• Login
  • Search Icon

Barnard vat voor en help produsente in nood

November 2017

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker

Nie net is mnr Janes Barnard van Vlakplaas Boerdery in die Hoopstad-omgewing as Graanprodusent van die Jaar 2011 aangewys nie, maar hy is ook ‘n leier en inspirasie vir ons land se produsente en die gemeenskap in moeilike tye. Hiervoor het hy vanjaar die Graan SA Inspirasietoekenning ontvang. 

Met die droogte vroeër vanjaar het Barnard besluit om die produsente in die Noord-Kaap (Boesmanland en Namakwaland) te help deur mielies vir hul diere te bekom. Barnard het sy medeprodusente en boereverenigings gevra om saam met hom hande te vat en dié produsente, wat onder die erge droogte gebuk gaan, te help met mielies en voer. Graan SA het voorts landboumaatskappye gevra om rekeninge oop te maak waarin produsente skenkings kon maak. 

“Toe ek my oë uitvee, toe sit ek met 1 000 ton plus-mielies en binne ‘n kwessie van ‘n week het ek R1 miljoen se skenkings in die vorm van vervoer ontvang om die mielies na dié gebied te vervoer,” het hy in sy bedankingstoespraak gesê.

Hy sê hy was maar net die instrument wat God gebruik het om dié produsente te help. “Dit is God wat almal se harte oopgemaak het om skenkings aan dié produsente te maak.” 

Barnard het ‘n ander persepsie van die gesegde: “Gee met een hand en jy sal met twee hande terug ontvang”. “Jy het nie nodig om eers te gee om terug te ontvang nie. Elkeen wat vanaand hier sit is reeds met ‘dubbelhande’ geseën. Twee jaar terug was ons in dieselfde situasie, waar as gevolg van die droogte ons nie ‘n mieliepit kon plant nie. Vanjaar is ons geseënd met die grootste oes in die geskiedenis van hierdie land en ek voel dit is nou ons beurt om terug te gee. Dit wat ons het, is net genade van Bo.” 

Hy het ‘n beroep op elkeen die aand teenwoordig gedoen om terug te gaan na hul distrikte en boereverenigings en te vra vir nóg mielies en skenkings. “As elkeen van ons net ‘n klein bietjie gee, kan ons die produsente deur hierdie krisis help. Daar is steeds ‘n groot behoefte aan mielies en voer in dié gebied,” het hy gesê. 
 

Publication: November 2017

Section: Grain SA

Search