December 2012
DR SONIA STEENKAMP, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE
Aalwurms is een van die mees ernstige ekonomiese plae op sojabone en kan vir die produsent baie skade aanrig as hy onverhoeds betrap word. Ongelukkig is dit juis aalwurms wat die produsent dikwels onkant kan betrap omdat hulle nie soos insekte met die blote oog gesien kan word nie. Hulle het dus kans om hulself op die sojabone tuis te maak. Teen die tyd dat die produsent onraad merk, is dit dikwels veels te laat.
Aalwurms wat die meeste op sojabone  voorkom
Van al  die plant-parasitiese aalwurms wat op sojabone parasiteer, is  knopwortelaalwurms (Meloidogyne spp.)  en letselaalwurms (Pratylenchus spp.)  dié aalwurmspesies wat die algemeenste op sojabone voorkom. Omdat hulle so ‘n  wye gasheerreeks het, gee knopwortelaalwurms die meeste probleme van die twee  aalwurmspesies. Knopwortel aalwurms parasiteer dus nie net op die sojabone nie,  maar ook op die meeste van die ander gewasse wat dikwels in ‘n sojaboon gebaseerde  wisselbousisteem ingesluit word. Dit is dus nie so maklik om knopwortelaalwurm  uit te roei nie. Al wat die produsent in so ‘n geval kan doen, is om te probeer  om die aalwurmgetalle laag genoeg te hou sodat die skade wat hulle aanrig, nie  aan sy sak vat nie. Die beheermetodes wat hieronder bespreek word, sal nie net  vir knopwortelaalwurm werk nie, maar sal ook van toepassing wees op al die  ander aalwurmspesies.
Beheermaatreëls vir aalwurms op  sojabone
Dit is  weer eens baie belangrik om twee of meer van die beheermaatreëls te kombineer sodat  as die een beheermaatreël om een of ander rede gedurende die seisoen faal, die produsent  steeds op die ander beheermaatreël kan terugval. Sodoende word die risiko van  die produsent versprei en vergroot hy sy kanse om ‘n goeie soja-oes te kan  afhaal.
Chemiese  beheer
Geen  chemiese beheer is tot op hede vir die beheer van aalwurms op sojabone  geregistreer nie. Die ander maatreëls wat hier bespreek word, moet dus ingespan  word.
Wisselbou
Wisselbou  word sterk aanbeveel, nie net omdat sekere gewasse mekaar kan bevoordeel nie,  maar ook omdat dit siektes kan kortwiek. Ongelukkig het baie produsente nie ‘n  baie wye keuse in terme van gewasse wat hulle in sojaboongebaseerde wisselbousisteme  kan insluit nie.
Daar bestaan gelukkig vlakke van weerstand tussen kultivars van ‘n spesifieke gewas. As die produsent knopwortelaalwurmprobleme het, vra die agent waar die saad aangekoop word of hulle aalwurmweerstandbiedende kultivars het. Wisselbou kan met al die ander beheermaatreëls gekombineer word.
Weerstandbiedende  sojaboonkultivars
Indien  beskikbaar, kan sojaboonkultivars met aalwurmweerstand vir die produsent baie beteken.  Só ‘n kultivar kan vir die produsent ‘n goeie inkomste op aalwurmbesmette lande  verseker, terwyl die aalwurmpopulasie self onder beheer gebring kan word.  Boonop is dit omgewingsvriendelik en kan sonder moeite in reeds bestaande  plaagbeheerprogramme ingesluit word. Hierdie maatreël kan maklik met al die  ander beheermaatreëls gekombineer word. Ongelukkig is dit net Egret wat nog  kommersieel beskikbaar is, wat weerstand teen knopwortelaalwurms het.
Biologiese  beheer
Baie  produsente begin nou die water toets met hierdie beheermetode. Neem in ag dat hierdie  metode tot vyf jaar kan neem voordat ‘n mens regtig resultate kan sien.  Biologiese beheer is gebaseer op lewendige bakterieë en swamme wat die aalwurms  moet aanval. Die produk is dus vol lewendige organismes. Wees daarom versigtig  hoe dit hanteer word en hou  ook in gedagte dat dit dalk op ‘n sekere manier gestoor moet word.
Publication: December 2012
Section: Input Overview