• Login
  • Search Icon

Besproeiing: Belangrik vir graanproduksie

October 2017

Petru Fourie, navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis, Graan SA en Rona Beukes, senior statistikus: Oesskattings, Departement van Landbou, Bosbou en Visserye

Suid-Afrika is ‘n relatiewe droë land met ‘n uiters wisselval­lige reënvalpatroon. Die land bestaan uit drie hoofsones: ‘n Winterreënvalgebied in die suidwestelike hoek van die land, ‘n gebied waar die reën dwarsdeur die jaar val, langs die suidelike kusstrook en ‘n somerreënvalgebied oor die res van die land.

Dié verskynsel lei daartoe dat graanproduksie beduidend kan vari­eer. Ten einde graanproduksie te stabiliseer tree die besproei­ingselement altyd in ‘n land wat merendeels droog is na vore.

Mielies
Alhoewel die grootste persentasie mielies (90%) onder droë­landtoestande geproduseer word, het aanplantings onder besproeiing die afgelope paar jaar stelselmatig toegeneem. Gemeet teenoor vyf jaar gelede, het die hektare beplant met mielies onder besproeiing met 19% of 42 095 ha toegeneem, vanaf 219 750 ha in 2011/2012 tot 260 650 ha in 2016/2017. Tans beloop die persentasie aanplantings van totale mielies onder besproeiing ongeveer 10%, waarvan geelmielies die grootste gedeelte uitmaak, naamlik 14% teenoor witmielies se 7%.

Grafiek 1 toon die persentasie verdeling van mielies onder besproeiing gemeet teen die finale mielie-oes. Vanuit die grafiek is dit duidelik dat droëlandmielieproduksie die grootste persentasie van die oes uitmaak. Hierteenoor het die mielieproduksie onder besproeiing die afgelope vyf jaar tussen 17% en 32% tot die totale mielie-oes bygedra.

Tien jaar gelede, gedurende 2006/2007, is slegs 7,125 miljoen ton mielies geproduseer, waarvan 76,9% (5,481 miljoen ton) onder droëlandproduksie was, terwyl besproeiingsproduksie 23,1% (1,64 miljoen ton) beloop het.

Vir die 2016/2017-seisoen, volgens die sewende produksieskat­tingsyfers van die Oesskattingskomitee, is die verwagte mielie-oes 16,413 miljoen ton – die hoogste mielie-oes nóg geproduseer in die geskiedenis van Suid-Afrika. Die verdeling tussen besproeiings- en droëlandproduksie is 18,2% of 2,988 miljoen ton teenoor 81,8% of 13,426 miljoen, onderskeide­lik. Daar kan daarom met sekerheid gesê word dat mielieproduk­sie onder besproeiing belangrik is, maar veel belangriker in jare wat Suid-Afrika ‘n droogte ervaar. Só byvoorbeeld was die bydrae van besproeiingsproduksie gedurende die vorige seisoen (2015/­2016), wat een van die ergste droogtejare sedert 1904 was, 32% of 2,489 miljoen ton teenoor droëlandproduksie se 68% of 5,289 miljoen ton.

Koring
Gemeet teenoor nege jaar gelede (2007), het die hektare vir koring onder besproeiing in die 2016-produksiejaar met 14,6% of
17 795 ha, vanaf 122 200 ha tot die huidige 104 405 ha, afgeneem. Dit is egter kommerwekkend dat koring se oppervlakte onder droëland gedurende dieselfde tydperk met 20,8% of 105 840 ha gedaal het. Een van die hoofredes vir hierdie afname is die effek van die swak winsgewendheid van koring vir produsente.

Grafiek 2 dui die persentasie van die oppervlakte en produksie aan wat besproeiing die afgelope nege jaar tot die finale oppervlakte en oes bygedra het. Besproeiingskoring se bydrae tot die finale oes is heelwat meer as in die geval van mielies. Hoewel be­sproeiingsverbouing die afgelope paar jaar tussen 21% tot 28% van die totale oppervlakte vir koring uitgemaak het, dra die produksie gedurende die verskeie seisoene bykans 50% tot Suid-Afrika se totale koring-oes by. Dié verskynsel beklemtoon dat koring onder besproeiing ‘n belangrike rol in die koringbedryf speel.

Opsomming
As gevolg van die huidige groot mielie-oes, is die verwagting dat daar nie oor die kort termyn voedselsekerheidsprobleme in
Suid-Afrika sal wees nie. Indien daar egter nie meer mielies onder besproeiing verbou word nie, kan dit tot voedselsekerheidsprobleme lei omdat besproeiing tot ‘n groot mate die nasionale produksie stabiliseer – veral gedurende droogtejare.

Aangesien Suid-Afrika ‘n netto invoerder van koring is, is dit noodsaaklik dat koring onder besproeiing verbou word, omdat dit so ‘n relatiewe groot bydrae tot die totale produksie lewer. As die oppervlakte onder besproeiing egter sou afneem, kan dit tot gevolg hê dat Suid-Afrika meer koring sal moet invoer om in die plaaslike vraag te voldoen. Dit het tot gevolg dat Suid-Afrika miljarde rande, wat eerder in die plaaslike ekonomie geploeg kon word, aan buitelandse valuta verloor.

Publication: October 2017

Section: Focus on

Search