• Login
  • Search Icon

Belangrike ekonomiese aanwysers en insetprystendense vir 2016

December 2016

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Graan SA

Die volatiliteit van die rand was in 2016 ‘n hoogtepunt, óf ‘n laagtepunt – afhangend hoe ‘n mens daarna kyk. Een ding is seker en dit is dat volatiliteit besluitneming bemoeilik.

Alhoewel die rand vanaf Oktober 2015 tot Oktober 2016 slegs met 3,1% verswak het, weerspieël dit nie die ware prentjie nie. Grafiek 1 toon die daaglikse volatiliteit van die geldeenheid teenoor die VSA-dollar oor ‘n jaartydperk.

Belangrike ekonomiese aanwysers en insetprystendense vir 2016

Oor hierdie tydperk het die waarde van die rand in ‘n band van tussen R13/$ en R17/$ beweeg, met R13,08 die sterkste vlak en R16,88 die swakste. Dit weerspieël ‘n beweging van 29% tussen die sterkste en swakste vlakke.

Omdat die meeste van Suid-Afrika se produksie-insette ingevoer word, speel die waarde van die rand ‘n beduidende rol in die prysvorming van plaaslike insette. Ongeveer 80% van die land se kunsmisbehoeftes, alle aktiewe bestanddele vir landbouchemikalieë en die meeste landboumasjinerie (veral trekkers en stropers) word hoofsaak-lik ingevoer. Selfs brandstofpryse (wat gereguleer word) word op invoerpariteit gebaseer. Alhoewel ons saadtegnologie (soos GMO’s) ingevoer word, word die meeste saad ten minste plaaslik vermeerder.

Tabel 1 toon die prysbewegings in van die belangrikste ekono - miese- en insetprysaanwysers in 2016.

Belangrike ekonomiese aanwysers en insetprystendense vir 2016

Produksieprysindeks

Die produksieprysindeks (PPI) dui die prysstygings van goedere en dienste op die groothandels- of vervaardigingsvlak in die ekonomie aan. Op ‘n jaargrondslag het die produksieprysindeks tot September 2016 met 6,6% gestyg. Die PPI vir landbou het op ‘n jaar op jaargrondslag met 12,2% toegeneem, terwyl die PPI vir graanprodukte met 16,2% gestyg het.

Verbruikersprysindeks

Die amptelike inflasiekoers word op die basis van veranderings in die verbruikersprysindeks bereken en dui kosteveranderings op die kleinhandels- of verbruikersvlak aan. Die inflasiekoers het in September 2016 op ‘n jaargrondslag met 6,1% gestyg. Voedselinflasie het oor dieselfde periode met 11,6% gestyg. In hierdie mandjie van voedsel het brood en grane met 16,6% toe geneem, terwyl vleis met 5% gestyg het. Olies en vette het met 15,5% toegeneem, terwyl groente en vrugte oor dieselfde tydperk met onderskeidelik 14% en 25% gestyg het.

Wisselkoerse

In Tabel 1 word ‘n verstewiging in die waarde van die rand teenoor ander geldeenhede as ‘n positiewe verandering aangedui, terwyl ‘n verswakking as ‘n negatiewe persentasieverandering aangetoon word. Die rand het op ‘n jaargrondslag tot Oktober 2016 met onderskeidelik 3,1% en 1,3% teenoor die dollar en die euro verswak, terwyl die rand 17,2% teenoor die pond versterk het.

Rentekoerse

Op ‘n jaargrondslag tot Oktober 2016 het die Reserwebank die bankkoers met 100 basispunte of een persentasiepunt na 7% verhoog. Handelsbanke het die prima uitleenkoers ook met 100 basispunte na 10,50% verhoog.

Internasionale ruoliepryse

Die gemiddelde Brent-ruolieprys het vanaf Oktober 2015 tot Oktober 2016 met 3,8% vanaf ,50 per vat na ,40 per vat toegeneem. Die ruolieprys in randterme het op ‘n jaargrondslag tot en met Oktober 2016 met 7,1% tot R716 per vat gestyg.

Brandstofpryse

Die plaaslike groothandelprys van diesel in Gauteng het met 2% vanaf R10,94 per liter in Oktober 2015 tot R10,72 per liter in Oktober 2016 gedaal. Die werklike brandstofkoste het in Oktober slegs 47% van die finale groothandelsprys van diesel uitgemaak. Dit wil sê 53% is opgemaak deur heffings en belasting.

Oor ‘n jaartydperk het die gelande koste van diesel met 10,6% gedaal, terwyl belasting met 12,5% toegeneem het en die groothandelsmarge dieselfde gebly het.

Die dieselkorting is tans 262 sent per liter, terwyl dit verlede jaar 250 sent per liter was. Die dieselkorting bestaan uit die 154 sent per liter van die Padongeluksfondsheffing en 108 sent per liter van die belastingskomponent.

Internasionale kunsmispryse

Alle internasionale pryse van kunsmisgrondstowwe het vanaf Oktober 2015 tot Oktober 2016 skerp gedaal. Die pryse van DAP, ureum, ammoniak en kaliumchloried het onderskeidelik met 25%, 20,2%, 63,8% en 23,5% gedaal.

Plaaslike kunsmispryse

Omdat Suid-Afrika om en by 80% van sy behoefte aan kunsmis moet invoer, is plaaslike kunsmispryse blootgestel aan dieselfde faktore as in die internasionale mark.

Met die volatiliteit in die wisselkoers gedurende die tydperk onder bespreking en die feit dat die rand die grootste gedeelte van die jaar swakker was vergeleke met ‘n jaar gelede, het plaaslike pryse tot ‘n mindere mate as inter nasionale pryse gedaal.

Die gemiddelde pryse van MAP, ureum, KAN en kaliumchloried het oor ‘n jaarperiode tot en met Oktober 2016 met onderskeidelik 9,6%, 16,5%, 12,7% en 12,9% gedaal.

Belangrike ekonomiese aanwysers en insetprystendense vir 2016Saadpryse

Saad maak ongeveer 12% van ‘n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekosterekening uit. Vir die 2016/2017-pro duksieseisoen het mieliesaad met gemiddeld 6,9%, graansorghumsaad met 8,3%, sonneblomsaad met 7,4% en sojaboonsaad met 7% gestyg.

Trekkerpryse

In Oktober 2016 was die pryse van trekkers 19,6% hoër as die oorstemmende tydperk twaalf maande gelede. Die volatiliteit en algemene verswakking in die waarde van die rand teenoor die geldeenhede van Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote was die hoofsaaklike rede vir hierdie prysstyging.

Trekkerverkope

Vir 2016 het trekkerverkope tot en met Oktober met 14% vergeleke met dieselfde periode in 2015 gedaal. In hierdie tien maandetydperk verlede jaar is 5 877 eenhede verkoop, terwyl trekkerverkope vir 2016 op 5 053 eenhede staan.

Dié laer verkope kan hoofsaaklik aan die droogtetoestande, uitdagende finansiële omstandighede en uitermatig hoër trek ker pryse toegeskryf word.

Publication: December 2016

Section: On farm level

Search