• Login
  • Search Icon

Die geval van die bokse – moet nie ‘n slagoffer van “pseudowetenskap” word nie

July 2017

DR PIETER HAUMANN, hoof uitvoerende beampte, Fertasa

Pseudowetenskap bestaan uit bewerings, gelowe en praktyke wat as wetenskaplik en geloofwaardig voorgestel word, maar nie deur wetenskaplike metodes geregverdig kan word nie.

In die praktyk is “pseudowetenskap” die verkondiging van uiterse onsin op só ‘n manier dat die slagoffer glo dat dit ‘n wetenskaplikbewese feit is.

Hierdie soort ding gebeur dikwels – sedert die vroegste tye in besigheid, vandaar die gesegde “Caveat emptor” oftewel koper wees versigtig!

Die geval van die bokse
Een van die mees bisarre gevalle van die afgelope tyd is dié van die “Bokse”. Die uitvoerders van hierdie verneukspul het produsente wat die afgelope tyd slegte seisoene beleef het, met oeste wat erg benadeel is deur droogtes, uitgebuit. Die bewerings oor die bokse was so oortuigend dat meer as 50 000 ha “behandel” is.

Volgens lede van Fertasa is dit tragies om die lande van die slagoffers te aanskou na die wonderlike reëns waarmee die boerderygemeenskap geseën is.

Die uitvoerders van hierdie verneukspul sal hopelik aan die pen ry, maar geweldig baie skade is aangerig. Dit is ook moeilik om te bepaal onder watter dissipline die oortreding ressorteer aangesien “energievelde” genoem is en niks eintlik aan die grond toegedien is nie.

Vermyding van herhaling van soortgelyke voorvalle
Produsente moet nie “nuwe en wonderlike” toestelle of middels gebruik voordat daar eers bewyse van werking en evaluasie van wetenskaplike bewerings gesien is nie. Een van die eerste mense om te kontak, moet betrokke wees by/of werk vir ‘n maatskappy wat ‘n lid van Fertasa is.

Verantwoordbaarheid word hoog aangeskryf by maatskappye wat lede van Fertasa is. Hulle streef na verskeie beginsels, insluitende:

  • Beskerming van gewasprodusente teen twyfelagtige verskaffers; en
  • onderwerping aan ‘n gedragskode wat die integriteit van die kunsmisbedryf bevorder

Om meer inligting oor Fertasa te verkry, gaan na die webwerf www.fertasa.co.za

Publication: July 2017

Section: Focus on

Search