierdie metode van grondbone oes is arbeidsintensief en tydsaam, maar lewer ‘n hoër kwaliteit gradering van ‘n grondboonoes as wat by die meganiese oesproses verkry word en word dus aanbeveel vir saadproduksie. Met hierdie metode van oes kan vermenging van kultivars baie goed bestuur word aangesien die plukkers wat gebruik word vir die pluk van hopies nog van die ouer tipes is, soos die ou Slattery-plukkers (Foto 4) en dus maklik is om skoon te maak ná die oes van elke kultivar.

image

Natuurlik beïnvloed die weersomstandighede ook die keuse van watter oesmetode gebruik gaan word. In droogtejare gebeur dit dat die grondboonplante nie hoog genoeg groei nie en dus word daar probleme ondervind tydens die uithaalproses waar die uithalers nie die plantmateriaal opgetel kan kry nie en ook dat die kort plante deur die kettings van die skudders val.

Dit lei sodoende tot groot verliese wat nie gedurende die uiterste toestande bekostig kan word nie. In baie nat jare, wanneer hoë reënval tydens oestyd ondervind word en daar nie voldoende afdroogtyd vir windrye op die lande is nie; asook die nat toestande op die lande wat veroorsaak dat swaar masjinerie vasval in die lande, sal die ou metode van hopies pak eerder gevolg moet word om sodoende oesverliese tot ‘n minimum te bekamp.

Die meganiese oesproses wat in Amerika gevolg word, kan glad nie vergelyk word met die Suid-Afrikaanse oesproses nie aangesien daar in Amerika op ‘n rypheidsgraad van 60% reeds begin oes word en daar meestal Runner-tipe grondbone verbou word.

Kwaliteit, soos gesien in Suid-Afrika, speel in Amerika ook nie so ‘n groot rol nie. In Suid-Afrika word steeds gefokus op Spaansetipe grondbone waar daar op 75%-rypheidsgraad begin oes word om optimale kwaliteit en opbrengs te verkry. Dit is dus uiters belangrik vir die Suid-Afrikaanse produsent om in gedagte te hou dat hy ‘n hoëkwaliteit produk moet lewer om die beste prys daarvoor te kry.

imageGrondbone bly winsgewend, maak nie saak of daar meganies geoes word of hopies gepak word nie – dit hang alles af van hoe die somme op plaasvlak klop. Die uiteinde van die saak bly: Wat is die winsmarge wat in die produsent se sak eindig en die kwaliteit van die produk wat gelewer word?

Vir navrae, kontak Loureine Salomon by SalomonL@arc.agric.za.

Publication: March 2015

Section: On farm level

Search