• Login
  • Search Icon

Blaarmyners op koring en gars - waar is biologiese beheer?

September 2015

GODDY PRINSLOO, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

BlaarmynersBlaarmynervliegies wat koring en gars aanval, is van inheemse oorsprong (Foto 1). Dit beteken dus dat hulle onder biologiese beheer moet wees waar hulle algemeen in die natuur voorkom. Die natuurlike vyande van hierdie vliegies is net gedeeltelik bekend.

Parasietwespe is gevind wat eiers lê wanneer die larwes nog in die blaar is. Hierdie eiers bly in die larwes tot die larwes in papies ontwikkel en begin dan die papie parasiteer en maak dit dood. Die volwasse parasietwesp broei dan uit die papie uit.

Dit is waarom blaarmyners wat aanvanklik in 1992 op koring in die Bergville-omgewing voorgekom het, ná ongeveer drie jaar verdwyn het. Gemynde blare kan steeds in die area op koring gesien word, maar dit is baie sporadies en tonnels van hoogstens 2 cm kom voor. Plaagafmetings kom nie voor nie, want biologiese beheer is in plek.

Hoekom nie in die Noord-Kaap en Noordwes Provinsie nie?

Hierdie is ‘n moeilike vraag en een sonder ‘n antwoord. Die eerste moontlikheid is natuurlik die rol wat insekdoders in hierdie opsig speel. Aangesien gewasproduksie onder besproeiing baie intensief is en insekdoders en ander chemiese middels noodwendig gebruik word, kom gereelde versteurings in die landbou-ekosisteem voor, wat nie werklik verhelp kan word nie.

Maar ons kan nie met sekerheid sê dat hierdie versteurings die hoofoorsaak is dat biologiese beheer nie plaasvind nie. Aartappelblaarmynerlarwes wat in 2012 in die Douglas-omgewing versamel is, het drie verskillende spesies parasietwespes opgelewer.

Aangesien die aartappelblaarmyner uitheems is en dus deur die meer algemene natuurlike vyande aangeval behoort te word, is dit ‘n aanduiding dat daar wel natuurlike vyande in die omgewing teenwoordig is, maar hulle is nie op die regte tyd, op die regte plek nie. Daar is ‘n menigte faktore wat hier ‘n rol speel.

Die gasheerreeks van die blaarmyner is nie bekend nie. Ons het in die afgelope jare vasgestel dat wilde hawer, Bromus-, kanariesaad-, raai- en bloubuffelsgras wel as gashere kan optree, maar hulle rol in oorlewing is nie bekend nie.

In die afgelope twee jaar het ons vasgestel dat mielies en ook sorghum deur die vliegies gebruik word as gashere en dat hulle ‘n rol speel in die vermeerdering van die vliegies in die lande net voor die koringseisoen.

Die veronderstelling is dat die blaarmyners selfs in hierdie gewasse deur die natuurlike vyande beheer behoort te word. Maar dit gebeur waarskynlik ook nie. Die oorspronklike gasheerplante van die blaarmyner is nie bekend nie. As daar dus tussen al die alternatiewe grasse en die mielies, sorghum, gars en koring genoeg gashere is waarop hulle kan voortbestaan, kan hulle dus vermeerder sonder dat hulle die skakel van ‘n natuurlike gasheerplant nodig het.

Plante se invloed op hulle natuurlike vyande

Wanneer insekte aan plante vreet, word reukstowwe deur die plante afgeskei wat die natuurlike vyande van die insekte aantrek om sodoende die plantvreters te kom aanval. Gedurende planteteelt, waar daar vir ‘n verskeidenheid van eienskappe geselekteer word, gaan daar baie keer van die verdedigingsreaksies van die plant verlore.

Dit beteken dus dat die gewasse nie meer in staat is om die natuurlike vyande van die plantvreters aan te lok as hulle begin vreet nie. In hierdie geval is die plantvreters dan in ‘n vyandvrye spasie en kan hulle ongesteurd voortgaan met voeding.

Hierdie blyk ‘n logiese verklaring te wees vir wat aan die gebeur is, maar dit sal eers verder ondersoek moet word.

Wat kan die produsent intussen doen?

Uit die veldproewe wat gedoen is, het dit geblyk dat hoewel die blare erg gemyn kan wees, min skade aangerig word. Tabel 1 en Tabel 2 kan gebruik word as riglyne vir die beheer van blaarmyner indien iemand dit oorweeg om te spuit.

Blaarmyners

Blaarmyners

Hou dan ook veral die volgende punte in gedagte wanneer ‘n bespuiting oorweeg word:

  • Moenie vaskyk in ‘n besmette kol in die land nie, maar kry ‘n totale prentjie van wat in die land aan die gebeur is. ‘n Kol mag miskien 100% besmet wees en al die blare kan dood wees, maar hierdie kol maak miskien net 10% van jou land se oppervlakte uitmaak.
  • imageAs jy weet blaarmyner kom gereeld in jou lande voor, deursoek jou lande veral rondom vlagblaarstadium en onthou die onderste blare word eerste gemyn. Onthou ‘n bespuiting kan nie skade ophef nie.
  • Deursoek die hele land, nie net ‘n klein kolletjie nie. Dit kan die moeite werd wees.
  • Maak seker dat jou insekdoder effektief toegedien word.

Vir verdere navrae, kontak Goddy Prinsloo by 058 307 3435 of prinsloogj@arc.agric.za.

Navorsing is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die
Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad.

Publication: September 2015

Section: Focus on

Search