• Login
  • Search Icon

Die landboumasjineriemark in perspektief

August 2013

PETRU FOURIE, EKONOOM, BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Trekkerverkope was gedurende 2012 aansienlik hoër as die langtermyngemiddeld wat meebring dat die verkope van nuwe trekkers vir 2013 tot dusver (Januarie tot Junie) 4,6% laer as dieselfde tydperk verlede jaar is.

Die rand het in Junie vanjaar teen ‘n gemiddeld van R10,05 teenoor die dollar verhandel, terwyl dit ‘n jaar gelede teen ‘n gemiddeld van R8,39 teenoor die dollar beweeg het. Hierdie verswakte waarde van die rand beteken gevolglik dat landboumasjineriepryse hoër neig en onvermydelik stygings in trekkers en stropers kan beteken.

Landboumasjineriepryse

Tabel 1 toon die jaar-tot-jaar-prysveranderinge van vier klasse landboumasjinerie aan. Uit Tabel 1 kan gesien word dat pryse van landboumasjinerie op ‘n jaar-tot-jaar-basis gestyg het en dat die tendens sedert die vorige maand vir trekkers, hooi en veevoertoerusting en -implemente gestyg het. Stropers toon gedurende dieselfde tydperk geen prysveranderinge nie.

image

Vanaf Mei 2012 tot Mei 2013 het die pryse van landboumasjinerie met gemiddeld 4,7% gestyg, terwyl pryse vanaf Junie 2012 tot Junie 2013 met 6,4% gestyg het. Die waarde van die rand het met 14,6% en 19,8% onderskeidelik vanaf Mei 2012 tot Mei 2013 en vanaf Junie 2012 tot Junie 2013 verswak. Aangesien die meeste landboumasjinerie wat in Suid-Afrika gebruik word ‘n groot invoerkomponent het, het die verswakking van die rand ‘n bepalende rol die afgelope jaar in prysstygings gespeel.

Trekker- en stroperverkope

Grafiek 1 dui aan wat tans aan die gebeur is met trekkerverkope in die Suid-Afrikaanse mark. Hierdie syfers sluit uitvoere uit en behels slegs plaaslike verkope.

Jaarlikse trekkerverkope het gedurende hierdie tydperk (1992 - 2012) tussen ‘n minimum van 2 207 eenhede in 1992 en ‘n maksimum van 7 899 eenhede in 2012 gevarieer. Volgens die bedryf, kan trekkerverkope vir die 2013-kalenderjaar sowat 7 000 tot 7 500 eenhede wees, ongeveer 5% tot 10% laer as verkope vir 2012.

Die Suid-Afrikaanse Landbou masjinerie Assosiasie (SAAMA) meld dat daar altesaam 656 trekkers in Junie verkoop is, wat ‘n daling van 7,6% in vergeleke met verkope in Junie verlede jaar is.

Tot en met Junie 2013 is 3 867 trekkers vir die jaar verkoop, wat 4,6% laer is as die verkope van die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Daar moet in ag geneem word dat die afgelope twee jaar, 2011 en 2012, gekenmerk word deur trekkerverkope wat aansienlik meer is as die gemiddeld.

Grafiek 2 toon die trekkerverkope op ‘n maand-tot-maand-basis teenoor die persentasie prysverandering van trekkers op ‘n jaar-tot-jaar-basis. Sommige algemene waarne mings wat gemaak kan word, is dat Oktober die hoogste maand van verkope vir trekkers is (sien die pyltjies) en dat Februarie (belastingaankope) die tweede grootste maand vir trekkerverkope is.

Uit Grafiek 2 is dit verder sigbaar dat produsente wat aankope tussen Januarie 2010 en September 2011 gedoen het, relatief beter pryse vir trekkers betaal het as aankope wat buite die periode val. Stroperverkope vir Juniemaand is aan die ander kant 31% minder as wat dit verlede jaar Junie was, maar as die stroperverkopesyfers vanaf Januarie tot Junie teenoor verlede jaar dieselfde tydperk vergelyk word, is die verkope 12,8% hoër.

image

Ouderdom van die trekkervloot

Grafiek 3 illustreer hoe die ouderdomuiteensetting van die algehele Suid-Afrikaanse trekkervloot die afgelope 20 jaar verander het. In 1992 het die totale trekkers jonger as tien jaar 36,7% van die vloot uitgemaak, waarna die grootte van die trekkervloot jonger as tien jaar stelselmatig begin groei het.

‘n Skerp toename het die afgelope ses jaar plaasgevind en tans maak trekkers jonger as tien jaar 70,7% van die totale trekkervloot uit (Grafiek 3). Die syfer is positief indien dit vergelyk word met die vroeë negentigs waar die totale trekkers jonger as tien jaar op ‘n gemiddeld van 37% gestaan het. Die gemiddelde ouderdom van die trekkervloot staan tans op sewe jaar.

image

Trekkrag van trekkers in die trekkervloot

As daar na die totale trekkrag in die Suid-Afrikaanse trekkervloot gekyk word, staan dit tans op 5,88 miljoen kW (Grafiek 4). Dit het skerp toegeneem in vergelyking met die 4,31 miljoen kW tien jaar gelede, maar is steeds 21,9% minder as die 7,53 miljoen kW 20 jaar gelede. Die trekkrag van trekkers jonger as tien jaar is tans 4,23 miljoen kW, 56,0% meer as tien jaar gelede en 51,7% meer as 20 jaar gelede. Die gemiddelde trekkrag van trekkers in die totale trekkervloot het toegeneem van 66,5 kW (tien jaar gelede) tot die huidige 76,5 kW (Grafiek 5).

Graan-/trekkerruilvoet

Grafiek 6 dui aan hoeveel ton mielies benodig word om ‘n trekker tussen 70 kW en 80 kW aan te koop. Die ruilvoet is bereken deur die huidige trekkerpryse met die afgeleide produsentepryse gegrond op die Julie 2014 Safex-witmieliepryse en die gemiddelde in- en uitlaaikoste en liggingsdifferen siaal in aanmerking te neem.

‘n Produsent sal vir die 2013/2014-produksieseisoen waarskynlik 282 ton mielies moet ruil vir ‘n 70 kW - 80 kW trekker. Vanuit Grafiek 6 (sien tendenslyn) is dit sigbaar dat die ruilvoet oor tyd effens verswak het, alhoewel ‘n produsent in die 1992/1993-produksieseisoen ongeveer dieselfde hoeveelheid ton mielies moes ruil vir dieselfde grootte trekker.

image

Publication: August 2013

Section: Input Overview

Search