• Login
  • Search Icon

Beurtkrag, beurtkos en standbeelde...

May 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

So deur die droogte in die noorde en die landswye beurtkrag, het die gedagte by my opgekom dat dit net die graanprodusente van ons land is wat tussen beurtkrag en beurtkos staan.

Ons praat so baie van voedselsekerheid en soms van energiesekerheid, maar dan kom daar ook gedagtes in my kop ten opsigte van die sekerheid van die vaardigheid om kos te kan produseer. Hoe besorg is die land daaroor? Dit gaan nie help ons breek standbeelde af en ons het nie kos nie. Selfs nuwe standbeelde kan nie kos produseer nie!

Om bloot net te aanvaar dat dinge maar net so kan aangaan, is beslis nie aanvaarbaar nie! Baie van die dinge wat rondom ons gebeur ten opsigte van die landbou, dui daarop dat auto pilot ons in die berge gaan laat vasvlieg.

Ek het nog altyd groot waardering vir kreatiewe mense wat hulle nie laat onderkry deur omstandighede nie. Dit is waar ons nou is. Ons leierskap gaan in hierdie dae weer na ons strategiese plan kyk en wat die rol is wat Graan SA in die toekoms sal moet speel. Dat ons buite ons gemaksone getoets gaan word, is nou maar seker. Ons sal kalm moet bly en met koelkoppe die nuwe toekoms self vind. Dit help in elk geval nie meer om net ander te blameer nie.

Een nuwigheid wat ek graag met julle wil deel, is iets wat ons nie geantisipeer het nie: Ná ons ooreenkoms met China om mielies uit te voer, het ‘n hele paar strategiese lande wat ook mielies invoer, navraag by Suid-Afrika begin doen. Dit is nou lande soos Viëtnam en Indonesië. Dit wil voorkom asof hulle, noudat China die pad gewys het, bloot wil volg. Dit is sommer baie goeie nuus vir ons produsente.

Dit wil lyk of die sojabone die mielies effe uitgestof het in hierdie droë jaar. Oorlêlande het ook weer eens gewys waarom baie produsente die stelsel toepas. Dalk gaan dit tot ‘n afname in die mieliehektare lei, ons sal egter maar moet sien. Die geheim bly inderdaad altyd: Laat die syfers (en nie emosie nie) dikteer wat die beste plan is.

Die produsente in die suide is druk besig met planttyd, veral ná die eerste reën wat in die Suid-Kaap geval het. Ons vertrou dat julle ‘n mooi seisoen gaan hê. Die uitbreidings na die vraag vir gars en kanola lyk baie positief en as ons nou net die koring op ‘n beter trajek kan kry, kan die hektare mooi uitbrei.

Graan SA-leierskap se belegging die afgelope vier jaar in navorsingskapasiteit en die bestuur van navorsing, het begin vrugte afwerp. Graan SA het onlangs ons eerste kontrak met die Departement van Wetenskap en Tegnologie gesluit om voorteelprogramme vir koring te begin. Dit is addisionele fondse wat nie voorheen vir navorsing beskikbaar was nie. Hierdie deurbraak en ‘n nuwe vennootskap is iets waarna ons lank uitgesien het. Welgedaan vir die span wat dit afgehandel het.

Ek sluit die maand af met die advies van mnr Max du Preez na aanleiding van al die felheid van rassisme wat ons die afgelope tyd teen standbeelde gesien en beleef het: Die stem van redelikheid sal nog harder moet werk om bo al die lawaai gehoor te word. Redelikheid is die enigste manier om die droom van ‘n reënboognasie te laat realiseer.

Publication: May 2015

Section: Features

Search