• Login
  • Search Icon

BEGROTINGSDEBAT

July 2013

image

Ek was einde Mei 2013 weer ‘n slag in die parlement om na die begrotingsdebat van die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye te luister. Die ander rede was omdat Graan SA ‘n mooi uitstalling van al ons ontwikkelingswerk in graanproduksie tydens die geleentheid kon doen.

Dit was lekker om al die hooggeplaasde besoekers daarheen te neem en hulle aan die resultate bekend te stel. Meer nog, ons kon ook ‘n paar van die boere wat aan die Herkapitaliseringsprogram deelneem, saamneem sodat hulle die politici en amptenary persoonlik kon ontmoet.

Dit was veral gemik op die persone wat nie by geleenthede soos NAMPO, Kongres en die Graanprodusent van die Jaar-funksie kan uitkom nie. Dis nou amper letterlik ‘n geval van “neem die berg na Mohammed toe”.

Ek sal graag so paar opmerkings oor die debat self wil maak, maar eers die ernstige deel wat oor die inhoud gehandel het: Wat my getref het, was dat die minister die saak oor voedselsekerheid gedryf het! Dit is een van Graan SA se strategiese doelwitte.

Alhoewel ons as land ‘n wonderlike rekord het van genoeg kos vir almal, bly die realiteit dat 12 miljoen mense daagliks honger gaan slaap, iets waaraan ons nie kan ophou werk nie. Die klem was egter nie net daarop om die arm gemeenskappe te help om genoeg voedsame kos te bekom nie, maar ook op die landbouer wat die kos moet produseer.

Die debat was beter bygewoon as enige van die voriges waar ek teenwoordig was. Die minister het direk met die Minister van Minerale Hulpbronne gepraat oor die mynbou-aktiwiteite wat landbougrond vir ewig vervreem van produksie. Sy het ook die Minister van Vervoer wat teenwoordig was se hulp ingeroep om die vervoer van ons landbouprodukte en insette weer terug te kry op die treinspore in plaas van die paaie van ons land. Haar deelname aan en sitting op die president se Infrastruktuurkomitee is ‘n geleentheid wat baie dividende vir landbou kan lewer as dit reg gebruik word.

Daar is ook meer as een maal verwys na die dryf om meer markte vir uitvoere vir ons landbouprodukte te kry. Dan was die kwessie van eenheid in landbou genoem en fondse wat vir die herstel van die landboukolleges begroot is. Hierdie is almal kwessies en baie belangrike doelwitte wat Graan SA ook op die sakelys het. Ek rapporteer dus graag dat die sake in haar toespraak dié sake is wat Graan SA op ‘n baie wye front dryf en ons sal nou graag aksie en die implementering daarvan wil sien.

Die debat het my ook aan my universiteitsdae se koshuisvergaderings laat dink. Dit was lang ure van baie praat wat nie noodwendig die wêreld verander het nie, maar die kwinkslae en op- en aanmerkings was op ‘n manier van die beste lesings wat ek oor humor gehad het. Vlymskerp!

Een lid wat weens swak taalgebruik die vertrek moes verlaat omdat hy dit nie wou terugtrek nie, het sommer die manne genooi om die saak hier buite in die gange te gaan uitmaak. Dit het amper soos in die laerskool geklink: “Ons kry mekaar pouse agter die paviljoen!”

Die toevoeging van Visserye tot die minister se portefeulje het ook ‘n element ingebring van mense en kulture wat nie voorheen in landbou was nie. Op ‘n stadium was ek nie seker of een van die vroue haar man en seuns vir aandete roep wat daar anderkant Paternoster op die see visvang en of sy maar net op die opposisie skreeu nie. Met so ‘n stem behoort sy sommer die SA/EU-ooreenkoms sonder enige reiskoste te kan afhandel!

As die ywer waarmee die politieke partye mekaar aangevat het, in wat die meeste van hulle as hulle laaste begrotingsdebat in hulle termyn sien, tog net na die implementering van die begroting gekanaliseer kan word, is ons almal wenners!

Daar was geen gebrek aan energie en terughou nie. Ek moet sê ek het nogal vir Oom Salam Abram in die gehoor gemis. Eers later die aand het ek hom raakgeloop en gehoor dat hy die begrotingsdebat van Korrektiewe Dienste moes gaan bywoon. Dit is ook maar hartseer as mens dink dat hy wat ‘n boer is nie die landboudebat kan bywoon nie. Klink amper of hy in die tronk is.

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: July 2013

Section: Editorial

Search