• Login
  • Search Icon

Die groot sit

March 2011

Beste Grootneef

Neef Dissie vertel dat met Noag se sondvloed, hulle in sy geweste net die weerlig vêr in die weste sien uitslaan het.  Skaars stofnat by hulle gewees.  As die ark nie teen Ararat vasgedryf het nie, kon Noag en sy mense dalk destyds al wingerd in Orania gevestig het.

Hoe dit ook al sy, vanjaar is dit anders.  Waters soos lank laas gesien is, het wingerd en landery verswelg.  Die vloed was in die bolope van die Vaal driftig en meesleurend.  In die dele stroomaf het oewerboere magteloos staan en kyk hoe die samevoeging van die Oranje en Vaal tree vir tree styg, en mensgemaakte sandskanse met minagting oorspoel het.  Party praat van hoogste water in heugenis.  Huise en werwe wat veertig jaar veilig was, kniediep in die water.  Selfs in die Rigtersveld word vertel van die water wat plek-plek uit die lope van die rivier die veld in is. 

Neef Dissie vertel verder van sy groot sit.  Na ‘n nag van reën, is hy die vroeg oggend met die Cruiser veld in om alles deur te kyk.  Alles goedgegaan tot sagte modder die Cruiser se malende wiele vasgesuig het.  Tot op sy pens, het die Cruiser in die modder loop lê.  Met wring-as en kabel om ‘n boom geanker, is gepoog om ta uit te sleep.  Die tweestryd is egter deur swaartekrag gewen, met ‘n nerf-af boom en uitmekaar geplukte wring-as die enigste resultaat. 

In die vlakte om die Cruiser was daar nie ‘n sweempie van ‘n selfoonsein nie.  Al raad was voete slaan na die koppe toe.  Daar gekom, laat weet hy die huis dat die trekker moet kom om te help uitsleep.  Met trekker en drywer in posisie is die kabel ingespan – maar o weë, na ‘n gespook en gespartel was dit 2-0 vir die modderbad.  Die trekker ook vas tot op sy as!  Die nood was nou groot, want die naaste ander trekker was 70km vêr.  Al raad was om weer terug te stap koppe toe, die sel te swaai tot ‘n strepie sein opgespoor is en Ouboet te vra dat die “groot” trekker op ‘n lorrie aangery word om te kom help met die groot sit.  Die lorrie en trekker het eers teen laatmiddag opgedaag en met wroeg en stoei, is eers die trekker en daarna die Cruiser uit die modderpappery gesleep.  Wys jou die krag van die natuur, selfs nadat die water sy loop geneem het!

Die vraag op almal se lippe is egter of die vloede vanjaar mensgemaakte rampe is.  Verwyte word geslinger dat die waterfiskale wag tot damme oorlopens toe vol is, boonop met nuwe vloedwater oppad, voordat te veel sluise tegelyk oopgetrek word, om sodoende die piek van waterlope stroomaf, met verwoestende hoogwaters te oorvloei.  Boere sê dat met behoorlike bestuur van die in- en uitvloei by damme, baie skade voorkom kon word.  Duidelik is alles nie pluis nie, maar hoe maak jy nou as jou huis, haard en landery onder vuil modderwater verdwyn het?

Hulp van die staat kan waarskynlik vergeet word, daar is net te veel skade en sal hulp moontlik net vir verlore infrastruktuur beskore wees. 

Wat gaan die mielie-oes maak?  Dit is almal se vraag.  Die Yankies praat van “rain makes grain”.  Of die jong mielies die versuiptoestande sal kan ontgroei met ‘n top oes, is egter ‘n ope vraag. 

Hoe dit ook al sy.  Die beeste wei rugdiep en lui in die Smutsvinger.  Teen vroegoggend gaan lê hul op die wenakker en herkou – dik gevreet.  Soos Oupa gesê het, as jou beeste kos het, is daar nie ‘n lekkerder ding as om te boer nie.  Ou Neef, met al die reën en mooi veld om ons, dink mens moeilik aan droogte.  Onthou egter, die laaste werklike droë jaar wat ons getref het was in 1990/1991.  Voorspoed kan nie altyd hou nie.  Vanjaar maak ek bale voer by dosyne, ons weet nie wanneer die sewe maer jare aanbreek nie. 

Die Graan SA Kongres vind weer vroeg in Maart plaas.  Hierdie jaar is ek beslis gestewel en gespoor daar om te hoor wat ons vanjaar te doen staan.  Ons span afgevaardigdes ry saam vir die okkasie.  Hoop om jou daar te sien.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: March 2011

Section: E-mails

Search