• Login
  • Search Icon

Die mieliemark in die Midde-Ooste wink

July 2014

image

WESSEL LEMMER, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA en WANDILE SIHLOBO, ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Suid-Afrika het vir die 2014/2015-bemarkingsjaar ‘n uitvoerbare surplus mielies van byna 1,8 miljoen ton geproduseer. Graan SA projekteer dat 600 000 ton hiervan geelmielies en ongeveer 1,2 miljoen ton witmielies is. Ons sal voortdurend nuwe uitvoermarkte moet ontwikkel om seker te maak dat die jaarlikse uitvoersurplus uitgevoer word voordat mielies in die Noordelike Halfrondlande geoes word.

Die beskikbare uitvoergleuwe (slots)

Daar word uit die handelsomgewing van die sogenaamde uitvoergleuwe kennis geneem. Dit is belangrik om te weet dat hierdie uitvoergleuwe teen ‘n koste by terminale bespreek en aan uitvoerders geallokeer word.

Tydens die skryf van die artikel het gerugte die rondte gedoen dat ons uitvoerseisoen vanjaar tot en met Oktober kan strek. Sedertdien het die Oesskattingskomitee die produksiesyfer vir mielies verhoog en blyk dit dat die uitvoerbare surplus potensieel tot Desember kan strek.

Een van die redes hiervoor kan toegeskryf word aan die stadiger leweringstempo. Daar was byvoorbeeld teen 16 Mei vanjaar slegs 50% van die vorige jaar se uitvoersyfer uitgevoer. Gedurende Oktober word sekere Noordelike Halfrondlande se nuwe seisoen oeste gestroop en kan ou seisoen pryse gedurende Oktober as gevolg hiervan begin daal.

Dit is nie wenslik om teen Oktober uitvoerbare voorrade in besit te hê nie omdat dit pryse teen uitvoerpariteitsprysvlakke hou.

Neem kennis dat die sogenaamde uitvoergleuwe nie noodwendig bevestigde uitvoere is nie, maar net ‘n aanduiding van handelaars se beplande voorgenome uitvoere. Werklike uitvoertransaksies moet plaasvind om die uitvoergleuwe mee te vul en die transaksies kan uitwas indien Suid-Afrika se uitvoerpryse nie met die pryse van ander uitvoerlande kan meeding nie.

Mielies beskikbaar vir diepsee uitvoere

Suid-Afrika het verlede jaar ongeveer 520 000 ton mielies na Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland (BLNS-lande) uitgevoer en behoort na verwagting vanjaar weer dieselfde hoeveelheid uit te voer.

Indien Suid-Afrika 1,77 miljoen ton mielies vir uitvoere beskikbaar het en nagenoeg 520 000 ton na die BLNS-lande kan uitvoer, beteken dit dat die land 1 250 000 ton mielies na diepsee uitvoerbestemmings moet uitvoer voordat die VSA oes gedurende middel-September gestroop word.

Dit sou voordelig wees vir pryse vanaf Oktober indien die onderstaande uitvoermikpunt tussen Mei tot Oktober 2014 bereik sou kon word.

Die uitvoermark vir mielies gedurende 2013/2014 (Mei - April)

Grafiek 1 dui die hoeveelheid mielies in ton aan wat uit Suid-Afrika na verskeie uitvoerbestemmings gedurende 2013/2014 uitgevoer is. Uitvoere na dié lande word deur verskeie fundamentele faktore beïnvloed en dit is nie gewaarborg dat Suid-Afrika elke jaar suksesvol na hierdie bestemmings volhoubaar sal kan uitvoer nie. Die ontwikkeling van nuwe markbestemmings wat in die Midde-Ooste kan oopgaan, is daarom ook belangrik.

image

Markte in die Midde-Ooste

Graan SA het nuwe markgeleenthede sedert 2013 in Midde-Oosterse lande ondersoek. Die lande sluit Israel, Jordanië, Sirië, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Iran in. Die potensiële mielie-uitvoermark na hierdie lande behoort ten minste jaarliks 9,2 miljoen ton te beloop. Ongelukkig kan die syfer nie maklik geverifieer word nie omdat die data in die ITC TradeMap-databasis ontbreek.

Graan SA het die kontakbesonderhede van ondernemings in hierdie lande wat belangstel om mielies uit Suid-Afrika in te voer, met die graanhandel in Suid-Afrika gedeel. Dit is nie vir nuwe toetreders moontlik om direk uit Suid-Afrika in te voer nie omdat die uitvoergleuwe gewoonlik reeds deur plaaslik gebaseerde, multinasionale uitvoerders bespreek is teen die tyd dat hierdie ondernemings ernstige prysaanbiedinge vir Suid-Afrikaanse mielies begin maak.

Iran het byvoorbeeld in 2011 mielies deur handelaars in Switserland (1 296 839 ton), die Verenigde Arabiese Emirate
(1 031 741 ton), die Verenigde Koninkryk (552 824 ton), Nederland (472 040 ton) en selfs Argentinië (134 091 ton) ingevoer.

image

Opsomming

Alhoewel die Midde-Ooste unieke uitdagings aan uitvoergraanhandel kan stel, kan die potensiële uitvoermoontlikhede na hierdie streek die uitvoere van Suid-Afrikaanse mielies grootliks bevoordeel. Suid-Afrika het byvoorbeeld in die land se vroeëre geskiedenis witmielies met sukses na Iran uitgevoer. Iran is byvoorbeeld een land waarin internasionale beleggers toenemend begin belangstel en mee handel dryf.

Suid-Afrika kan ‘n mededingende handelsvoordeel bo ander mielie-uitvoerlande uit die Swartseestreek, die EU en die VSA hê indien ons die wedloop na die Midde-Oosterse markte vroegtydig aanpak. Veral indien Iran daarin slaag om aan die sanksievereistes te voldoen en groter verligting gebied word.

image

image

Publication: July 2014

Section: On farm level

Search