• Login
  • Search Icon

Die impak van voorraadvlakke op mieliepryse

March 2012

WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA EN BARRETT SCHOEMAN, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Die mark hou altyd asem op wanneer belangrike verslae soos die maandelikse wêreld vraag en aanbod- (WASDE) en die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK)-verslag asook die plaaslike Sagis Bulletin gepubliseer word. Die aandag van die mark val veral op die voorraadvlakke aangesien dit ‘n aanduiding is waarheen pryse moontlik in die toekoms kan beweeg. Plaaslike en internasionale voorraadvlakke het ‘n groot impak op pryse.

Internasionale faktore wat voorraadvlakke beïnvloed

Gewasverbouing regoor die wêreld word gekenmerk deur unieke produksiesiklusse wanneer die gewasse aangeplant en geoes word. Graanpryse fluktueer die meeste gedurende die produksieseisoene omdat verwagtinge rakende aanbod groot spronge kan maak gebaseer op die aangeplante hektare, weerstoestande en produksieomstandighede.

Dit is belangrik om te weet wanneer uitvoerlande hul voornemens om te plant bekendmaak en wanneer die verwagte oeste gelewer word. Omdat kommoditeite seisoenaal geproduseer word, plaas oesdruk en voorraadvlakke in die groot uitvoerlande gewoonlik druk op internasionale pryse.

Plant- en strooptyd in die VSA
In die VSA word die meeste van die mielies in die midweste verbou. Die mees suidelike dele plant eerste aan en soos die sneeu in die noorde verdwyn, begin die noordelike dele aanplant. Met die rekordhoë prysvlakke wat tans ervaar word, kan verwag word dat produsente in die Noordelike Halfrond hul mielieproduksie kan uitbrei. Die VSA produseer 39% van die wêreld se mielies. Mielies word vanaf April tot Junie aangeplant, terwyl mielies gedurende Oktober tot November geoes word.

Plant- en strooptyd in Sjina
Sjina produseer 21% van die wêreld se mielies. Volgens berigte, beplan dié land om tot einde September 4 miljoen ton mielies in te voer en teen einde 2013, 7 miljoen ton mielies. Dit kan groter druk op die reeds lae wêreldvoorraadvlakke plaas indien hierdie invoere sou realiseer. In Sjina word mielies vanaf middel-Maart tot vroeg in Junie aangeplant. Mielies word vanaf middel-Augustus tot laat Oktober geoes.

Prysvooruitskatting
Vraag en aanbod is ‘n eenvoudige vergelyking en inligting hieroor is redelik beskikbaar, maar dit raak uiters ingewikkeld sodra pryse vooruitgeskat moet word. Kommoditeite verhandel in siklusse. Soos tans die geval is, is voorrade knap en verhandel pryse teen hoë prysvlakke.

Sodra voorraadvlakke styg, kan prysvlakke weer afneem. In Grafiek 1 is die impak van die maandelikse voorraadvlakke in die VSA op pryse duidelik. Let op dat voorraadvlakke tans laag is en dat pryse hierdeur ondersteun word. Voorraadvlakke kan nie veel laer daal nie en met die huidige hoë pryse kan verwag word dat wêreldproduksie in die Noordelike Halfrondlande (wat gedurende Maart tot April moet begin plant) kan toeneem. Let ook op hoe vinnig voorraadvlakke in die verlede herstel het, maar ook dat VSA voorraadvlakke vir die afgelope twee jaar laag gebly het.

image

Die maandelikse WASDE-verslag
Die maandelikse WASDE-verslag wat deur die VSA se Departement van Landbou (USDA) gepubliseer word, is een van die belangrikste en betroubaarste verslae wat deur die mark gebruik word om prysrigting van kommoditeite te kan bepaal.

Hierdie verslag projekteer die wêreld, VSA en verskeie groot produserende lande se produksie, verbruik en eindvoorraadvlakke. Dit is veral die eindvoorraadvlakke wat die mark geïnteresseerd hou. Pryse reageer positief teenoor lae voorraadvlakke en is gewoonlik onder druk wanneer voorrade blyk om genoegsaam te wees, soos nou die geval is met die lae VSA mielie- en hoë wêreld-koringvoorrade. Kyk dus uit vir die verskyning van die WASDE-verslag.

VSA mielievoorraadvlakke
VSA mielievoorraadvlakke het die afgelope tyd onder druk gekom nadat ‘n groeiende vraag na mielies, veral uit dele soos Sjina, Afrika en Meksiko toegeneem het.

Weens ‘n groeiende vraag na mielies, het produksie nie hiermee tred gehou nie en het voorraadvlakke tot ‘n kommerwekkende laagtepuntvlak gedaal (Grafiek 1). Die blou pyle in Grafiek 1 dui op Oktobermaand wanneer produsente mielies in die VSA begin oes.

Dit is interessant om daarop te let dat VSA voorraadvlakke in die verlede vinnig kon herstel. Voorraadvlakke was egter gedurende die twee afgelope oesseisoene op baie lae vlakke sonder om te herstel.

Ook blyk dit asof Sjina se invoere verder gaan toeneem en dat Suidelike Halfrondlande (Argentinië) oesskade ervaar wat groter druk op VSA voorraadvlakke en uitvoere plaas. Die VSA vry-aanboord (v.a.b.)-mielieprys het sedert die skerp daling in voorraadvlakke in Augustus 2010 positief gereageer en met 63% tot 5/ton in Februarie 2012 gestyg. VSA mieliepryse het egter in dié tydperk ‘n hoogtepuntvlak van 6/ton in Junie 2011 bereik.

Sedert September 2004 het voorraadvlakke in die VSA aansienlik begin toeneem. Voorrade het bly styg tot rekordvlakke van 61,62 miljoen ton in Januarie 2006. Die VSA mielieprys was gevolglik gedurende die periode onder druk en het gemiddeld teen 4/ton verhandel. Pryse word deur vraag en aanbod bepaal en dit kan duidelik waargeneem word.

Ander faktore wat pryse bepaal
Pryse word egter nie net deur voorraadvlakke bepaal nie. Ander fundamentele faktore wat ook ‘n groot effek op pryse kan hê, sluit onder andere in vooruitsigte vir wisselkoerse, ruoliepryse, weersomstandighede, politieke situasies en die produksie van groot invoerlande. So byvoorbeeld het die VSA mielieprys sedert Julie 2007 tot Oktober 2007 ten spyte van ‘n toename in VSA voorraadvlakke, gestyg.

Die plaaslike voorraadvlaksituasie

Aangesien Suid-Afrika ‘n belangriker rolspeler in die uitvoermark van mielies gedurende die afgelope paar jaar geword het, kompeteer lande soos die VSA, Argentinië en Suid-Afrika toenemend vir dieselfde uitvoermarkte. Gevolglik word plaaslike pryse in ‘n groot mate deur internasionale faktore, spesifiek in ‘n meerdere mate die VSA, beïnvloed.

Graan SA projekteer dat witmielievoorraadvlakke in Suid-Afrika gedurende die 2011/2012-bemarkingsjaar ‘n laagtepuntvlak van slegs 264 000 ton teen April 2012 kan bereik (Grafiek 2). Die historiese laagtepuntvlak is weens ‘n goeie vraag na Suid-Afrikaanse witmielies, veral vanuit Meksiko.

Die maandelikse Sagis voorraadvlaksyfer is egter met die skryf van die artikel slegs tot einde Desember 2011 beskikbaar en word tans op 2,2 miljoen ton geskat. ‘n Aanname is gemaak dat die voorraadvlaksyfer teen gemiddeld 494 000 ton per maand vir die volgende vier maande kan afneem tot ‘n geprojekteerde 264 000 ton.

Witmielievoorrade se laagtepuntvlak in die huidige bemarkingsjaar (2011/2012) het daartoe gelei dat die plaaslike witmielieprys rekordprysvlakke van byna R2 696/ton bereik het. Plaaslike pryse volg die internasionale prystendense en dit kan afgelei word dat indien wêreldvoorraadvlakke op die huidige kommerwekkende lae vlakke bly, plaaslike pryse deurlopend goeie prysondersteuning kan geniet.

Die geelmielieprys het dié seisoen dieselfde tendens as die witmielieprys getoon (Grafiek 3). Die geelmielievoorraadvlakke het in die 2011/2012-bemarkingsjaar tot historiese lae vlakke gedaal as gevolg van ‘n 14% afname in produksie en ‘n 11% toename in die verbruik van geelmielies in die voermark. Meer geelmielies is ingevoer en in die Wes-Kaap voermark verbruik nadat witmielies in die uitvoermark teen premies verkoop is. Die geelmielieprys het weens die lae voorraadvlakke tot rekordprysvlakke van R2 725/ton gestyg.

Uit die grafieke is dit sigbaar dat internasionale faktore steeds ‘n impak op ons plaaslike mieliepryse het. Ten spyte daarvan dat Suid-Afrika se mielievoorraadvlakke dié seisoen kommerwekkend laag is, het negatiewe internasionale faktore, wat op hoë wêreldkoringvoorrade dui, druk op plaaslike pryse geplaas.

image

Jongste markvooruitskouing

Die Ekonomiese Navorsingsdiens van die USDA is van mening dat VSA mielie-uitvoere vir die VSA 2011/2012-bemarkingsjaar vir mielies (September tot Augustus) met byna 1,3 miljoen ton (50 miljoen skepel) kan toeneem. Hierdie uitvoere word toegeskryf aan die laer vooruitsigte vir produksie in Argentinië. VSA mielievoorrade neem wel tot ‘n klein mate toe, wat aan verhoogde mielie-invoere toegeskryf word. Die Europese Unie se mielie-invoere neem ook toe. Wêreld voorraadvlakke word laer geprojekteer omdat Argentinië se produksie 4 miljoen ton laer kan wees.

Sjina en Venezuela
Sjina se verwagte invoere vir die 2012 jaar behoort 4 miljoen ton te beloop en 7 miljoen ton in 2013. Neem ook in ag dat terwyl Argentinië se produksie met 4 miljoen ton verlaag, Venezuela se invoere uit die VSA volgens statistieke nie meer plaasvind nie. Dit blyk asof Venezuela en Iran meer gemeen het as Venezuela en die VSA. Suid-Afrika het gedurende die huidige bemarkingsjaar 30 000 ton witmielies na Venezuela uitgevoer en dié land kan ook ‘n belowende bestemming vir Suid-Afrikaanse witmielies wees. Waarskynlik weens die lae voorraadvlakke in die VSA, het Sjina pas ‘n ooreenkoms met Argentinië aangegaan om mielies vanuit dié land in te voer. Indien Suid-Afrika se onderhandelinge met Sjina goed verloop, kan Suid-Afrika vanaf 2013 ook gelys word as ‘n voorsienersland van mielies na Sjina.

Suid-Afrika se vraag en aanbod
Uit Tabel 1 kan gesien word dat Suid-Afrika nagenoeg 11,145 miljoen ton mielies vir die 2012/2013-bemarkingsjaar kan produseer. Die eerste oesskattingsyfer kon nog nie met die skryf van hierdie artikel in ag geneem word nie. Dit is egter algemeen bekend dat die gemiddelde reënval vir die huidige produksieseisoen laer as die vorige seisoen is. Indien weersomstandighede enigsins daartoe lei dat Suid-Afrika se oes 9% kleiner gaan weens as gevolg van ‘n tekort aan voldoende reënval asook droogte en hitte in bestuiwingstyd, kan dit beteken dat mielies beskikbaar vir uitvoere (1 142 000 ton mielies) tot 602 000 ton kan afneem. Om ‘n voldoende hoeveelheid mielies vir die pyplynvoorraad te hê, sal invoere van ongeveer 733 000 ton mielies nodig wees.

image

Opsomming

Die fundamentele faktore wat mieliepryse vir die nuwe bemarkingsjaar, wat op 1 Mei ‘n aanvang neem, grootliks kan bepaal, is die volgende:

  • Rekord-lae oordragvoorrade van 606 000 ton in Suid-Afrika teen 30 April 2012.
  • Plaaslike produksie-omstandighede wat die oesverwagting in Julie negatief kan beïnvloed, kan tot laer beskikbare voorrade vir uitvoere lei en dit kan selfs nodig word om in te voer.
  • Rekord-lae oordragvoorrade teen 1 September 2012 in die VSA. Let op dat VSA pryse tot ‘n groot mate beïnvloed kan word deur VSA produsente se voornemens om te plant. VSA produsente plant vanaf April tot Junie aan. Met die huidige hoë internasionale mieliepryse kan verwag word dat lande in die Noordelike Halfrond mielieproduksie kan uitbrei. Die nuwe voorrade is vanaf September, wanneer hierdie lande begin oes, beskikbaar en vooruitsigte vir voorraadtoenames kan pryse beïnvloed.
  • Ruoliepryse en die winsgewendheid van die bio-etanolbedryf in die VSA kan pryse in die kort termyn beïnvloed. Die dreigende konflik met Iran kan daartoe lei dat ruoliepryse styg en hoer mieliepryse ondersteun.
  • Alhoewel verbruikersweerstand druk op mieliepryse plaas, blyk dit asof die fundamentele faktore oorwegend ‘n bulmark ondersteun. Plaaslik neig mieliepryse om gedurende oestyd nader aan uitvoerpariteitsprysvlakke te verhandel, maar prysvlakke kan vinnig verander indien produksie-omstandighede met die laer as normale reënval wat ervaar word, ‘n groter rol in produksievlakke speel.

Vooruitsigte rakende die verwagte voorraadvlakke vir Suid-Afrika, Argentinië, die VSA en Sjina gaan bepalend wees vir pryse gedurende oestyd.

Publication: March 2012

Section: Wenartikels

Search