• Login
  • Search Icon

Die oerknal traak ons nie eintlik nie

July 2018

Beste Grootneef

Die winter is weer soos van ouds – met yskoue nagte en spierwit ryp soggens oor die Vrystaat se vlaktes gestrooi. Al die brommers en vlieë is na die gogga-hiernamaals. Nóú kan ons bees slag!

Ou Neef, suinigheid is ‘n deug by enige goeie gade. Soveel te meer waar meet en pas vir ‘n huishouding ‘n fyn kuns geword het. 

Die wik en weeg vir die volgende seisoen se mielieplantery is egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Met ‘n geskatte insetkoste van R9 800/ha in ons wêreld en ‘n Julie’19 Safex-prys van R2 350, beteken dit rofweg dat jy ten minste 4 t/ha moet stroop om gelyk te breek. Met boerpryse na al die aftrekkings, raak die som nóg moeiliker. Gegewe die gemiddelde opbrengs in ons omgewing, is die gelykbreek wat ons moet realiseer ongemaklik naby aan die risikolyn. Die besluit om in die nuwe seisoen te plant of nie te plant nie, is soos ‘n klitsgras in jou kous. Jy is heeltyd bewus van die ding, maar kry hom net nie uit nie.

Ou Neef, ek lees egter in die Volk se blad, hoe maklik onse ministers oor groot geld praat. Enorme bedrae word rondgestrooi asof dit ‘n hoop stronke agter ‘n dorsmasjien is wat net nie kan opraak nie. So kondig die Minister van Vliegmasjiene aan dat ‘n addisionele R5 miljard aan die SAL bewillig word, sodat dié mank besigheid sy verpligtinge kan nakom. En die Departement van Wetenskap en Tegnologie se stuiwer in die armbeurs, was dat R2,2 miljard oor die volgende drie jaar op die radioteleskoop-projek noord van Sutherland uitgegee gaan word. Blykbaar om die oerknal in die hemele op te spoor.

Buurman sê die goewerment mik te hoog. Want niks van die miljarde rande aan vliegtuie of radioteleskope, sal ‘n verskil aan aardbewoners se saligheid maak nie. Wie op dees aarde wil in elk geval ‘n lugdiens hê wat in die laaste dekade net verliese losgevlieg het? Selfs die Springbokke het onlangs verkies om met Ethiopian Airlines na Washington te vlieg!

Ou Neef, wat nog te praat van oerknalle in die ruimte soek? As hulle nou so ‘n knal gevang het, wat maak ons met die ding? Dit sal nie ‘n jota of ‘n tittel verskil maak aan enige huishouding wat raap en skraap om te oorleef nie. Dalk sal ‘n oerknal ‘n paar wetenskaplikes se fisika-ego streel, maar is daar rand en sent-voordeel vir die gewone aardbewoner uit die SKA-projek?

Buurman sê die goewerment moet aarde toe mik met hul geldkanonne. Met die geld wat op vliegtuie en geluide uit die ruimte “bewillig” word, kan die staat al die grondkwellings oplos – titelaktes en al. Die Staat het vanjaar R10,425 miljard vir grondhervorming geoormerk. Voeg nou hierby die SAL se R5 miljard-meevaller en die ruimte-antennas se R2,2 miljard en jy het so ‘n hoop geld bymekaar dat stoorgeld daarop betaal moet word. Dan kan die goewerment grondhervorming afhandel sonder om een hektaar sonder vergoeding te onteien. 

Ou Neef, wat in die volgende ses maande in die Suidland op die grond gaan gebeur, is vir ons aardbewoners van lewensbelang. ‘n Oerknal ligjare weg in die verre verskiet, traak ons nie eintlik nie.

Groete op die Oosgrens! Skiet eerder amper mis as amper raak.

Publication: July 2018

Section: Features

Search