• Login
  • Search Icon

Die gronddebat

April 2018

JANNIE DE VILLIERS, HUB

Ek moet sê ek is werklik trots op die manier waarop Graan SA se lede die uitdaging oor die kwessie van onteiening sonder vergoeding tydens Kongres 2018 bespreek en hanteer het. Vir my was dit ‘n belangrike deurbraak, waar die middelgrond tussen linkse en regse emosies op die ou einde geseëvier het. Mag dit ‘n voorloper wees vir wat nog kom!

In die debatte deur al die “spesialiste” in ons samelewing wat ek in die media volg, het een analise my gedagtes tot stilstand geruk: Ons 1994-Grondwet is in beginsel op ‘n herstel van regte (restorative justice) gebaseer, terwyl sommige in die huidige debat die eiendomsregklousule na ‘n strafregtelike aksie (punitivejustice) wil neem.

Die reënboogdroom van 1994 het emosies by mense opgewek wat die potensiaal het om genesing aan ons stukkende verhoudings in die land te bring. Daar is genesing in vergifnis en vryspraak, maar daar is bitterheid en wraak waar daar nie herstel plaasvind nie. Dit gaan vir my dus heelwat verder as net die wyse waarop onteiening moet plaasvind.

Graan SA het genoegsaam bevestig dat onteiening as sodanig oral in die wêreld se Grondwette voorkom en toegepas word en dat ons dit verstaan. Die sleutelwoord wat al die emosie opwek, is die “sonder vergoeding” (without compensation). Dit is nie met herstel nie, maar met straf gelaai. 

Is die behoefte van sommige dat witmense gestraf moet word, of is die ware behoefte plaasgrond om op te boer? Dit is interessant dat die grondbesetting deur lede van die rooi barette onlangs in Olievenhoutbos nie gemik was op landbougrond nie, maar op grond vir behuising. Ek wonder of die keuse van grond maar net gebaseer was op die toegang van die media tot die grond sodat hulle die nuus kan haal, of was dit gebaseer op hul spesifieke behoeftes?

Ek het beslis nie onder die indruk gekom dat hierdie mense noodwendig wil boer nie. Kan hierdie mense nie gehelp word om huise met titelaktes te bekom nie? Ons hoor gereeld van die Free Market Foundation se inisiatiewe ten opsigte hiervan, maar ek sien nie dat die Staat met dieselfde entoesiasme deelneem om ons stedelinge met titelaktes te ondersteun nie.

Ek het al van ‘n groot aantal produsente gehoor wat beslis bystand sal verleen dat hulle werkers besitreg – en nie net verblyfreg nie – van huise op die dorp kry.

Wat ek wel waarneem, is dat hierdie gedagte van onteiening sonder vergoeding beslis ‘n klompie grondplate geskuif het. Menige rolspelers dink ver buite die vaste denkraamwerke van die afgelope 20 jaar om na nuwe oplossings te soek. Dit is ‘n wins. Ek bly nog vas oortuig dat dit georganiseerde landbou se tyd is om oplossings te bring.

Die feit dat ons nog nie daarin kon slaag om genoegsame swart produsente op kommersiële skaal te kon vestig nie, was bloot omdat ons die proses meestal in die Staat se hande gelaat het. Die finansiële instellings was vasgevang in die regulatoriese raamwerke en moet nou oplossings na vore bring wat selfs die raamwerk om finansiering te bespoedig, moet verander.

Ek vertrou dat as ons oor ‘n paar jaar terugkyk na 2018 en 2019, ons trots sal wees op wat ons vermag het om ons land van ondergang te red. ‘n Paar uiters belangrike vergaderings is vir einde Maart belê, wat ek glo rigtinggewend sal wees vir wat die toekoms inhou. 

Die blote bestaan van ‘n organisasie soos Graan SA is al ‘n belangrike boublok om die toekoms te rig. Dankie vir elkeen se bydrae en sterkte aan al ons onderhandelaars. 

Publication: April 2018

Section: Features

Search