• Login
  • Search Icon

Berging- en hanteringsveiligheid van landbouchemiese middels op die plaas

September 2014

NIC GREYLING, AVCASA

Die doel waarvoor landbouchemiese middels ontwikkel word, is om produsente te help om gewasse te beskerm. Byna alle landbouchemiese middels sal dus op ‘n plaas of op landbougrond eindig. Hoe dan gemaak om die landbouchemiese middels op die plaas te hanteer, stoor en aan te wend?

Daar is baie spesifieke reëls wat gevolg moet word, wat ook vir produsente geld. Hierdie reëls is in die vorm van spesifieke wette en standaarde. Eerstens reguleer, die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet 36 van 1947) of soos daar deesdae na verwys word: “The Fertilisers, Farm Feeds, Agricultural Remedies and Stock Remedies Act, 1947 (Act No. 36 of 1947)” die registrasie, hantering, stoor, verkoop en gebruik van alle landbouchemiese middels. Dié wet gee voorskrifte vir die gebruiker, of dan die produsent, oor hoe die middels geberg, hanteer en toegedien moet word.

Hierdie voorskrifte word op die etiket uitgespel. Die etiket is ‘n regsdokument wat streng gevolg moet word (Regulasie No. R1 716 van 26 Julie 1991 en Regulasie No. R181 van 7 Februarie 2003). Enige afwyking daarvan is onwettig en is strafbaar volgens die wet.

Tweedens vervat, die regulasies van die wet ook ‘n verwysing na die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde wat vereistes stel oor die hantering, stoor en wegdoening van landbouchemikalieë. Produsente moet deeglik kennis neem dat hulle net so aanspreeklik is onder die wet. In die konteks van die Suid-Afrikaanse reg, is onkunde oor die wet geen verskoning nie.

Hoe om landbouchemikalieë te stoor

Die spesifieke standaard waarna die wet verwys oor hoe landbouchemiese middels gestoor moet word, selfs op plaasvlak, is getitel SANS 10206:2010 (Edition 2.2): The handling, storage and disposal of pesticides. Produsente moet die voorskrifte van dié standaard volg en stoorfasiliteite inrig om landbouchemiese middels op die korrekte manier te stoor. Behalwe vir omgewingsveiligheid, is dit immers ook noodsaaklik om diefstal van dié produkte te voorkom.

‘n Gekwalifiseerde stoorman moet beheer oor die stoor uitoefen. Rekords moet gehou word van alle Groep 1a en 1b produkte in die stoor. Die stoor moet goed georganiseer wees, behoorlik gesluit word en slegs persone aan wie die verantwoordelikheid toegeken is, moet toegang hê. Alle werkers op die plaas moet bewus gemaak word van die gevare van landbouchemiese middels.

image Riglyne wanneer met landbouchemiese middels gewerk word

Landbouchemiese middels is potensieel gevaarlik vir die gesondheid van mense, diere en vir die omgewing as dit verkeerd hanteer word. Die etiket van die produk sal instruksies bevat oor hoe die produk hanteer moet word.

Daar sal ook piktogramme op die etiket verskyn wat aantoon hoe gevaarlik die produk is. Voorbeelde hiervan is in Figuur 1 en Figuur 2 te sien. Operateurs en hanteerders moet opgelei wees ten opsigte van hoe om die produkte te hanteer en moet die instruksies van die etiket kan volg, insluitend die betekenis van die piktogramme.

Voorts moet die personeel ook oor die nodige veiligheidstoerusting beskik, soos op die etiket aangedui (sien Figuur 3). In die voorbeeld word die volgende aangetoon:

  • Lang handskoene moet gebruik word.
  • Gebruik ‘n gesigskerm of veiligheidsbril vir oogbeskerming.
  • Was hande nadat daar met die produk gewerk is.
  • Gebruik ‘n voorskoot.
  • Dra rubberstewels.
  • Dra ‘n stofmasker of ‘n respirator.
  • Dra ‘n oorpak met lang moue en broekspype en ‘n kopbedekking moet gebruik word. Die oorpak moet oor die stewels en handskoene gedra word om te verhoed dat chemikalieë in die stewels of handskoene inloop.

Wanneer binne die stoor of ‘n gebou met landbouchemiese middels gewerk word, moet die gebou goed geventileer wees voor daar met enige werk begin word. Vermy ook enige werk in baie winderige toestande, selfs binnenshuis. Moet glad nie rook, eet of drink terwyl daar met landbouchemiese middels gewerk word nie. Vermy alle direkte kontak met enige plaagdoder.

Na afloop van werk met landbouchemiese middels, verwyder die persoonlike beskermingstoerusting in dié volgorde: Haal die hoed af, verwyder die neus- en mondskerms, trek die stewels en die oorpak uit, haal die handskoene af, was hande en gesig met koue water en seep en neem ‘n louwarm stort.

Rubber handskoene en stewels kan met ‘n reinigingsmiddel en koue water gewas word, terwyl die oorpak, hoed en neus- en mondskerm elkeen apart met ‘n reinigingsmiddel en koue water gewas word.

CropLife het ‘n publikasie beskikbaar in ses tale oor die veilige hantering van landbouchemiese middels op die plaas: Verantwoordelike plaagdodergebruik – ‘n gids vir operateurs.

image

Leë houers

Die aanspreeklikheid van die produsent eindig nie wanneer die middels klaar aangewend of toegedien is nie. Die leë houers moet ook verantwoordelik hanteer word. Eerstens moet dit drie keer uitgespoel word voordat dit as veilig beskou kan word. Dit moet tydens die spuitaksies gedoen word sodat die spoelvloeistof ook in die spuittenk gegiet kan word. Leë plaagdoderhouers word gesien as plaagdoderhouers wat geen produk meer bevat nie en wat goed uitgespoel is.

Houers wat nie drie keer uitgespoel is nie of wat nog vloeistof bevat, word as gevaarlike afval beskou. In sulke gevalle sal die produsent ‘n gevaarlike afval bestuursmaatskappy moet nader om van die gevaarlike afval ontslae te raak. Dit gaan gewoonlik gepaard met groot koste.

In die verlede is dit toegelaat om die leë houers op die plaas te brand, maar streng omgewingswetgewing laat dit nie meer toe nie. Leë houers moet vernietig word volgens die voorskrifte van SANS 10206, of vir hergebruik van die plastiek beskikbaar gestel word en mag nie vir enige ander doel gebruik word nie. Deesdae word verskillende produkte van die plastiek van leë houers gemaak, soos byvoorbeeld plastiekplanke en -waterpype.

Vervoer van landbouchemiese middels

Landbouchemiese middels is potensieel gevaarlike stowwe en moet ten alle tye veilig en volgens voorskrif hanteer word, selfs by die vervoer daarvan. Die reëls vir die vervoer van landbouchemikalieë word in die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard, SANS 10231:2010 (Ed. 3.1 Transport of dangerous goods: Operational requirements for road vehicles), uitgelê.

Landbouchemiese middels wat deur ‘n kontrakteur na ‘n produsent se plaas vervoer word, moet aan die voorskrifte voldoen. Produsente word slegs uitgesluit uit die vereistes van dié standaard wanneer hulle chemikalieë vir eie gebruik vervoer wat minder is as die gespesifiseerde hoeveelheid. Hierdie spesifieke uitsluiting geld wanneer landbouchemiese middels vervoer word deur ‘n bona fide-boer of sy werknemer en die produkte vir sy boerderybedryf gebruik gaan word en nie weer verkoop gaan word nie. Die rit is beperk tot 250 km, waarvan nie meer as 50 km op ‘n nasionale pad (pad gemerk met ‘n N) is nie.

Die hoeveelheid produk mag nie meer as 1 000 kg of liter onderskeidelik vir droëproduk of vloeistof wees nie of nie meer as 1 000 in totaal as beide droë en vloeistowwe vervoer word nie. As ‘n produsent meer as 1 000 kg of liter vervoer, sal die vereistes van die standaard wel geld.

Bestuurders van voertuie wat gevaarlike produkte vervoer, moet op ‘n jaarlikse basis bestuurderopleiding ontvang. Die bestuurders van swaar voertuie (3 500 kg en meer BVM) moet ook in die besit wees van 'n professionele rybewys. Die bestuurderopleiding moet by 'n goedgekeurde diensverskaffer ondergaan word.

Besin oor lugbespuiting

Die ekonomiese verbouing van gewasse noodsaak produsente om landbouchemiese middels te gebruik om hul oeste te beskerm. Soos almal weet, skryf die etiket van elke produk onder meer voor hoe dit aangewend moet word. Dit sluit in die hoeveelheid wat toegedien moet word, hoe dit gemeng moet word en hoe dit gespuit moet word.

Landbouchemiese middels word in die meeste gevalle met trekker- of rugsakspuite toegedien. Dit gebeur egter soms dat landbouchemiese middels per vliegtuig toegedien moet word weens toestande buite die produsent se beheer.

Ongelukkig het lugbespuiting in die verlede ‘n paar keer al tot onmin gelei. Dit is die produsent se reg om sy oes te beskerm en dit mag wel wanneer nodig deur middel van lugtoediening gedoen word. Ekstra voorsorg is egter in dié gevalle noodsaaklik.

Elke produk se etiket sal duidelik aandui of die betrokke produk per lugtoediening aangewend mag word. Dit is baie belangrik om te besef dat as die etiket nie lugtoediening aandui nie of dit spesifiek verbied, is dit onwettig om só ‘n produk met hier die metode toe te dien.

Bepaalde reëls is neergelê wanneer landbouchemiese middels per lugtoediening aangewend kan word. Dit word op die etiket en deur ‘n Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard voorgeskryf. Die standaard, wat by die SABS beskikbaar is, is getitel SANS 10118:2011 (Edition 3.1): The aerial application of pesticides. CropLife moedig produsente en lugtoedieningoperateurs aan om by die voorskrifte van dié wetlike dokumente te hou.

Landbouchemiese middels is potensieel gevaarlik en duidelike voorskrifte in die standaard verseker dat die omgewing nie besoedel word of dat nie-teikengebiede nie in die proses gespuit word nie. Onmin ontstaan wanneer sensitiewe nie-teikengebiede getref word en goeie buurskap kan so in die slag bly.

Kundigheid

Produsente word aangeraai om met gekwalifiseerde verspreiders en agente sake te doen. CropLife doen baie moeite om lede te laat kwalifiseer en stel inligting beskikbaar om lede se produkkennis op ‘n hoë vlak te hou. Die gekwalifiseerde CropLife-agent kan aan sy lidmaatskapkaart uitgeken word. Vra gerus daarvoor, hulle is trots op hulle lidmaatskap.

Publication: September 2014

Section: Focus on

Search