• Login
  • Search Icon

Die ABC van Slenkdalkoors

March 2013

DR JAN H DU PREEZ, BESTURENDE DIREKTEUR: INSTITUUT VIR SUIWELTEGNOLOGIE

Slenkdalkoors is ‘n ernstige (akute) insekgedraagde (muskiete) virussiekte van skape, bokke en beeste (hoefdiere). Slenkdalkoors hou ook ‘n groot gesondheidsgevaar vir die mens in.

Die naam “Slenkdalkoors” kom van die Slenkdalgebied in Kenia, waar die siekte die eerste keer beskryf is. Die virus wat Slenkdalkoors veroorsaak, is die eerste keer in 1930 geïsoleer tydens ‘n epidemie onder skape in die Slenkdalgebied. Tydens die epidemie het die siekte ook mense in daardie gebied aangetas.

Van 1950 tot 1956 was daar verskeie epidemies van Slenkdalkoors onder skape en beeste in Suid-Afrika, waartydens mense ook die siekte opgedoen het. In 1953 is die virus wat Slenkdalkoors veroorsaak, uit muskiete (Culex theileri en Aedes caballus) gekweek nadat die siekte onder skape uitgebreek het.

Van 1969 tot 1976 het verskeie wydverspreide uitbrake van Slenkdalkoors onder skape en beeste in Suider-Afrika voorgekom en uiteraard groot geldelike verliese vir produsente tot gevolg gehad. Met ‘n uitbraak in 1975 van Slenkdalkoors onder skape en beeste in Suid-Afrika, was daar ook sterfgevalle onder mense wat die siekte opgedoen het. Dit wil voorkom of Slenkdalkoors in sewe- tot tienjaar- of langer siklusse voorkom. Hierdie siklusse word bepaal deur reënneerslae.

image

Hoe diere besmet word

Aanvanklik word die diere besmet as hulle deur muskiete, wat die virus dra, gebyt word. Hierna word die diere direk besmet deurdat hulle blootgestel word aan geaborteerde fetusse en besmette materiaal.

Siektetekens

Lammers en bokkies onder die ouderdom van twee weke is baie vatbaar. Hulle word baie gou siek, gewoonlik binne 24 uur - 72 uur na besmetting. ‘n Hoë koors tussen 41°C en 42°C ontwikkel, hulle is lusteloos en verloor hul eetlus.

Die koors daal kort voordat hulle vrek. Tot 95% van lammers kan vrek. Skape is lusteloos met ‘n koors van tot 42°C, traag om te loop, het buikpyn, vinnige asemhaling, eet nie, gooi maaginhoud op, het bloed in die mis, slegruikende diarree en soms geelsug.

Dragtige ooie aborteer en die geaborteerde fetus ontbind gou. Vrektes onder ouer skape is soms tot so hoog as 15% - 30% en tussen 40% en 60% van die ooie kan aborteer. Die kliniese tekens van bokke is gewoonlik minder erg as dié van skape. By kalwers kom ligte kliniese tekens en 10% - 15% vrektes voor. By volwasse beeste is die voorkoms van aborsies (10% - 40%) soms die enigste siekteteken.

image image






Wanneer Slenkdalkoors voorkom

Die siekte kom gewoonlik in die laat somer voor, as dit warm is en die lugvogtigheid hoog is as gevolg van baie reën. Die muskiete wat Slenkdalkoors oordra, broei dan uit. Diere wat in die somer in laagliggende dele by panne, vleie en damme wei, loop die grootste risiko om Slenk dalkoors te kry, want muskiete is baie aktief in daardie gebiede. Slenk dalkoors het ‘n bepaalde oorlewingstrategie wat ‘n rol speel in wanneer die siekte gaan uitbreek.

image

Menslike besmetting

In Suid-Afrika raak mense gewoonlik besmet deur regstreekse aanraking met die Slenkdalkoorsvirus indien hulle nadoodse ondersoeke op besmette karkasse of geaborteerde fetusse doen of in laboratoriums met die virus werk. Slenkdalkoors is ‘n soönose (siekte oordraagbaar van die dier na die mens).

Die virus dring die liggaam binne deur die slymvlies of krakies en seertjies in die vel. Dit is veral veeartse, veeboere en plaaswerkers wat ‘n gevaar staan om besmet te raak.

Teoreties kan ‘n mens ook Slenkdalkoors opdoen deur inname (byvoorbeeld die drink van besmette melk) of deur inaseming, maar hierdie twee roetes van besmetting is minder algemeen.

Omdat Slenkdalkoors by diere soms sonder sigbare uiterlike tekens voorkom, kan abattoirwerkers die besmetting opdoen in die normale uitvoering van hulle pligte. ‘n Mens kan in uitsonderlike gevalle deur die byt van ‘n virusdraende muskiet ook besmetting van Slenkdalkoors opdoen, maar dit is baie raar.

Siektetekens by mense

Die broeityd (vanaf besmetting tot die verskyning van die eerste siektetekens) wissel van drie tot sewe dae. Die siektetekens is griepagtig en begin skielik. Van die aanvanklike simptome is spierpyn, koue koors, vomering, bloederige urine, donker stoelgang, ligsensitiwiteit, swak sig, rugpyn, gewrigspyn, hoofpyn en koors. Die meeste mense herstel ná ‘n week of twee.

In 1% tot 5% van gevalle word pasiënte se oë aangetas, maar dit is meestal tydelik. Die lewer en oë word gewoonlik later aangetas en die pasiënt toon ‘n geneigdheid tot bloeding. In ‘n klein persentasie van gevalle kan die retina van die oog loskom en tot blindheid lei.

Die siekte kan ook verskeie ander simptome tot gevolg hê. Slenkdalkoors is noodlottig in minder as 0,5% van gevalle weens ernstige hepatitis (lewerontsteking) en enkefalitis (harsingontsteking).

Diagnose by die mens

Waar ‘n mens Slenkdalkoors opdoen, is daar gewoonlik ‘n geskiedenis van noue kontak met siek diere, of met diere wat weens Slenkdalkoors gevrek of geaborteer het. Mense wat dus met sulke diere in aanraking was en daarna tekens van die siekte begin toon, moet onverwyld ‘n geneesheer raadpleeg.

Slenkdalkoors moet onderskei word van ‘n ander virussiekte wat as Wesselsbronsiekte bekend staan en waarvan die siektesimptome baie met dié van Slenkdalkoors ooreenstem. Uitbrake van Slenkdalkoors by diere kom meestal in die reëntye gedurende die laat somer en herfs voor (Slenkdalkoorsseisoen) en dit is dan gewoonlik die tyd wanneer mense die siekte opdoen.

Diagnose by die dier

‘n Veearts moet ‘n nadoodse ondersoek doen en monsters neem vir bevestiging van die siekte. Kliniese tekens by diere en die geskiedenis van vrektes sal ‘n veearts help om ‘n diagnose te maak. Wanneer daar aborsies en vrektes van jong diere voorkom, moet Slenkdalkoors in gedagte gehou word. Produsente moet onder geen omstandighede nadoodse ondersoeke probeer doen nie.

Voorkoming en beheer

Sekere maatreëls behoort toegepas te word om Slenkdalkoors te voorkom en te beheer. Die volgende stappe is belangrik:

  • Dit is nie prakties moontlik om die vektore (muskiete) van die Slenkdalkoorsvirus uit te roei of effektief te beheer nie en daarom is immunisering van beeste, bokke en skape die enigste praktiese en werkbare beheermaatreël. Die periodes tussen Slenkdalkoors uitbrake is baie lank (jare) en daarom ent die meeste vee-eienaars nie hulle diere nie en is die oorgrote meerderheid vee in Suid-Afrika vatbaar vir Slenkdalkoors. Indien Slenkdalkoors sou voorkom, sal dit baie vinnig van plaas tot plaas versprei.
  • Lewende Slenkdalkoorsentstof. Die lewende entstof wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) gemaak word, kan in alle nie-dragtige beeste, skape en bokke gebruik word en gee goeie beskerming in alle vee. Die lewende entstof is goedkoper as die dooie entstof en die dier moet volgens voorskrif (raadpleeg jou veearts) ingeënt word. Dit is maklik om die lewende entstof te produseer. Moenie dragtige diere met die lewende entstof inent nie, want ‘n klein persentasie aborsies of fetale misvorming kan voorkom. Die nuwe RVF Clone 13 entstof van OBP kan vir alle diere, insluitend dragtige diere vanaf sesmaande-ouderdom toegedien word. Jong diere kan met veiligheid vanaf tweemaande-ouderdom ingeënt word, mits hul moeders nie vir Slenkdalkoors ingeënt was nie.
  • Dooie (geïnaktiveerde) Slenkdalkoorsentstof. Dragtige diere/vee kan met die dooie entstof ingeënt word. Hierdie entstof is duur en tydrowend om te produseer en het ‘n kort rakleeftyd van ‘n jaar. Diere moet jaarliks gedurende die lente met die dooie entstof ingeënt word. Jong diere of diere wat nog nie voorheen met die dooie entstof ingeënt is nie, moet drie weke ná die aanvanklike inenting ‘n tweede of skraagdosis-inenting kry. Diere ontwikkel eers ‘n goeie immuniteit twee tot drie maande ná inenting. Dit sal verseker dat hulle nie die siekte opdoen nie en so word mense wat met sulke diere werk of noue kontak het, onregstreeks beskerm. Raadpleeg ‘n veearts aangaande immuniseringsprogramme.
  • Die dra van beskermende klere wanneer nadoodse ondersoeke gedoen word, is van uiterste belang. Ontsmet alle apparaat ná gebruik wanneer ‘n nadoodse ondersoek gedoen is. Karkasse moet verbrand of begrawe word.
  • Pasteurisering van melk (hittebehandeling van die melk teen 72°C vir 15 sekondes) sal die virus daarin vernietig en so die melk vir menslike gebruik veilig maak.
  • Die toepassing van goeie insekbeheer (veral muskietbeheer) kan moontlik bydra tot die voorkoming en bestryding van Slenkdalkoors, maar dit is dikwels duur en onprakties.
  • Verskuif diere van laagliggende na hoërliggende gebiede en voorkom dat diere by vleie, damme, langs riviere en panne wei waar muskiete baie aktief is.

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search