• Login
  • Search Icon

Beplanning asook tydige en korrekte aksies - dí­t is Bennie se wenresep

May 2012

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

image

Bennie en Elzette van Niekerk boer in die Prieska-distrik op die plaas Mooidraai, met besproeiingsmielies en -koring asook ‘n vee-faktor wat uit Dorpers, boerbokke en eksotiese wild bestaan.

Bennie was baie gelukkig om ná die voltooiing van sy BAgric-graad as plaasbestuurder in sy omgewing te kon begin boer waar hy baie kon leer. Hierdie boerdery het vinnig uitgebrei en baie nuwe ontwikkeling is hier gedoen. Hy kon hier leer wat en hoe dit gedoen moet word asook hoe die vurk in die hef steek wat boerdery betref. Hierdie kennis het hy later in sy eie boerdery aangewend om sodoende een van die omgewing se beste produsente te word.

Hulpbronne

Alle hulpbronne moet saam, reg aangewend word om die opbrengste asook die winsgewendheid daar te stel. Bennie het dit al vroeg besef en daarom kon hy sy boerdery só ontwikkel om die beste met die grond en beperkte water te verrig.

Hy het ook al vroeg besef om te beplan en dat beplanningstyd in die lang termyn, goed beloon word. Omrede die resultate van beplanning afhang van die inligting wat daarin gesit word, omring Bennie hom met kundige persone wat hom van inligting en raad voorsien.

Bennie bespreek sy planne met sy rekenmeester, wat ook ‘n produsent is, en sodoende word die planne in rand en sent getoets. Indien die plan winsgewend blyk te wees, toets Bennie dit ook met sy vrou, Elzette, sodat sy ook ‘n bydrae kan lewer en op hoogte is van waarna gemik word. “Ek neem die finale besluit en moet self vir die gevolge van die besluite pa staan,” sê Bennie. “Ek kan dus nie vinger wys as sake skeef loop nie,” voeg hy by.

Met die beplanning gedoen, is dit Bennie se taak om die planne tot uitvoer te bring, maar sy taak stop nie hier nie omdat omstandighede verander, en daarom word die beplanning ook oor tyd aangepas.

“Soms is ons goed bedrywig op hierdie besproeiingsplaas en dit veroorsaak dat take die eerste keer reg gedoen moet word en dat die aandag aan die regte dinge geskenk moet word,” vertel Bennie.

Siektebeheer

Hy besef omdat hy net mielies en koring verbou, dat siektes ‘n probleem kan word. Om verby hierdie hekkie te kom, het Bennie ‘n oorlêstelsel geïmplementeer.

Sy verbouingsprogram begin met ‘n vroeë mielie-aanplanting wat in Junie/Julie deur die plant van koring opgevolg word. Die koring word weer direk met ‘n laat mielie-aanplanting opgevolg. Ná hierdie mielies, word die lande skoongehou tot daar weer vroeë mielies geplant word. Omdat koring die gewas is wat die meeste deur siektes benadeel word, poog hy om voor die koring geplant word, al die oesreste van die land af te verwyder.

Nie alleen word die siektes verminder nie, maar kan die planter ook die saad reg geplant kry.

image

Planttyd

Bennie glo dat die planter die belangrikste implement is om ‘n goeie oes te verseker. Vir hierdie rede poog Bennie om nie die plantspoed té hoog te maak nie en te sorg dat die interplant-spasiëring van die gewasse reg is.

Hy glo dat die grond só voorberei moet wees dat die planters optimaal kan funksioneer. Om dié rede bewerk Bennie sy lande voor koring geplant word, terwyl hy poog om sy mielies sonder enige bewerking in 76 cm rye, net so in die stoppels, te plant. Hierdie praktyk veroorsaak dat vogverlies, winderosie en watererosie beperk word, maar belang riker nog, is dat dit die waterinfiltrasie verhoog.

Die mielie-oesreste word in die oorlê-fase deur sy vee benut. Hierdie beweiding word só bestuur dat die minimum blare en maksimum pitte deur die vee benut word. Hierdie stap veroorsaak ook dat die opslag ná die tyd minder is en verder lewer dit ‘n goeie bron van voedsel vir die vee.

Effektiwiteit

Die verhoging van effektiwiteit is by hierdie boerdery ‘n belangrike fokuspunt. Ten einde die doeltreffendheid van die arbeiders te verhoog, is die belangrikste trekkers en toerusting met Autotrack en monitors toegerus. Dié stap help ook dat diesel bespaar word.

Al die spilpunte kan vanaf sy selfoon beheer word en verder word die besproeiing by die plante se behoeftes aangepas om oor- of onderbesproeiing te beperk. Dit help ook om elektrisiteit te bespaar.

Bennie se besproeiingstelsels is so ontwerp dat hul maksimaal van die laer Eskomtariewe gebruik kan maak. Mooidraai is ver van die naaste silo geleë en daarom is die vervoer van die graan in strooptyd ‘n probleem. Bennie het vir homself ‘n deurgangsilo daargestel en sodoende word die graan vanaf sy silo na sy koöperasie of die eindverbruiker vervoer. Dit help ook dat die stroper sowel as vragmotors, optimaal benut kan word en sodoende word baie op vervoer gespaar.

Omdat Bennie se boerderyskaal dit nie vir hom moontlik maak om sy eie hoogloopspuit te regverdig nie, word daar van kontrakteurs gebruik gemaak om met die spuitwerk te help. Bennie maak seker dat hierdie kontrakteurs die beste moontlike taak verrig en dat hulle beskikbaar is as hul dienste benodig word. Soms word ook van ‘n vliegtuig gebruik gemaak om die middels tydig toe te dien. Tydige en doeltreffende onkruid- en plaagdodertoediening veroorsaak skoon lande en dat opbrengste hoër is.

Nuwe praktyke

Om nuwe boerderypraktyke te implementeer, is vir Bennie belangrik. Ten einde te besluit of oorgeskakel moet word of nie, sal die verandering eers op kleinskaal uitgetoets word. Tans word daar verskeie nuwe praktyke getoets.

Omdat wind baie omval veroorsaak en gevolglik ook verliese, word daar tans groei-reguleerders getoets om hierdie probleem die hoof te bied. Op die oomblik lyk dit of hierdie praktyk dalk tot hoër gestroopte opbrengste kan aanleiding gee.

Noordelike blaarskroei is ook op Mooidraai ‘n probleem en daar word tans proefwerk op die plaas gedoen om die kwessie te beheer.

Bennie is ‘n koringprodusent van formaat. Sy opbrengste is die afgelope paar jaar besonder goed. Vrotpootjie was vir hom ‘n probleem, maar dit word redelik goed deur die oorlêstelsel beheer.

“Ten einde my goeie opbrengste te verseker, gee ek ekstra aandag aan die bemesting van die koring. Swamme veroorsaak ook baie verliese en daarom doen ek moeite om dit voorkomend en tydig te beheer, maar laastens maak ek ook gebruik van groeireguleerders wat ek glo ‘n bydrae tot my goeie opbrengste maak,” sê Bennie.

image

Arbeid

Omdat tyd vir ‘n besproeiingsprodusent belangrik is, moet die arbeid optimaal en doeltreffend funksioneer. Om dié doel te bereik, sien Bennie om na sy werkerskorps en beloon hulle vir goeie diens.

Hierdie beloningstelsel veroorsaak dat werkers bereid is om daardie ekstra tree te gee. Ten einde die bonusstelsel te laat werk, is ‘n klokstelsel ingestel om rekord te hou van wanneer en waar ‘n arbeider werk. “Dié stap het die produktiwiteit van die arbeid merkwaardig verhoog,” meld Bennie.

Rekordhouding

Bennie is nie ‘n kantoormens nie, maar hy besef die belangrikheid van rekordhouding. Hy sorg dat hy rekord hou van wat waar gedoen is en dit doen hy deur alles sorgvuldig in sy dagboek aan te teken. Hierdie dagboeke word noukeurig bewaar en indien hy iets nie kan onthou nie of tydens die beplanning van die nuwe oeste, gaan hy sy vorige dagboeke na. Op dié manier lees hy weer sy aantekeninge oor probleme raak asook sy planne om dit te oorkom. Wat ‘n goeie manier om betyds herinner te word!

Bemarking

Bennie besef dat produksie alleen hom nie op die plaas kan hou nie en daarom is die prysing en bemarking van graan vir hom belangrik. Bennie sorg dat hy weet hoeveel dit hom kos om ‘n ton te produseer en hiervolgens neem hy sy prysing- en bemarkingsbesluite.

Hy poog om ‘n goeie gemiddelde prys te verkry en poog om nie graanpryspieke te probeer voorspel en dan alles te bemark nie. Bennie maak alle markinligting en verwagtinge by verskillende graankopers en bemarkers bymekaar voordat ‘n besluit geneem word. Wat sy bemarking betref, poog hy om sy graan direk van sy plaas na die eindverbruiker vervoer te kry – hierdeur bespaar hy asook die verbruiker, kostes.

Ontspan

Bennie glo dat hy ook tyd vir homself nodig het om sy “batterye te laai” en te ontspan. Hiervoor werk sy wildboerdery vir hom lekker. Met ‘n verkyker, sy vrou en die stilte van die veld, kom hy gou tot ruste en kry kans om sake te kan oordink.

Kontak gerus vir Bennie en Elzette by 082 571 4645 vir meer inligting en leer hierdie vriendelike produsent beter ken.

Publication: May 2012

Section: Other Articles

Search