• Login
  • Search Icon

Die korrekte hantering van lewende plantentstowwe is die sleutel tot biologiese sukses

March 2013

TEM ODENDAAL EN MORNÉ DE VILLIERS, SOYGRO

Entstof vir plante is lewende mikro-organismes wat op die plant groei en spesifieke voordelige funksies verrig. Die bekendste is Rhizobium entstof op sojabone en peulgewasse.

Entstof word ook wyd gebruik op bykans alle nie-peulgewasse, soos mielies, aartappels en groente. Dit lewer ‘n waardevolle bydrae tot plantproduksie deur die biologiese beskikbaarmaking van plantvoedingstowwe, groeistimulering en biologiese siekte-onderdrukking.

Biologie en chemie lewer saam die beste resultate. Die waarde van entstof vir plantproduksie kan nie oorbeklemtoon word nie. Die korrekte hantering van entstof en bewerkingspraktyke wat entstof bevorder, is die sleutel tot sukses.

image

Die basiese beginsels van lewende entstof

Entstof is lewende mikro-organismes en moet as sodanig hanteer word. Voordelige organismes benodig voeding en suurstof vir oorlewing. Rhizobium entstof leef in simbiose met plante en lewer klokslag die beste resultate as dit vars tydens plant toegedien word, want die jong saailing is die bron van kos.

Onoordeelkundige toediening van bemesting en gifstowwe benadeel entstof en kan dit selfs dood. Meer geharde entstowwe, soos Bacillus bakterieë en Trichoderma swamme, vorm oorlewingstrukture en kan ongunstige toestande beter hanteer. Dit is egter net soos Rhizobium bakterieë, steeds onderhewig aan die korrekte produksiebeginsels om goeie resultate te verseker.

Die aankoop en hantering van entstowwe

Die meeste entstowwe is gewasspesifiek en het spesifieke funksies. Maak dus seker dat die korrekte entstof aangekoop word. Rhizobium entstof vir sojabone kan byvoorbeeld nie op grond- en droëbone gebruik word nie. Dit sal nie doeltreffende knoppies vorm nie en kan selfs die opbrengs verlaag. Kombinasies van verskillende entstowwe word oor jare beproef en entstof moet nie na willekeur op die plaas gemeng word nie.

Berging van entstowwe

Entstof moet verkieslik in ‘n koel en droë omgewing gestoor word. Kamertemperatuur van tot 25°C is aanvaarbaar vir die meeste soorte entstowwe en dit hoef nie noodwendig verkoel te word nie. Rhizobium entstof is meer gevoelig vir temperatuuruiterstes – die meeste word benadeel bó 32°C. Vir langtermynberging is 6°C tot 20°C eerder geskik vir die meeste entstowwe. Wees versigtig om nie Rhizobium entstof te vries nie, want dit kan doodgaan. Dit is nadelig om entstof in ‘n warm stoor saam met chemikalieë te berg – die chemiese dampe is nadelig vir lewende organismes. Entstof wat op afleweringsvoertuie in direkte son vervoer word kan maklik 60°C bereik en doodgaan.

Hantering van entstof tydens plant

Op die land
Daar moet gewaak word teen hoë temperature by entstof en reeds behandelde saad op die sleepwa langs die land. Behandelde saad en entstof onder ‘n seil kan maklik 60°C bereik en die entstof laat afsterf. Dit is noodsaaklik om dit in die skadu, so koel as moontlik te hou en so gou as moontlik ná behandeling te plant. Die mengproses kan op die land in die son geskied op voorwaarde dat dit dadelik weer in die skadu geplaas word. Die toediening van entstowwe in die plantvoor verminder die risiko van uitdroging op die saad en lewer goeie resultate, veral waar daar in droër grond geplant word.

Saadbehandeling
Saadbehandeling met entstof lewer uitstekende resultate. Entstof is in direkte kontak met die saad en bied ook die voordeel dat noodsaaklike voeding, soos molibdeen, op die saad behandel kan word. Beide die saailing en entstofbakterieë word bevoordeel. Saadbehandeling het egter die nadeel dat saad hanteer moet word tydens plant en dus kan beskadig. Vloeibare entstoftoediening in die plantvoor is ‘n goeie alternatief wat wyd toegepas word, alhoewel dit nie al die voordele van saadbehandeling kan bied nie. By sojabone bly dit steeds die beste praktyk om entstof beide óp saad te behandel, en in die plantvoor toe te dien.

Die voorafbehandeling van entstof op saad is baie aanloklik vir produsente – dit lewer egter nie die beste resultate nie en hou ook risiko’s in. Entstof op saad is voeding vir ander organismes, soos swamme; dus kan voorafbehandelde entstof alreeds verteer wees tydens plant. Talle produsente word mislei deur voorafbehandelde saad op ou sojaboonlande te plant. Die resultate word verbloem deur knoppies wat vorm vanaf gevestigde entstof in die grond.

By gewasse soos droë- en grondbone, waar saad dikwels onderhewig is aan swambesmetting, bied saadbehandeling met swamdoders en molibdeen groot voordele deur ‘n beter stand te verseker. Die wydverspreide molibdeentekorte in Suid-Afrika, veral in die oostelike produksiegebiede, noodsaak produsente om self mieliesaad op die plaas te behandel om die korrekte dosis te verseker. Saadbehandeling met molibdeen is die doeltreffendste metode en kan nie vervang word met toedienings in die kunsmis nie.

Metodes van saadmeng
Saadmeng is uniek aan elke plaas. Die ou, tradisionele metodes is met ‘n drom wat skuins lê en gedraai word met ‘n slinger, saad op seile, in ou baddens, met skopgrawe of met die kaal hande. Dit het gemiddeld goeie resultate gelewer, behalwe vir die insidente waaroor almal swyg...Langdurige kontak met toksiese chemikalieë dra by tot kroniese siektes, ondoeltreffende vermenging dra by tot swak knoppievorming by peulgewasse en hardhandige vermenging met grawe verlaag ontkieming en stand. Daarna is saad ook uitgegooi op seile om af te droog. Onnodige hantering van saad benadeel stand en vereis bykomende arbeid. Daar is vandag handmengers beskikbaar wat die saad maklik draai en in ‘n rolbeweging meng wat sensitiewe saad nie beskadig nie.

Betonmengers wat op trekkers gemonteer word, kan groot hoeveelhede saad vinning en doeltreffend meng, die meeste mengers meng te vinnig en kan saad beskadig. Grond- en droëboonsaad is veral onderhewig aan beskadiging tydens die mengproses. Droëbone wat reeds tydens stroop beskadig is, toon fyn krakies wat nie opsigtelik is nie. Saadmeng kry dan die skuld vir die saadhuid wat afdop. Dit is gerieflik om saad vooraf te behandel – met chemie is dit aanvaarbaar, maar met lewende entstowwe is daar egter beperkinge. Saadbehandeling met entstof behels die natmaak van saad met ‘n kleefmiddel wat ook swamdoders en voeding, soos molibdeen, bevat en die vermenging van poeier entstof daarna. Gemeganiseerde mengers is meestal nie toegerus om entstof doeltreffend op die saad toe te dien nie.

Entstof en chemie
Swamdoders word algemeen op die saad behandel. Dit bied die voordeel van beter ontkieming, maar dit kan ook gevoelige entstowwe, soos Rhizobium, benadeel. Swamdoders is voordelig saam met entstof indien die korrekte dosis gebruik word en vars op die land tydens plant gemeng word. Die risiko om saad vooraf te behandel, kan nie oorweeg word nie. Insekdoders op saad kan suksesvol saam met entstof toegedien word en kan entstof selfs bevoordeel deur die onderdrukking van protozoa en aalwurm. Entstof word ook suksesvol toegedien saam met chemiese aalwurmdoders, want dit dood aalwurm en protozoa wat op entstof teer. Die korrekte gebruik van chemiese beheer saam met entstof kan opbrengste selfs verhoog.

Entstof in die plantvoor
Die toediening van entstowwe in die plantvoor vind veral inslag in gemeganiseerde praktyke. Dit skakel die hantering van saad tydens plant uit en verminder kontak met toksiese chemikalieë. Dit bied spesifieke voordele deur bykomende entstowwe in die rhizosfeer toe te dien, wat nie alleen met saadbehandeling moontlik is nie. Die unieke voordele van ‘n saadbehandeling kan egter nie vervang word nie.

Bewerkingspraktyke
Bewerkingspraktyke is deurslaggewend vir sukses met entstof. Sojabone is die unieke voorbeeld waar die voordele van entstof gewoonlik met die blote oog sigbaar is. Sojabone wat dus vir die eerste jaar op ‘n nuwe land geplant word, is onderhewig aan suksesvolle enting en die korrekte bewerkingspraktyke om biologiese stikstofbinding tot sy reg te laat kom. Sukses of mislukking is die resultaat van verskeie aksies en kan nie aan ‘n enkele faktor toegeskryf word nie.

Bewerking

‘n Goed voorbereide, suurstofryke saadbed en groeikragtige saailinge is deurslaggewend vir goeie resultate met knoppiesbakterieë. Talle nuwe bewerkingspraktyke, soos strook- en minimumbewerking, het die afgelope dekade inslag gevind, maar die aanpassing om sukses te verseker met entstof, word nie altyd toegepas nie. Die belangrikste bewerkingspraktyke om sukses met entstof te verseker, is die opheffing van verdigtingslae, suurstof in die bogrond en ‘n onkruidvrye saadbed tydens plant.

Onkruiddoders

Die korrekte gebruik van onkruiddoders wat ‘n onkruidvrye saadbed verseker, bevoordeel ook die werking van entstof. Let daarop dat onkruide wat op die land vrek en verrot, gifstowwe afskei wat beide die plant en entstof benadeel. Dit is daarom belangrik om in ‘n skoon, onkruid vrye land te plant – ongeag konvensionele of minimumbewerking. Doeltreffende onkruidbeheer tydens plant is dus ‘n logiese benadering om stres op saailinge en entstof tot die minimum te beperk. Na-opkomsbeheer moet tot die minimum beperk word. Onkruiddoderbespuitings op gewasse benadeel ook die entstof – veral in die geval van Rhizobium by peulgewasse. Indien na-opkomsbeheer toegepas moet word, probeer dit die eerste vier tot vyf weke vermy – ten alle koste. Bespuitings met valarms direk op onkruide, verminder gewasskade.

Bemesting

Doeltreffende bemesting is voordelig vir beide die gewas en ent stof. Entstof produseer nie op plante met voedingstekorte nie. Oorbemesting is dikwels die rede dat entstof nie na wense presteer nie. Sojabone is ‘n goeie voorbeeld van waar knoppies nie eers vorm indien té veel stikstof bemes is nie. Entstof bevorder die opname van alle plantvoedingstowwe, beide makro- en mikro-elemente. Die korrekte dosis en plasing van kunsmis is belangrik om resultate met entstof te verseker. Chemiese bemesting veroorsaak dikwels sout- en suurbrand wat entstof en opbrengs benadeel. Indien die fynwortelhare van saailinge beskadig is, benadeel dit ook die entstof. Die beste resultate word verkry deur kunsmis algeheel te versprei en verkieslik vier tot twaalf weke voor-plant toe te dien. Topbemesting, later wanneer entstof reeds
gevestig is, lewer goeie resultate. Indien bemesting tydens plant toegedien moet word, moet dit so ver as moontlik vanaf die saad en entstof geplaas word.

Wisselbou

Die voordeel van wisselbou kan verhoog word deur die gebruik van entstowwe by die verskillende gewasse in te skakel om veral siektes en aalwurm te onderdruk. By sojabone is dit bekend dat die Rhizobium bakterieë beter presteer en vestig waar aanplantings herhaal word. Lusern mag nie weer op ou lusernlande geplant word nie, want toksiese faktore kan veroorsaak dat die saad nie opkom nie. Mielies word vir jare lank in monokultuur geplant, met oënskynlik goeie resultate.
Indien entstof gebruik word, word daar dikwels drastiese verbeterings verkry deur biologiese siekte-onderdrukking en die voordeel van biologiese stikstofbinding. Fusarium en aalwurm speel ‘n groot rol in die gebruik van entstof en wisselbou. Entstowwe teen Fusarium lewer goeie resultate by grasgewasse, soos koring en mielies, terwyl entstowwe teen aalwurm weer by vatbare gewasse, soos sojabone en aartappels, gebruik word.

Entstof op blare

Entstof op blare word dikwels ingespan om siektes biologies te onderdruk en lewer veral goeie resultate indien dit voorkomend toegepas word. Die oorlewing van entstowwe op die blaar is nie noodwendig ‘n vereiste om goeie resultate te verseker nie. Dit skei voordelige metaboliete af wat sistemies in die plant beweeg en spesifieke funksies verrig. Dit kan oornag spore vorm en weer groei onder gunstige omstandighede. Entstowwe op blare kan veilig saam met swamdoders toegedien word, want dit dood nie die entstof nie. Dit is ook doeltreffend om ‘n swamdoder te gebruik teen akute besmettings en biologie ‘n paar dae later op die blare toe te dien om sodoende die biologiese balans te herstel.

Lewende organismes op blare lewer ook uitstekende resultate saam met blaarvoedings. Yster is ‘n uitstekende voorbeeld van waar entstof dit na ‘n organiese kompleks omskakel en die opname en beweging in die plant bevorder. Yster in ‘n organiese kompleks tree ook op as ‘n swam onderdrukker en as plantvoedingstof bevoordeel dit die voordelige organismes, biologiese stikstofbinding en plantproduksie.

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search