• Login
  • Search Icon

Bekendstelling van die DLBV se meganisasieprojek in die Wes-Kaap

July 2013

LIANA STROEBEL, ONTWIKKELENDE LANDBOU, GRAAN SA

Die Nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) het onlangs ‘n reeks trekkers en implemente aan die Wes-Kaap oorgedra as deel van ‘n nasionale meganisasieprojek.

Hierdie projek het ten doel om landelike gemeenskappe aan te moedig om grond meer produktief te gebruik om sodoende voedselsekerheid aan te spreek en armoede hok te slaan. Hulp word spesifiek gefokus op landelike areas wat produksiegewys onderbenut word asook om bestaande ontwikkelende graanprodusente te help om produksie uit te brei.

Daar word gevind dat baie ontwikkelende graanprodusente nie kan uitbrei nie as gevolg van die hoë kapitaal-insetkoste wat vereis word. Meeste ontwikkelende graanprodusente het ook nie toegang tot die ondersteuning van finansiële instellings nie namate die aard van sekuriteit in terme van grondeienaarskap of die termyn van huurooreenkomste.

image

Minister Gerrit van Rensburg het hierdie projek op 30 April vanjaar op die plaas Gansekraal, net buite Hopefield in die Swartland, bekend gestel. Dit was ‘n hartroerende geleentheid waar begunstigdes van Gansekraal die departement hartlik bedank het en vertel het hoe hierdie trekkers en implemente hul lewens en toekoms gaan verander.

Mnr Jurianne Schreuder, buurman en mentor van Gansekraal, is ook hartlik bedank vir sy onbaatsugtige betrokkenheid by en ondersteuning aan die projek. Graan SA is ook bedank vir hul betrokkenheid by Gansekraal as kommoditeitsorganisasie.

Sprekers by die geleentheid was ondermeer minister Van Rensburg, menere Dudley Adolph, Jerry Aries, Mogale
Sebopetsa, dr Johan Strauss van die Departement van Landbou asook mnr Kobus Oosthuizen van Casidra, wat die administrasie van die projek gaan bestuur.

Die plaaslike aanslag op landbouontwikkeling in die Wes-Kaap en die persoonlike betrokkenheid van amptenary en kommoditeitsorganisasies op grondvlak, word baie positief ervaar en dien as bewys van die departement en rolspelers se toewyding.

Publication: July 2013

Section: Other Articles

Search