• Login
  • Search Icon

Beperk oesverliese op kanola

February 2017

FRANCO LE ROUX, Lanboukundige hulpbronbestuurder: Soill

Kanola is ‘n gewas wat oor die afgelope paar jaar sy merk in die kleingraanverbouingsareas van die Wes-Kaap gemaak het. Aanvanklik is daar skoolgelde betaal, maar oor die algemeen het die meeste produsente die bestuur van die gewas bemeester om jaar op jaar uitstekende resultate te behaal.

Die effektiewe en doeltreffende bestuur van kanola speel ‘n baie groot rol in die sukses daarvan – vanaf vestiging tot en met die oes daarvan. Klein foutjies kan ‘n geweldige impak hê op die opbrengs en winsgewendheid van die gewas.

Omdat kanola so ‘n klein saadjie het, is oesverliese internasionaal ‘n probleem. Daar is egter maniere om die verliese te beperk en met klein verstellings kan groot verskille waargeneem word.

In die artikel word ‘n paar belangrike punte genoem wat in gedagte gehou moet word as dit kom by die suksesvolle verbouing van kanola en die voorkoming van verliese tydens oestyd.

Vestiging: Die begin om stroperverliese te beperk

‘n Goeie stand is die begin van ‘n goeie oes en produsente moet baie aandag skenk aan die korrekte saadplasing en plantdigtheid om die gewenste stand te verkry. Spandeer tyd agter die planter en maak doodseker die saad beland waar jy dit wil hê.

‘n Egalige stand sal die besluitneming tydens oestyd baie vergemaklik en verseker dat verliese tot ‘n minimum beperk word.

Platsny

Daar is steeds ‘n groot aantal produsente wat kanola te groen platsny en verskeie internasionale navorsingsprojekte het al bewys dat verliese van tot 250 kg/ha kan voorkom as kanola te groen gesny word. Dit is net sinneloos om die hele jaar moeite te doen en geld te spandeer aan die gewas – en met een besluit verloor jy ‘n groot persentasie van jou totale oes.

Daar word aanbeveel dat op ‘n gemiddelde saadverkleuring van 50% tot 65% gesny word. Elke kultivar verkleur anders en daar kan nie na die kleur van die plant gekyk word nie. Maak die peule oop en kyk na die verkleuring van die sade.

‘n Eenvoudige manier wat aangewend word, is om deur die land te stap en op toevallige plekke ‘n plant te neem en ‘n peul onder, in die middel en aan die bokant van die hoofhalm van die plant te pluk. Versamel só ‘n goeie verteenwoordigende monster en maak die peule een vir een oop.

Indien die sade van groen na bruin of swart verkleur het, tel dit as verkleuring. Bereken só die persentasie van die sade wat verkleur is. ‘n Saad wat by ‘n gemiddelde verkleuring van 60% wel nog groen is, sal reeds ferm wees as dit tussen jou duim en wysvinger gerol word en sal verkleur en ryp word sonder verliese na platsny.

Pasop om kanola op baie warm dae plat te sny: In sulke gevalle kan die chlorofil (groen kleur) binne-in die saad vasgevang word, omrede die saad te vinnig uitdroog. Dit kan graadprobleme en finansiële verliese veroorsaak.

Sterk wind kan rye beskadig en peule laat oopgaan. Probeer om saam met die heersende windrigting te sny. Sny ook op ‘n egalige hoogte van sowat 30 cm tot 50 cm plat – indien moontlik. Die rye sal in die stokke geanker wees. Op sekere platsnyers kan rollers aangebring word wat die ry liggies in die stokke indruk – wat dit verder in sterk wind sal anker.

Chemiese rypwording

In sekere dele word kanola direk geoes sonder om dit plat te sny. ‘n Algemene praktyk wat gevolg word, is om die kanola met ʼn geregistreerde skroeimiddel dood te spuit. Hierdie bespuiting moet op ongeveer 80% tot 90% saadverkleuring gedoen word.

‘n Groot gedeelte van die kanola wat direk geoes word, word te groen doodgespuit. Die saadjies is kleiner en weeg minder – wat groot verliese tot gevolg het. Maak seker dat die kanola op die regte tyd gespuit word om verliese te voorkom. Die beste is om die kanola natuurlik te laat ryp word, maar die risiko vir sterk wind wat die saad sal uitwaai, is dan groot. Indien wind nie ‘n probleem is nie, word aanbeveel dat die kanola vanself ryp word en net geoes word.

Stroperverliese

Die verliesmonitors van stropers tel nie die kanolasaadjies op nie. Die beste is om fisies agter die stroper te kyk. Maak gebruik van bakke wat agter die stroper ingegooi word om te bepaal hoeveel saad gemors word. Haal die chopper of spinners af om die verliese te bepaal.

Faktore wat die mors van kanola kan beïnvloed, sluit in:

  • Siwwe se verstellings
  • Grondspoed van stroper
  • Drom- of rotorspoed
  • Konkaafopening
  • Windspoed

Speel rond met die veranderlikes om die optimale verstelling te verkry en pas dit gereeld aan soos wat die omstandighede verander. Internasionale norme van tot 50 kg/ha-verliese is aanvaarbaar, maar daar is al gevalle van tot 700 kg/ha aangeteken.

Daar was al baie gevalle waar bogemelde faktore alles reggestel is en die stroper steeds mors, dan moet verder ondersoek ingestel word. Maak seker alle openinge is dig (veral by die feader house) en dat daar nie kanola lek nie.

Die opteller se spoed moet so naby as moontlik aan die grondspoed van die stroper wees – dit sal verseker dat die windry egalig opgetel word en ook egalig ingevoer word. Dieselfde geld vir wanneer die kanola direk geoes word: Maak seker die waaierspoed is dieselfde as die grondspoed.

Maak seker alle vragmotors en vangwaens is dig. Gebruik seile in plaas van net om vragte toe te maak op die vragmotor. Ry agter die eerste vrag en jy sal gou agterkom of daar saad afwaai: Elke bietjie maak ‘n verskil.

Publication: February 2017

Section: Focus on

Search