• Login
  • Search Icon

Bemesting: Wanneer is hoeveel nodig?

July 2015

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Vir enige gewas om optimaal te produseer, moet die nodige bemestingstowwe altyd op die regte tye beskikbaar wees. Watter bemestingstowwe is dus die belangrikste, hoe werk hulle en wanneer moet die bemestingstowwe vir die plante beskikbaar wees?

Die hoof makro-elemente wat algemeen deur ‘n plant benodig word, is stikstof (N), fosfaat (P) en dan kalium (K), maar daar is ‘n reeks ander elemente, soos magnesium (Mg), swael (S), kalsium (Ca), sink (Zn) en mangaan (Mn) wat ook teenwoordig moet wees om groei te bewerkstellig. Sodra elementtekortsimptome deur ‘n gewas vertoon word, is daar reeds skade aan die oes.

Elke element het sy eie bydrae tot die oes en tog is nie een belangriker as die ander nie. As daar aan een element ‘n tekort is, sal dit die opbrengs verseker benadeel. Die grondontleding en die verwagte opbrengs sal bepaal hoeveel van watter element benodig en toegedien moet word.

Stikstof (N)

Die meeste stikstof word in die vorm van nitraat (NO3) deur die plant opgeneem. Hierdie nitraat word dan na die amienvorm (-NH2) gereduseer wat deur ‘n hele klomp prosesse gebruik word. N kom in die plant voor in die organiese verbinding, soos aminosure, proteïene, adenosientrifosfaat (ATP), adenosiendifosfaat (ADP), deoksiribose nukleïensuur (DNA), fosfolipiede en chlorofil en dus ook in strukture, soos selkerne, selwande en chromosome.

Hieruit is dit duidelik dat die lewensprosesse, soos fotosintese, groei, voortplanting en handhawing van genetiese identiteit, deur stikstof medebepaal word. Die opvallende effek van stikstof is dat dit die kenmerkende groen kleur aan blare gee en die vegetatiewe groei van plante word met stikstof geassosieer.

Fosfor (P)

P word hoofsaaklik in die vorm van oplosbare ortofosfaat (H2PO4) opgeneem en word in hierdie vorm in organiese verbinding en plantstruktuur ingebou. Die belangrikste is fitien, ATP, ADP, DNA en fosfolipiede. Soos in die geval van N, speel fosfor dus ook ‘n rol by fotosintese, groei, voortplanting en handhawing van genetiese identiteit en ook by respirasie. P word veral geassosieer met seldeling, wortelgroei, blomvorming en met rypwording.

Kalium (K)

Plante benodig relatief groot hoeveelhede K in vergelyking met die ander minerale. Anders as N en P, kom K egter nie in organiese verbindings en strukture van plante voor nie, maar wel in die selsap. K speel ‘n rol by die vervoer van stikstof in die plant asook by die translokasie van stysel en dit bevorder fotosintese.

K bevorder ook veselsterkte en het ‘n invloed op die oop- en toemaak van huidmondjies. K word geassosieer met die stewigheid van stamme (veral by grane), droogte- en kouebestandheid en vrugkwaliteit. Dit bevorder ook die vorming van proteïene, suiker, stysel en olies.

Daar is verder ook ‘n verskeidenheid mikro-elemente wat benodig word, wat elemente insluit soos sink (Zn), mangaan (Mn), koper (Cu), yster (Fe), boor (B) en molibdeen (Mo), om die belangrikste te noem. Baie navorsingswerk is al gedoen om te bepaal hoeveel bemestingstowwe deur gewasse onttrek word. Tabel 1 toon die onttrekkingsyfers van die hoof somerakkerbougewasse.

image

‘n Plant se werklike voedingsbehoeftes ver skil egter van die onttrekkingsyfers. As die plant eers dood is, sal daar ‘n gedeelte van die voedingselemente hersirkuleer word. Maak net seker dat daar genoeg voedingstowwe ten alle tye vir die plant beskikbaar is.

Elke gewas neem voedingstowwe volgens sy eie behoeftes op. Dit is belangrik om seker te maak dat die voedingstowwe wel daar is as die plant dit nodig het en dat dit in ‘n vorm is waarin die plant dit kan opneem. Baie navorsing is reeds gedoen om hierdie opnametendense te bepaal.

Mielies

In Figuur 1 word die NPK-voedingstofopnametempo van mielies (soos deur Pannar bepaal) getoon.

image

Uit hierdie figuur is dit duidelik dat die mielieplante se tempo van K-opname baie vroeg piek. Beide die P- en N-opnametempo’s is die hoogste rondom die blomtyd van die mielieplant. Uit hierdie figuur maak dit dus sin om te sorg dat die P en K met-plant beskikbaar gestel word. Wat N aanbetref, kan die stikstofbemesting met twee paaiemente toegedien word om verlies te beperk. Vir droëlandmielieverbouing moet die totale N-behoefte voor vyf- tot sesweke-ouderdom toegedien wees. ‘n Mielieplant het teen blom reeds 65% van die N, 75% van die K en 50% van die P opgeneem.

Sojabone

Grafiek 1 en Grafiek 2 toon die P- en K-voedingstofopnametempo van sojabone aan. Uit hierdie inligting is dit duidelik dat die sojaboonplant die P en K die vinnigste rondom die R4-groeifase, of as die sojaplant begin blom, opneem. N-opname is nie aangetoon nie omdat die plant self sy eie stikstof met behulp van knoppiesbakterieë kan vervaardig.

image

image

Wat sojaboonbemesting betref, maak dit sin om seker te maak dat die makro-elemente wel tot die beskikking van die plant tydens plant is. Dit is algemeen bekend dat sojabone goed op residuele grondvrugbaarheid reageer. Maak net seker dat die voedingstowwe beskikbaar is as die plant dit benodig. Indien daar besluit word om nie te bemes nie, moet die onttrekte elemente net weer vervang word. Indien opbrengste van meer as 3,5 ton/ha verwag word, moet produsente dit oorweeg om ekstra N toe te dien.

Sonneblomme

Sonneblom se bemestingsinligting is maar skraps. Tog is daar konsensus dat die voedingsbehoeftes van die sonneblom vin nig toeneem vanaf die tienblaar-stadium. Tekorte in die vroeë groeistadium kan nie regtig opgevang word nie en daar om is die algemene aan beveling dat die voedingstowwe met- of voor-plant uitgestrooi word. Die voeding stowwe wat verwyder word, is egter heel wat minder as wat benodig word. Maak dus seker dat jy weet hoeveel bemesting om te gee.

As daar enige vrae is, kan Pietman Botha by 082 759 2991, Pieter Rademeyer by 082 776 5583 of Nico Barnard by 082 850 1503 gekontak word.

Die grootste gedeelte van hierdie artikel is met behulp van die Bemestingshandleiding van die Misstofvereniging (nou Fertasa) opgestel.

Publication: July 2015

Section: Focus on

Search