• Login
  • Search Icon

Desembermaand in die grondboonland...

December 2015

LOUREINE SALOMON, LNR-Instituut vir Graangewasse

Geen grondboonseisoen verloop dieselfde nie en die 2015/2016-groeiseisoen blyk om geen uitsondering op die reël te wees nie. Reeds het ons in Novembermaand ‘n voorsmakie gehad van onvoorspelbare weerspatrone waar vroeë grondboonaanplantings noodwendig opsy geskuif moes word sodat temperature kon herstel ná sneeuneerslae op die suidelike Drakensberge.

Die grondboonplantseisoen het dus weer eens onder druk gekom. Dit is uiters belangrik vir die produsent om te hou by die afsnydatum vir aanplantings om te verseker dat daar genoeg tyd vir die grondboonplantjies is om volwassenheid te bereik en dus ‘n ordentlike oes te kan lewer.

Die algemene duimreël vir die afsnydatum van grondboonaanplantings is 5 Desember. Slegs in gebiede waar betekenisvolle reën laat in die seisoen voorkom, kan laat aanplantings gedoen word, maar dan moet produsente besef dat opbrengs ingeboet gaan word.

Die volgende kan in gedagte gehou word gedurende Desembermaand:

  • Grondbone begin eers 21 dae na opkoms aktief groei en nuwe blaartjies vorm. Blaartjies wat ontwikkel het tydens opkoms, was reeds binne die kiemplantjie gevorm. Indien daar swak opkoms was, sal dit produsente baat om vas te stel wat die oorsaak was, hetsy koue, plantdiepte, planterprobleme of wat ook al die geval mag wees. Dit is nodig om uit te vind sodat toekomstige foute vermy kan word.
  • Let op vir saailingsiektes aangesien dit verband kan hou met saadbehandeling en klimaatsomstandighede sowel as wisselboupraktyke.
  • Is daar reeds gips toegedien?
  • Indien daar saadvermeerderingsaanplantings gedoen is, moet seker gemaak word dat landeenhede vroegtydig by SANSOR geregistreer word.

imageVoorsorg is altyd beter as nasorg. Goeie beplanning vir ‘n goeie oes begin reeds by planttyd. Maak seker dat die grondboonplantrye reeds aangepas is by die tipe uithaler wat gebruik gaan word aan die einde van die seisoen. Dit kan vermorsing verminder en sodoende ‘n beter kwaliteit oes lewer.

‘n Grondboonprodusent se voetspore moet verkieslik van planttyd tot oestyd in die lande sigbaar wees, om sodoende ‘n kwaliteit oes te verseker. Vir enige verdere navrae, kontak die outeur by 018 299 6333 of SalomonL@arc.agric.za.

Publication: December 2015

Section: On farm level

Search