• Login
  • Search Icon

Bepaal só bemestingbehoeftes van kanola

February 2017

ANDRÉ AGENBAG, Universiteit van Stellenbosch

Ten einde die bemestingsbehoeftes van gewasse te bepaal, is dit belangrik om te weet hoeveel voedingstowwe deur die gewas uit die grond verwyder gaan word en hoeveel daarvan deur die grond voorsien sal word.

Voedingstowwe verwyder

Uit Tabel 1 blyk dit dat kanola veel meer voedingstowwe as koring uit die grond verwyder vir ‘n graanopbrengs van 1 ton. Die behoeftes kan bepaal word deur realistiese opbrengsteikens. Indien kanola vantevore verbou is, kan die opbrengsgeskiedenis gebruik word as ‘n opbrengsteiken.

As kanola vir die eerste keer verbou word, kan opbrengste van koring as maatstaf dien. Die opbrengs van kanola behoort met optimale produksietegnieke minstens 50% van koringopbrengste te wees.

Voorsiening deur die grond en bemestingsbehoefte

‘n Sinvolle bemestingsaanbeveling vir kanola vereis ‘n volledige grond ontleding wat beide die swaelinhoud, koolstofpersentasie en klipfraksie insluit.

Fosfor

Hoewel fosfor ‘n essensiële makrovoedingstof is, word klein hoeveelhede daarvan benodig. Fosforgebrekkige plante word meestal gekenmerk deur beperkte vegetatiewe groei en soms ook rooi of pers verkleurings. Hierdie verkleurings moet nie verwar word met soortgelyke simptome wat voorkom as plante op ‘n jong stadium onder hewige plantluisbesmettings deurloop nie.

‘n Grondwaarde van 36 mg/kg (sitroensuur) of 24 mg/kg (Bray 1) word as vertrekpunt geneem (Tabel 2). By laer of hoër grondontledings word aanpassings gemaak met inagneming van faktore wat op brengs potensiaal bepaal. ‘n Onderhoudsbemesting van > 10 kg P/ha word aanbeveel. In graanwisselboustelsels kan toedienings met 30% afwaarts aangepas word.

Kalium

Kalium is belangrik om waterverliese te beheer deur die regulering van die huidmondjies waardeur plante transpireer en help ook met die opname en vervoer van voedingstowwe. Hoewel kaliumtekorte in die algemeen aanleiding gee tot ‘n afname in groeikragtigheid en ernstige tekorte tot ‘n vergeling van blaarrante en vergeling tussen die nerwe van ouer blare, is kaliumtekorte by kanola meestal nie-simptomaties en kan gevolglik maklik verwar word met ander tekortsimptome.

As riglyn word die kaliuminhoud van grond op ongeveer 80 mg/kg vir swaarder en 60 mg/kg vir liggetekstuurde grond gestel (Tabel 3). Volgens hierdie riglyn sal kaliumbemesting selde nodig wees vir kanola op skaliegronde in die Wes-Kaap.

In sanderige grond en veral met bewaringslandbou wat minimumgrondversteuring behels, mag kaliumvlakke in die bogrond uitgeput raak en sal kaliumbemesting nodig wees.

Stikstof

Die grootste gedeelte van die stikstof in groen plante kom voor as ensiemproteïene in die chloroplaste (bladgroenkorrels) waar chlorofil (bladgroen) as basis vir fotosintese dien.

Die stikstofinhoud is die hoogste in jong plante en neem af met veroudering. Nogtans is dit belangrik om deur middel van bobemesting te verseker dat die afname in stikstof en gevolglike afsterwing van blare nie voortydig plaasvind nie. Voldoende groen blare (blaaroppervlakte) gedurende die graanvulfase is baie belangrik.

Stikstoftekorte word gekenmerk deur beperkte vegetatiewe ontwikkeling, asook die vergeling en vroeë afsterwing van veral die onderste blare van die kanolaplant.

In teenstelling met fosfor en kalium, is dit baie moeilik om die stikstofleweringsvermoë van grond te bepaal. Reënval en kool stofinhoud van die grond kan volgens die volgende formule bepaal word:

N lewering deur grond (kg N/ha) = binne groeiseisoen reënval (mm) x 0,15 x %C

Faktore soos metode van grondbewerking en vestiging, asook wisselboustelsel en plantdatum kan dit egter beïnvloed. Stikstof in die nitraatvorm loog maklik en daarom kan reënvalverspreiding en grondtekstuur die effektiwiteit van toegediende stikstof beïnvloed.

Navorsingsresultate toon dat slegs sowat 50% tot 70% van toegediende stikstof deur plante benut word.

Tabel 4 kan as riglyn vir die stikstofbemestingsbehoefte dien en die werklike behoefte weens genoemde faktore verskil van plaas tot plaas. Kanolaprodusente word dus aanbeveel om die stikstoflewering van hul plaas te bepaal deur proefstroke aan te plant waar geen stikstof toegedien word nie. Graanopbrengs (kg/ha) wat sodoende verkry is, gedeel deur 40 gee ‘n aanduiding van grondstik stoflewering.

Die verdeling van stikstofbemesting by kanola is belangrik. Ontkiemende kanolasade kan deur kontak met kunsmis beskadig word. Vermy of beperk die plasing van veral ureumbevattende stowwe by die saad tot die minimum. Dien as algemene riglyn ongeveer 10% tot 15% van totale stikstoftoediening met planttyd toe en ongeveer 65% as bo-bemesting 30 dae tot 40 dae na-opkoms. Onder normale reënvaltoestande kan die restant van die stikstofbemesting op 60 dae tot 70 dae na-opkoms toegedien word. In droë jare kan laasgemelde toediening weggelaat word.

Swael

Swael is belangrik vir sintese van proteïene en chlorofil en een van die boustene van glukosinolate wat veral in die groeipunte en wortels van kanolaplante voorkom en ‘n onderdrukkende effek op sommige grondgedraagde siektes het.

Gedurende die vegetatiewe stadium word swaeltekorte gekenmerk deur liggroen, jong blare, asook kleiner blare waarvan die rante opwaarts krul om koppievormige blare te vorm. Tydens die re pro duktiewe fase vertoon die blomme ligter van kleur en word stuif meelproduksie benadeel. Swaeltekorte veroorsaak beide minder peule per plant en sade per peul. Peule vertoon dikwels pers van kleur en is afgeplat.

Die swaelbehoefte van kanola is ongeveer vier maal dié van koring en swael word as standaardtoediening vir kanolaproduksie aanbeveel. Swael moet verkieslik in ‘n stikstof:swaelverhouding van 7:1, maar teen nie minder nie as 10 kg tot 15 kg S/ha gedurende die groei seisoen toegedien word.

Gronde met ‘n geskiedenis van gebrekkige swaelinhoud of waar ‘n grondontleding op ʼn sodanige toestand dui, benodig swael teen 10 kg tot 15 kg S/ha per ton opbrengsmikpunt as gips (Ca2SO4), superfosfaat, kaliumsulfaat of swaelbevattende stikstofbe mesting stowwe.

Mikro-elemente

Hoewel voldoende hoeveelhede van alle mikro-elemente belangrik is vir optimale groei en produksie van kanola, moet boor uitge sonder word.

Boor is belangrik vir blomvrugbaarheid en tekorte veroorsaak dat peule onegalig op die blomsteel gespasieer is en dat daar ook gapings tussen pitte (vermiste pitte) in die peule is. Hoewel grondontledings van > 0,5 mg/kg as voldoende beskou word, is boor so belangrik vir optimale produksie dat blaarbespuitings van boor as ‘n standaardtoediening in die kanolaproduserende gebiede van die Wes-Kaap beskou word.

Blaartoedienings met ‘n boorbevattende produk soos Solubor® teen 1 kg/ha tot 1,5 kg/ha tydens stamverlenging (ongeveer 60 dae na opkoms) word aanbeveel. Aangesien sodanige bespuitings die blomme van kanola mag beskadig, is dit belangrik dat die toediening moet plaasvind voordat die eerste blomme oopgaan.

Publication: February 2017

Section: Focus on

Search