• Login
  • Search Icon

Die neem van monsters vir aalwurmanalises by eenjarige gewasse

March 2013

DR SONIA STEENKAMP, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Omgewingsfaktore en somtyds ook bewerkingspraktyke kan veroorsaak dat aalwurmpopulasies handuit ruk en dan groot skade aan eenjarige gewasse rig. Dit is nie vir die leek so maklik om die simptome van aalwurmskade te herken nie omdat dit maklik verwar kan word met simptome wat eie is aan versuiping, voedingstekorte en insekdoderskades.
 
Gelukkig is baie produsente en persone wat in die landbou bedrywig is, al goed ingelig wat aalwurms betref en is hulle gewoonlik die eerste om onraad te vermoed. Omdat aalwurms nie met die blote oog sigbaar is nie, is dit noodsaaklik om monsters te neem sodat daar vasgestel kan word of aalwurms inderdaad die sondebok is of nie.

Wanneer moet monsters geneem word?

Die meeste aalwurmpopulasies bereik hulle piek wanneer die gewasse begin blom (Foto 1). Dit is dan die beste tyd om monsters te neem om te bepaal of die aalwurmpopulasie groot genoeg is om ekonomiese skade aan te rig al dan nie.

image

Op hierdie reël is die enigste uitsondering, grondbone. As daar grondboonmonsters geneem word, word daar spesifiek vir peulaalwurms, wat die ekonomies belangrikste aalwurm op grondbone is, gesoek. Anders as die ander aalwurms, piek peulaalwurmpopulasies met oestyd en nie met die blom van die grondbone nie. As ‘n produsent dus grondbone wil instuur vir aalwurmanalises, is dit beter dat hy monsters met oes neem (Foto 2).

image

Belangrike riglyne

Aalwurmspesies is baie divers en elke spesie het sy eie voedingswyse en gedrag. Sommige aalwurms voed aan die plantwortels, maar dring nooit die wortels self binne nie. Ander dring weer die wortels binne en word selde in die grond aangetref. Dan is daar ook aalwurms wat in beide die grond en in die wortels voorkom. Om dus ‘n algehele prentjie te kan kry van wat in ‘n land se aalwurmbevolking aangaan, is dit nodig om grond en wortelmonsters te laat analiseer. As die gewas sy oes onder die grond dra, soos byvoorbeeld sommige groentes en grondbone, moet daar van die knolle/peule ook in die monster ingesluit word.

Aalwurms is nooit eweredig oor ‘n land versprei nie en kom altyd kolkol voor. Daarom moet daar soveel as moontlik monsters op ‘n land geneem word om ‘n goeie idee te kry van wat met die aalwurmpopulasie aangaan. Monsters kan in ‘n sigsag-patroon geneem word. Sluit veral die kolle met die siek plante in.

Om koste vir die aalwurmanalise te bespaar, kan daar van die grondmonsters bymekaar gegooi word en dan deeglik gemeng word.

‘n Verteenwoordigende grondmonster kan vervolgens van die gemengde monster geneem word. Die plante wat in daardie area getrek is, kan sommer almal in so ‘n monster ingesluit word, waar dit in die laboratorium vermeng sal word voordat die aalwurmekstraksies gedoen word.

Hoe moet die monsters getrek word?

Aalwurms kan nie vreeslik ver op eie stoom beweeg nie, omdat hulle so klein is. Hulle sal dus direk rondom die wortelstelsel bly waar hulle kan voed. Om hierdie rede moet die hele plant uitgespit word sodat die grond direk om die wortelstelsel behoue kan bly (Foto 3). Die hoeveelheid grond wat die laboratorium per monster benodig, is ongeveer 200 cm³ (200 ml).

image

As daar te veel grond rondom die wortelstelsel sit, kan dit liggies afgeskud word (Foto 4). As daar nie genoeg grond rondom die wortelstelsel sit nie, kan daar nog ‘n bietjie grond geskep word uit die gat waar die plant uitgespit is (Foto 5).

image

Die bogrondse gedeelte van die plant kan afgeknip word (Foto 6), omdat dit glad nie gebruik word vir die aalwurmanalises nie. Sit die wortelstelsel van die plant net so saam met die grond in ‘n plastieksakkie (Foto 7).

Die sak met die monster moet nou gemerk word met inligting wat vir die produsent belangrik is (Foto 8). Hierdie inligting word deur die laboratorium as verwysing gebruik en dit kom ook so op die verslag voor.

image

Monsters moet in die koelte gehou word en so gou moontlik na die laboratorium toe gestuur word. As dit nie dadelik gestuur kan word nie, kan dit vir ‘n dag of twee in die yskas gehou word. Die monsters kan per koerier gestuur word of afgelewer word by die LNR-Instituut vir Graangewasse, Hendrik Schoeman Gebou, Chris Hani-straat 114, Potchefstroom, 2520.

Sluit ‘n folio of besigheidskaartjie met kontakbesonderhede van die kliënt by die pakkie in (‘n e-posadres moet verkieslik ingesluit word sodat die verslag daarheen gestuur kan word). Merk die pakkie vir aandag: Sonia Steenkamp.

Wat gebeur by die laboratorium?

Die wortels en grond word verwerk (Foto 9) sodat die aalwurms uit die grond en wortels geëkstraheer kan word. Verskillende metodes word gebruik vir aalwurmekstraksies uit die grond en wortelmonsters (Foto 10). Vir elke wortel en grondmonster word daar drie ekstraksies gemaak.

  • Die aalwurms wat op daardie tydstip in die grond voorkom, word deur die suikerflotasiemetode geëkstraheer.
  • Die aalwurms wat in die wortels voorkom word ook met die suikerflotasie-metode uit 5 gram wortels uit geëkstraheer.
  • Knopwortelaalwurmeiers en -larwes word deur ‘n aangepaste NaOCl¯-metode uit 50 gram wortels geëkstraheer.

Die NaOCl¯-metode moet addisioneel vir die wortelmonsters gebruik word omdat die knopwortelaalwurmwyfies sakvormig is en nie met die suikerflotasie-metode geëkstraheer kan word nie. Hierdie aangepaste metode los die gelatien rondom die eierpakkies van die wyfie op sodat die eiertjies vrygestel kan word en dan ook getel kan word.

image

Koste

Die koste van elke ekstraksie is R180 (BTW uitgesluit). ‘n Volledige wortel- en grond-ekstraksie kos dus R615,60 (R180 x drie ekstraksies + 14% BTW).

Resultate van die aalwurmanalises

Die resultate van die aalwurmanalises sal na drie tot vyf dae in die vorm van ‘n verslag aan die kliënt gelewer word. Aanbevelings wat dan gemaak word, is eers van toepassing vir die volgende seisoen omdat die blomtyd van die gewasse in die weerhoudingstydperk van die meeste chemiese middels plaasvind.

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search