• Login
  • Search Icon

Die lank en die kort van die dieselrabat

November 2017

CORNÉ LOUW, senior ekonoom, Graan SA 

Die dieselrabat is ontwerp om plaaslike industrieë te beskerm teen internasionale mededinging (waar primêre produsente ondersteuning geniet), sowel as om verligting te bring vir verbruikers wat nie noodwendig die pad gebruik nie. 

Afhangende van die bedryf, bied die rabat volledige of gedeeltelike verligting van die Brandstofheffing en die Padongeluksfondsheffing. Landbou ontvang 40% verligting van die Brandstofheffing en 100% van die Padongeluksfondsheffing. Die dieselrabat is tans R2,83/liter. Hiervan kwalifiseer ‘n produsent vir 80% van sy regmatige gebruik (dit wil sê 80% van kwalifiserende liters). 

Hoe word gekwalifiseer vir die dieselrabat?
Om vir die dieselrabat in aanmerking te kom, moet ‘n produsent vir BTW en vir die dieselrabat onder die Doeane en Aksynswet geregistreer wees. 

Om die rabat te kan terugeis, moet ‘n produsent kan bewys en bereken wat die bedrag van regmatige verbruik is in terme van Skedule 6 van die Doeane en Aksynswet. Dié skedule dui aan watter aktiwiteite vir die rabat kwalifiseer, asook hoe dieselgebruik geboekstaaf moet word. Die rabat word gesien as ‘n “voorlopige toegewing” totdat die produsent redelik kan bewys dat die diesel regmatig gebruik is.

Logboeke 
Behalwe vir die feit dat produsente bewys van dieselaankope moet lewer, moet daar ook getoon kan word hoe die diesel ver­­bruik is. 

Daar word tans vir ‘n amptelike logboek vanaf die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gewag. SAID het aanbevelings aan Tesourie gemaak vir ‘n landbouspesifieke logboek. SAID wag vir terugvoer van die Tesourie in hierdie verband. 

Logboekrekords wat onduidelik is of te min detail bevat, kan aanleiding gee tot vertragings in die verwerking van en die moontlike afkeur van eise. Só byvoorbeeld sal die versuim om die doel waarvoor diesel gebruik word te vermeld, aanleiding gee tot vertragings. Produsente word aangemoedig om duidelike en gedetailleerde rekords by te hou – insluitend stawende dokumente. 

Die volgende riglyne word vir hierdie doel aanbeveel:

  • Eis die rabat op grond van reeds verbruikte diesel en nie op aankope nie.

Hou volledig boek van diesel wat op die plaas gebruik word (vanaf hoofverspreidingspunte):

  • Datum waarop diesel ingegooi is;
  • hoeveelheid diesel ingegooi;
  • beskrywing van voertuig; en
  • doel waarvoor die diesel aangewend is.

Onthou: Ervaring met oudits het gewys dat SAID ook mag vra dat ‘n produsent aandui waar op die plaas die aktiwiteit plaasvind. Moet ook nie “algemeen” gebruik as ‘n aktiwiteit nie, spesifiseer eerder volgens Skedule 6 se kwalifiserende aktiwiteite. 

Let daarop dat die finale logboek nog vanaf SAID afgewag word; daarom kan bogenoemde inligting verander.

Nuwe dieselrabatstelsel word voorgestel 
Nasionale Tesourie het vroeër vanjaar ‘n besprekingsdokument gepubliseer waarin hulle kommentaar aangevra het vir die hersiening van die dieselrabatstelsel. Graan SA en Agri SA het hierop kommentaar gelewer. 

Tesourie en SAID se mikpunt is om die nuwe stelsel in 2018 te implementeer. Van die belangrikste wysigings wat voorgestel 
word, is:

  • Aktiwiteite wat kwalifiseer sal beperk word tot suiwer primêre produksie. Dit word voorgestel dat alle vervoeraktiwiteite van die plaas af en enige verwerkingsaktiwiteite hoegenaamd, uitgesluit sal word.
  • Verder word voorgestel dat kwalifiserende primêre produksie-aktiwiteite aan ‘n fisiese punt waar sulke bedrywighede sal plaasvind, gekoppel moet word.
  • Persone wat kwalifiserende primêre produksie-aktiwiteite uitvoer, kan terugbetalings vir diesel wat daarin gebruik word, eis – op voorwaarde dat ‘n behoorlike logboek, wat gekoppel word aan die fisiese terrein waar sodanige kwalifiserende primêre produksie plaasvind, bygehou word.
  • Eise sal slegs ten opsigte van diesel gebruik in die kwalifiserende primêre produksie-aktiwiteite toegelaat word en die huidige 80:20-persentasietoekenning wat tans vir kwalifiserende terugbetalings vir landbou geld, sal dan wegval. 
  • Dit wil sê produsente sal dan in die nuwe bedeling 100% van hul kwalifiserende gebruik kan eis.
  • ‘n Losstaande dieselterugbetalingsadministrasie, apart van die BTW-stelsel, word voorgestel. Die beperkings rondom beoogde begunstigdes wat nie op dieselterugbetalings kan aanspraak maak nie omdat hulle nie vir BTW geregistreer is nie, sal dan wegval. 

Ter afsluiting
Die dieselrabat is een van die enigste voordele wat produsente van regeringskant ontvang en die stelsel moet daarom ten alle tye bo verdenking gehou word. Indien lede probleme met hul rabat ervaar of vrae het oor die werking daarvan, kan hulle met Graan SA in verbinding tree. 
 

Publication: November 2017

Section: On farm level

Search