• Login
  • Search Icon

Deur Angola op 'n avontuurfiets

November 2017

STEFAN BOSHOFF en DIRK STRYDOM, twee avontuurfietsryers in hul vryetyd​​​​

Heelwat mense het die persepsie dat avontuurfietse baie swaar is en dat dit 'n mens nie ‘n régte avontuur daarmee kan aanpak nie – ‘n avontuur wat nie die gemaklike teerpaaie insluit nie. ‘n Groot aantal produsente het die persepsie dat dié fietse nie op die plaas gebruik kan word nie, want dit is te moeilik om te hanteer én te groot. 

‘n Paar avontuurryers het besluit om die teendeel te bewys en het gedurende die eerste twee weke van Julie ‘n ekspedisie na Angola aangepak. Ons twee asook Behan Boshoff en John Harris het in Bloemfontein ontmoet en die vier motorfietse (‘n BMW 1200 GS­Adventure en drie BMW 1200 GS’s – almal waterverkoel) op ‘n Safari 4x4-sleepwa gelaai en die lang pad Namibië toe aangepak. 

17 ure later het ons groepie op Otjiwarongo aangekom, waar die fietse afgelaai en die laaste voorbereidings en aanvullings afgehandel is. Vroeg die volgende oggend was die span op pad: Rigting noord. 

By Kamanjab het die teerpad een te veel geword en Opuwo, die hoofstad van Kaokoland, was die volgende petrolstop langs ‘n pragtige Namibiese stofpad. Die roete van hier na Ruacana het die span vroeg blootgestel aan “regte” sand – hier het die “ekspedisie” begin. 

Ruacana het laatmiddag verskyn en ons het by Eha Lodge kamp opgeslaan. Ons het Angola se grenspos net na oopmaaktyd bereik en die proses was betreklik maklik. ‘n Vinnige besoek aan die Ruacana-valle en daarna was dit tyd vir Angola, Portugees en ry-aan-die-verkeerde-kant-van-die-pad. Van Chitado af was dit smal grondspore, waar die locals met hul 125 cc Chinese motorfietse ry. Wat ‘n ongelooflike lekker en besondere mooi wêreld: Kronkelspore, bergpasse, rivierkruisings, sand, versteende modderspore – alles wat ‘n avontuurmotorfietsryer kan begeer! 

Ons eerste kamp in ‘n rivierbed in die wildernis was ‘n hoogtepunt: Kos, water, slaapgoed, ekstra water, petrol – alles aan boord. En ons stelsels het effektief gewerk; sonder enige probleme. Net vir diegene wat dink daar is met ‘n kode tien gelaaide motorfiets gery; dit is nie die geval nie: Een standaard rugsak, een sak agterop die fiets en ‘n gereedskapsakkie, 5 liter water en 5 liter petrol– dit is al. 

Twee dae later het ons Chibia binnegestoom. Daar is ‘n bank en ons kon kwanzas kry en brandstof. Ons het die ou roete deur die Dorslandtrekkers se plase gevat en by Lubango uitgekom. Die nalatenskap van Suid-Afrikaanse produsente is steeds hier sigbaar. 

Tundavala vir sundowners het ons dag afgesluit. Tundavala is ‘n krans van meer as 800 m en is voorheen in Angola as ‘n plek van teregstelling gebruik vir diegene wat nie polities korrek was nie. Die son het gesak en ons het tent opgeslaan – sommer daar langs die afgronde. Die wind waai, maar ons slaap, want ons het genoeg motorfiets gery. Dan slaap ‘n mens maklik… 

Sonop was ons op pad: ‘n Laaste loer oor die afgrond en ons was vort na die Christusbeeld in Lubango. Ons het die beeld met sy koeëlgate en die stad stilswyend besigtig. Die Dorslandmonument het ook ‘n besoek regverdig. Ons het die motorfietse volgemaak en wes gedraai. Die see was nou in die visier. 

Die Lebapas was nog ‘n hoogtepunt: ‘n Klomp draaie en ‘n 1 km-daling in hoogte binne 10 km. Knobblies-motorfietse kan lekker op teerpaaie draai...Die teerpad het ons by Namibe uitgespoeg – ‘n dorp met ‘n hawe en ‘n see. Ons het afgedraai strand toe. Toe was dit net sand: Los en baie sand. 

Die bande is 1 bar gepomp en ons het in ons valhelms begin sing. Die lewe was ‘n lied: Langs die strand af, oor ‘n paar duine en te vinnig het ons Flamingo Lodge se borde en huisies gesien. Ons was in die paradys. 
    
By Flamingo het ons tyd verwyl deur stranduitstappies, na die Flamingo Canyons te ry (dit is ongelooflik mooi daar), nóg op die strand te ry, nóg na die see te sit en kyk, vir Rico Sakko (die eienaar) te help om sy gesinkte boot te herwin en seker te maak die motorfietse is reg vir die volgende tog.

Ons het planne begin maak om deur die doodsakker te ry en Rico het aangebied om saam te gaan. Dit het ons brandstofprobleem opgelos en die motorfietse ligter gemaak. Hy het ons bagasie op sy Landcruiser gelaai en sy seun het met ʼn vinnige 1 000 cc side-by-side buggy gery. Ons het deur die “veld”/woestyn en canyons tot by Tombua gery en al ons motorfietse en jerrykanne volgemaak. 

Nou was dit weer strand en sand. Én soutpanne. Én ons het weer gesing. Tot die motorfietse almal in ‘n sagte kol sand gesink het. Dit gebeur net: Die sand word soos water, dan vlieg jy. Die son het ge­sak en ons moes nog tot by die kamp in die duine ry. Die dag was woes, maar ons het die wonderlikste ervarings gehad. 

Die maan was vol. Dit was springgety. Doodsakkerdag. Die gevrees­de stukkie kuslyn is een van daai plekke waar jy jou plan agter-mekaar moet hê en jou motorfiets moet ry. Een foutjie en jy verloor jou fiets deur die see wat dit met sy branders neem. Ons plan was goed, die see was ons genadig en die sand het darem nie te veel aan die motorfietse gegryp nie. En die Doodsakker was agter ons. Daar was nog net die ordentlike stuk strand tot by Foz do Cunene oor. Ons was verbaas oor die motorfietse se brandstofverbruik: 110 km op ‘n GS en hulle was droog. Die sand is swaar op toerusting. 

Ons het egter vir Rico by ons en hy het petrol. By Foz het ons die see uit die motorfietse gespuit en ons alles wat petrol kan vat vol­-gegooi. Ons het oos gedraai: Die rivier het die pad aangedui. En die woestyn was woes en leeg. ‘n Pap wiel of twee later was ons by Espenhierra – die einde van die Iona Nasionale Park. 

Ons het ‘n rivierloop gesoek en kamp opgeslaan: Nog ‘n rustige nag in die middel van nêrens. Die volgende dag was harde ry. Die terrein is ongenaakbaar. Dit lyk of al die klippe van die planeet daar vervaardig word. Maar ons het gevorder. Pap wiele het ons besig gehou: Agt dié dag. Die petrol het weer min geraak en ons moes plan maak. 

Oncocua het ons gered. Die polisieman kon Afrikaans praat. Én hy het geweet waar om petrol te kry. Ons het ‘n jerrykan vol gekoop en dit met ‘n wynbottel in die motorfietse ingegooi: Liter vir liter. Die Himbas ('n inheemse ras in Kaokoland) het vir ons water gebring. 

Ruacana en die grensposte het na ‘n rukkie verskyn. Ons was terug in Namibië. Die plan was om ‘n vriend van ons, Gert, en sy twee seuns by Kunene River Lodge te kry. Ons het hulle langs die pad gekry – besig om nog ‘n pap wiel reg te maak. Ons span was nou drie man, twee motorfietse en ‘n Prado sterker. 

Ons het weer die pad gevat Epupa-valle toe – al langs die rivier af. Van Zylspas was die volgende bestemming. Ons het rustig van daar af gery en uitgekyk vir die Himbas en hulle bokke, die berge en die klippe. Die roete was hier en daar bietjie grof, maar ons het dit geniet. Op die einde van die pas het ons so ‘n bietjie gerus en toe laat vat na Rooidrom toe. 

Puros was hierna ons mikpunt. Die pad loop deur harde wêreld en ons het nie so flink gevorder soos ons wou nie. Die rivierbed het sag gelyk en ons het daar en dan gekamp. Ons het Puros uiteindelik gekry en in die canyon afgery. Die water het sterk geloop, ons het klomp wild gesien en die ry was uit die boonste rakke. Ons het sommer in die canyon, langs die water gekamp. 

Die volgende oggend het ons die slegste pad in Namibië gery: Sinkplate wat stopsels vernietig – van Puros tot by Sesfontein. Petrol was beskikbaar en ons het net volgemaak en weer gery. Die pad was beter en ons het lekker gery. Verby Palmwag het ons nog ‘n paar pap wiele reggemaak en deurgery na Kamanjab toe. Dit was donker, maar ons wou by Otjiwarongo slaap. Net voor middernag het ons by Otjiwarongo aangekom: Nog ‘n ervaring vir die geheuebanke.

Al wat oorgebly het, was huis toe ry. Ons het die sleepwa en die bakkie gepak en weggespring. Wat ‘n voorreg om die motorfietse, energie en gesondheid te hê om so iets te kan aanpak. Ons het ‘n ongelooflike ekspedisie voltooi. Alles was onverbeterlik. Gaan ons weer? Verseker! Wie ry saam?

Vir diegene wat video’s van die avontuur wil sien, gaan kyk by YouTube: Expedition 2017: Part 1 Angola en Expedition 2017: Part 2 Namibia


 

Publication: November 2017

Section: Focus on

Search