• Login
  • Search Icon

Bakteriese stam- en kelkvrot is dié seisoen weer problematies vir mielieprodusente

March 2014

BELINDA JANSE VAN RENSBURG en BRADLEY FLETT, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Erwinia chrysanthemi pv. zeae (Erwinia carotovora f.sp. zeae) is ‘n beweeglike, gram-negatiewe, staafvormige bakterie wat bakteriese stam- en kelkvrot van mielies veroorsaak.

Die siekte kan regdeur die mielieproduksieareas van Suid-Afrika gevind word en veroorsaak periodiek ernstige gelokaliseerde besmettings, soos tans in die Vaalharts-omgewing ondervind word.

In die vorige en die huidige seisoen is verskeie navrae ook uit die Noord-Kaap, Noordwes Provinsie, Noord-Vrystaat en Limpopo mielieproduksiegebiede ontvang rakende bakteriese stam- en kelkvrot.

Alhoewel die aanplantings wat gereeld simptome toon en waar infeksies hoër is, meestal onder besproeiing is, is daar ook besmettings in droëlandaanplantings aangemeld. Besmettings wissel dié jaar van 0% tot 20% en in sommige gevalle in die Vaalhartsgebied is daar tot 30% besmetting waargeneem.

Hierdie patogeen het ‘n wye gasheerreeks wat beide monokotiel- en dikotielplante insluit. Bakteriese stam- en kelkvrot van mielies kom meestal in gebiede voor met ‘n hoë reënval en/of besproeiing, veral waar grond swak dreineer.

Hoë temperature (32°C - 35°C) en relatiewe humiditeit bevorder die ontwikkeling van die siekte. Vog wat in die kelk vergader as gevolg van oorhoofse besproeiing (veral waar stikstof toegedien is), of oormatige reën/dou, is die hoofoorsaak van kelkvrot. Beheer daarvan is moeilik, omdat daar nie voorspel kan word waar die siekte gaan toeslaan nie.

Ekonomiese belangrikheid en epidemiologie

Die bakterie oorwinter in stamreste op die grondoppervlak en die moontlikheid bestaan ook dat die bakterie in grondbesproeiingsdamme voorkom en deur besproeiing met mielieplante in kontak kom.

Plantwonde wat deur hael, sterk winde en insekte, soos stamboorders, veroorsaak word, verskaf openinge vir infeksie. Bakterieë kan ook die plant binnedring deur natuurlike openinge, soos huidmondjies. Die bakterie is nie saadgedraagd nie. Stamboorders is moontlike vektore (draers) van die bakterie.

image image Siektesimptome

Kelkvrot
Dié siekte infekteer die kelke van mielieplante gedurende die vegetatiewe groeistadium. Simptome kom voor van saailing tot blom, maar meestal om en by die ses- tot agtblaar-stadium.

Water en bakterie lê in die kelk en as gevolg van hoë temperature en die vinnige vermeerdering van die bakterie, vind infeksie plaas. Die nuwe kelkblare begin verwelk en ‘n slymerige verrotting verskyn by die basis van die kelk (Foto 1).

‘n Kenmerkende vrot (amper soos vrot kuilvoer) reuk in die basis van die kelk kan waargeneem word. In sommige gevalle sal die groeipunt afsterf en kan die siekte ook afwaarts versprei, wat veroorsaak dat die plant omval.

Uit siektewaarnemings in aangetaste lande het die verrotting in die kelk tot gevolg dat die blare “afgesny” word en die groeipunt aanhou groei. In sulke gevalle is daar nie voldoende voedsel vir die plant vir graanvul nie en dit benadeel die opbrengs (Foto 3).

Stamvrot
Primêre simptome verskyn in die mid-seisoen wanneer plante skielik omval. Besmetting van die stamme word waargeneem vanaf die twaalfblaar-groeistadium. Aanvanklike simptome wat waargeneem kan word, is die verkleuring van die blaarskede en stam (Foto 2) by internodes (litte).

Soos wat die siekte in die stam ontwikkel, gewoonlik vanaf een tot drie internodes bokant die grondoppervlak, word die stam bruin, waterig en pap (Foto 4). Die stam sal dan omval (Foto 5) met die mielieplant se vaskulêre sisteem nog in plek.

Besmette internodes gee ‘n tipiese sterk, vrot reuk af (weer eens soos vrot kuilvoer). Bakteriese stamvrot kan die mielieplant vanaf enige internode van die grondoppervlak tot by die blare en pluim affekteer. Infeksies hoër op in die plant kan pluime nadelig beïnvloed en dus ook ‘n negatiewe uitwerking op bestuiwing hê.

Beheermaatreëls

  • Kies goed gedreineerde lande of verbeter dreinering om waterakkumulasie te voorkom.
  • Voorkom plantbeskadiging tydens die meganiese beheer van onkruide, bespuitings en toediening van voedingstowwe.
  • Vermy die oormatige vloed van lande en oorhoofse besproeiing, veral by hoë temperature (32°C - 35°C). Besproei eerder gedurende koeler ure in die dag.
  • Waar moontlik, ploeg dieper om alle plantreste goed in die grond in te werk.
  • Plaaslike kultivars is nog nie getoets vir bakteriese stam- en kelkvrotweerstand of vatbaarheid in Suid-Afrika nie. Vanuit waarnemings en verslae is dit egter duidelik dat daar genotipiese verskille rakende bakteriese stam- en kelkvrotweerstand is. Dit was duidelik waar saadmielies geproduseer is in die Limpopo Provinsie, waar of die moeder- of vaderlyn vatbaar was en die ander geen simptome getoon het nie.
  • Tans is daar geen landbou-chemikalieë geregistreer of bekend wat siektevlakke kan verminder nie.
Vir verdere inligting, kan dr Belinda Janse van Rensburg of prof Bradley Flett by 018 299 6100 geskakel word.

Publication: March 2014

Section: Input Overview

Search