• Login
  • Search Icon

DIE KORT EN DIE LANK VAN PLAASVEILIGHEID: Wees wakker, wees paraat, wees reg

January 2016

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Plaasveiligheid is jou eie verantwoordelikheid en geen beskermingsmaatreëls is ‘n waarborg dat jy nie ‘n slagoffer van ‘n ernstige geweldsmisdaad sal word nie. Maak seker dat jy ‘n plan het van wat om te doen as daar ‘n insident op jou plaas sou wees, ‘n onwettige grondbesetting of betreding sou plaasvind of as daar dalk enige ander wetsoortreding op jou plaas sou wees – soos byvoorbeeld die jag van wild met honde.

Beskermingsmaatreëls gaan jou nie vrywaar van ‘n insident nie, maar gaan die booswigte vertraag en jou waarsku om jouself voor te berei op dit wat kan volg.

  • Wees ten alle tye waaksaam en paraat. As daar iets is wat nie reg lyk nie of uit plek is, dan is daar gewoonlik fout. Wees op die uitkyk.
  • Besin oor hoe jy gaan optree indien jy ‘n slagoffer van ‘n ernstige geweldsmisdaad sou word. Gaan jy vries, weghardloop of terugslaan? Oefen om kalm te bly, die situasie reg te lees en die regte optrede dienooreenkomstig te neem. Wees kreatief om die booswigte uit te oorlê. Verstaan ook hoe ‘n booswig behoort op te tree.

Moenie probeer braaf wees nie – kry hulp.

  • Begin weer omgee vir mekaar en veral vir die mense rondom jou. Kom in ‘n roetine om veral jou bure op ‘n sekere tyd te kontak. As daar nie antwoord is nie, maak dadelik werk daarvan om uit te vind of alles reg is. Indien jy weggaan, stel jou vriende en bure in kennis en vra dat hulle ‘n oog oor jou belange sal hou. Net so moet jy ook weer jou bure en vriende help as hulle weg is.
  • Jou naaste bure is vir jou ‘n bate en kan help dat jy oorleef as daar probleme ontstaan. Sorg dat jy hulle ken en dat hulle jou familie, huis- en tuinwerkers ook ken. As die bure jou werf en huisopset ken, sal dit help as hulp benodig word. Sorg dat die bure se telefoonnommer op jou selfoon is en dat daar dalk ‘n WhatsApp-groep is waar baie mense vinnig gekontak kan word. As daar snelskakels op jou foon is, maak seker oor die volgorde van die nommers. Die eerste nommer wat jy bel, moet kan reageer as daar probleme is.
  • Jou eie plaaswerkers kan jou ook van baie inligting voorsien. Behou goeie betrekkinge met hulle en sorg dat jy luister as hulle praat. Sorg ook dat hulle weet hulle kan op jou staatmaak as daar probleme by hulle is, maar netso moet jy seker wees dat hulle jou sal kom help as jy in die moeilikheid is. Maak seker dat die arbeiders jou sal inlig as daar verdagte mense op die plaas of in die omgewing rondbeweeg.
  • Indien vreemdelinge sonder afspraak opdaag, moet daar ‘n protokol in plek wees oor hoe die mense hanteer moet word. Sorg dat die res van die familie en die huis- en tuinwerkers ook weet hoe hulle hanteer moet word.
  • Moet nooit vir enige vreemdelinge sommer die hek of deure oopmaak nie. Sonder dat die nodige identifikasie vertoon word en sonder dat die identifikasie geverifieer is, moet daar nie vir die mense toegang tot die perseel of huis gegee word nie. Soveel te meer nie saans nie. Daar is soms instansies wat jou ongenooid besoek, soos byvoorbeeld Eskom. Weet hoe om hulle te identifiseer en te hanteer. Maak seker dat hulle voertuie reg gemerk is en gaan verseker hul identifikasiedokumente na. Probeer so ver as moontlik sorg dat besoekers ‘n afspraak maak voor hulle jou kom besoek.
  • Indien daar aksieplanne in plek is, moet dit op ‘n gereelde basis geoefen word. Laat die bure weet wat gedoen gaan word en oefen ook saam met die gemeenskap om die oorhoofse veiligheidsplan glad te kan laat werk. Oefen ook om jou skietkuns en selfverdediging in plek te hou.
  • Moenie net uitgaan as die honde begin blaf nie. Kyk eers by die vensters uit – miskien wag die booswigte vir jou buite die deur. Net so ook as iemand klop. Kyk eers deur die loergaatjie en hou die veiligheidsdeur gesluit as die deur oopgemaak word.

Daar behoort aan die volgende aandag gegee te word om jou eie veiligheid te verseker:

  • Met goeie en betroubare inligting kan en kon baie ernstige geweldsmisdaadinsidente voorkom word. As daar verdagte persone of voertuie opgemerk word, lig die omgewing en veral die Polisie in en hou rekord van hul bewegings. Weet hoe om verdagtes te benader. Onthou hulle kan gewapen wees en wil dalk iemand leed aandoen. Gebruik die tegnologie tot jou beskikking en neem foto’s van hulle en van die voertuie.
  • Probeer om jou huis en belangrike punte met ‘n goeie heining te omring. Vir sigbaarheid is ‘n heining beter as ‘n muur. Die heining hoef nie noodwendig geëlektrifiseerd te wees nie, maar moet jou eie honde binne hou.
  • Diere is ‘n goeie afskrikmiddel en kan jou vroegtydig waarsku. Dink aan honde binne die huis, asook honde wat buite bly. Onthou ook dat honde oud word en met ouderdom neem hul effektiwiteit af. ‘n Kombinasie van beide honde en ganse is ‘n goeie metode om jou vroegtydig te waarsku.
  • Die hekke in die heining moet ten alle tye gesluit bly. Maak ook seker dat jy nie jou lewe in gevaar stel deur die hek oop te maak of te sluit nie. ‘n Sekuriteitskamera by die hek en ‘n elektriese hek sal baie help om jou te beveilig.
  • Digte bosse is ‘n goeie plek waar booswigte kan wegkruip. Sorg dat daar nie sulke plekke is nie en let veral daarvoor op in die tuin. Maak ook seker dat die area rondom die hekke, plaasafdraaie en T-aansluitings oop en skoon gesny is, sodat daar nie wegkruipplek is nie.
  • Maak seker dat die alarmstelsel en veiligheidsligte in ‘n werkende toestand is. Maak seker dat die veiligheidsligte weg van die huis af in die oë van die booswigte sal skyn. Sodoende sal dit vir die booswigte moeilik wees om te sien wat in die huis aan die gang is.
  • By die huis en kantoor se deure moet daar altyd veiligheidshekke wees en die hekke moet gesluit bly. Oorweeg die aanbring van toeslaanslotte om die hek mee te sluit. Vensters moet ook deur effektiewe diefwering beskerm word.
  • ‘n Veiligheidshek in die huis wat die leefarea en slaapkamers skei, is belangrik en moet in die nag gesluit word. Beplan egter ook ‘n ontsnaproete vir as daar dalk ‘n brand in die huis is wat die ingange versper.
  • Die slaapkamers moet verkieslik met ‘n brandblusser en ‘n noodkommunikasiestelsel toegerus wees. ‘n Versteekte radio of gelaaide ander selfoon is ‘n baie goeie alternatief.
  • As jy oor ‘n vuurwapen beskik, maak seker dat jy weet hoe om die wapen te gebruik en wanneer om dit te doen. Sorg dat jy die wapen in geval van nood maklik kan bekom. Maak seker dat die ander lede van die familie ook weet waar die wapens is en hoe dit gebruik moet word.
  • Bêre ander wapens op strategiese plekke om jouself mee te kan verdedig. ‘n Mes op ‘n strategiese plek mag dalk handig te pas kom. Dink kreatief.
  • Maak seker dat jy beheer oor jou motorvoertuigsleutels het. Bêre dit verkieslik op ‘n plek wat gesluit kan word of so nie, bêre dit op meer as een plek in die huis. Moet verkieslik nie die sleutel en sy spaarsleutel op dieselfde plek bêre nie. As daar ‘n probleem is, sal die booswigte eers die sleutels moet soek voor hulle met jou voertuie kan vlug.
  • Booswigte gebruik gewoonlik die plaas se eie gereedskap om toegang tot die huis te verkry. Maak seker dat die store en gereedskapkamers in die aande gesluit is. Maak seker dat veral die hoeksnyers en snyvlamme agter slot en grendel in hul eie kaste gebêre word. Moenie die gereedskapkamer of -kas se sleutel bo-op die deur se kosyn bêre nie – dit is die eerste plek waar die booswigte soek.
  • In die geval van ‘n ernstige geweldsinsident, is die kans baie goed dat iemand kan seerkry. Sorg dat jy weet hoe om noodhulp toe te pas en sorg dat daar ‘n toegeruste noodhulpkas beskikbaar is. Die noodhulpkissie moet verkieslik in die kamergedeelte van die huis gebêre word.
  • Roetine kan maklik teen jou gebruik word. As jy altyd ‘n sekere roetine volg, kan booswigte dit teen jou gebruik. Stop jy altyd op dieselfde plek as jy van die dorp af kom? Booswigte kan jou maklik hier inwag. Maak seker dat daar meer as een plek is waar jy stop. Moenie dink as jy van die kerk af kom dat jy vrygestel is van ‘n moontlike geweldsinsident nie. Inteendeel, jy is gewoonlik dan ‘n sagte teiken.
  • Jou plaaswerkers moet weet dat jy nie kontant op die werf het nie. Hulle moet ook verkieslik elektronies betaal word en slegs in uiterste gevalle moet kontant hanteer word. Probeer die verkoop van veral vee aan die publiek vanaf jou plaas tot die minimum te beperk.
  • Leer jouself om op fyn detail te konsentreer. Lê daar nie dalk ‘n leë koeldrankblikkie rond nie of is daar nie dalk sigaretstompies by die hek nie? Hierdie kan tekens wees dat moeilikheid dalk op pad is. Indien jou honde vergiftig is, maak dadelik ander planne, byvoorbeeld deur ganse te kry en skerp die ander veiligheidsmaatreëls baie op. Berei jouself voor, want daar kan dalk moeilikheid kom.

Weet wat is jou regte.

  • Dit is vir jou as produsent belangrik om aan die regte kant van die wet te bly. Vergewis jouself wanneer geskiet mag word, wanneer iemand gearresteer mag word, hoe die gearresteerde behandel moet word en wat alles as bewyse beskerm moet word. Dit help jou niks dat jy die booswig vang, maar hy kom vry op tegniese punte nie. Nog erger: Jy word dalk ook gearresteer omdat jy die wet oortree het.
  • Weet ook wie jy nie toegang tot die plaas mag weier nie. Reël met die betrokke instansies dat hulle altyd met jou as eienaar ‘n afspraak sal maak oor waar en wanneer hulle jou en jou werkers sal kom besoek. In die laatmiddag en aande moet jy uiters versigtig wees.
  • Die aanbring van plaasprotokolborde (kennisgewings) is ook aan te beveel ten einde toegangsbeheer te vergemaklik. Dit is egter belangrik dat daar reëls op jou eiendom van toepassing is en dat jou werknemers en hul besoekers kennis dra van die inhoud van hierdie reëls.

Plaasveiligheid is en sal altyd jou verantwoordelikheid bly. Dit is per slot van rekening jy wat die spit gaan afbyt. Maak moeite daarmee, oefen dit in en pas die planne aan. Al die georganiseerde landbou-organisasies en plaaslike Polisiekantore het ‘n volledige sekuriteitsplan. Kontak hulle gerus vir meer inligting. So nie, kan die outeur gekontak word by 082 759 2991.

DIE KORT EN DIE LANK VAN PLAASVEILIGHEID

Publication: January 2016

Section: Relevant

Search