• Login
  • Search Icon

Bakkies se boodskap

December 2011

– Desember 2011

image

Beste Grootneef,

Ja, laat ons ‘n glasie klink op skete en pyn – en op Bakkies Botha wat sy tokse opgehang het. Darem jammer hy kon nie daardie laaste toets teen die Aussies speel nie – dalk kon hy net as afskeids geskenk die ref reggesien het...Kyk, soveel van blatant skelmgeid het ek lanklaas van ‘n ref beleef. Oop en bloot man! Ons arme Bokke het nooit ‘n kans teen 16 man gestaan nie...Hoe dit ook al sy, Bakkies had vooraf ‘n besondere boodskap aan sy span – speel met alles wat jy het, want jy weet nooit of dit jou laaste toets is nie...So waar nê, en dit geld vir elke faset van die lewe.

Soos niemand weet waar die wind vandaan kom en waarheen dit waai nie, so weet niemand wanneer die jaarlikse skoonmaakgier die ander helfte gaan beetpak nie. Die beste raad is om jou dan stilletjies uit die voete te maak. As jy genoeg tyd het om weg te kom, met ‘n paar Germaanse bruisdrankies vir padkos. Tot die ergste stof gaan lê. Die groot kuns is dan om agterna stilletjies in die hoop weggooigoed te krap en alles wat dierbaar is terug te smokkel die huis in. Daardie lekker uitgetrapte vellies, jou ou slap hoed met ‘n gat in, oumagrootjie se troufoto...Dit alles kom maar net weer knus agter in die kas. Tot volgende jaar se groot weggooigier weer in die huis kom spook.

Ou Neef, onthou jy nog die Patrys-tydskrif? Kyk, in my oorle jongdae het dit styf opgerol met ‘n bruin papierband, een maal per maand in die posbus geland. Die Patrys is dan met tyddeel deur die jongspan in die huis. Van ousus tot kleinboet. Kan jy glo, die skoonmaakwinde waai toe vanjaar ‘n Patrys van Oktober 1971 uit. Met die deurblaai beland ek in vergange se dae. Luister bietjie: jy kon ‘n draradio vir R6 bestel! Die advertensie lees dat dit “uiterste waarde vir geld bied”. Amen. As jy wou uithang, kon jy ook ‘n brilradio (jy knyp hom aan die raam vas) aanskaf vir R11,58. Jy word ook verder aangemaan om nóú te bestel om teleurstelling te voorkom!

Maar wat van ‘n knipmes en skede vir R1,50! Of ‘n sakflits vir 70c. ‘n Sokkerbal “vir die jong beroepspeler”, het jou R4 uit die sak gejaag.

Die beste van als was egter ‘n vingerbord (met skyfies en reëls), met ‘n formidabele grootte van drie voet by drie voet vir R9,90. Sou jy ‘n haasrek teen die binnekant verkies, sou dit jou ‘n hele R1 ekstra uit die sak jaag. Dié kon jy bestel van “Goeie Hoop Produkte”, Petrusburg, Vrystaat.

Ou Neef, waar is die tyd heen! Ek onthou nog soos gister die vingerbord (met ‘n haasrek) wat vir Krismis met die pos aangekom het en hoe ons tot Nuwejaar die skyfies laat klap het! Ek wonder, bestaan “Goeie Hoop Produkte” te Petrusburg steeds? Of speel kinders deesdae eerder op ‘n rekenaar se vingerbord...?

Die stille verloop van tyd het ons uiteindelik tot in die feesgety gespoel. Op- en afdraande van nog ‘n jaar agter ons, met die herinnering van sakkies sout en suiker in elk se hart. Teen jaareinde sit mens mos by die hardekoolvuurtjies van gister en hande warm maak. Vrindskappe oor tyd, reise na die onbekende, die opwinding van ontdekking en ervaring. Dit alles gee mos ‘n kolegloed wanneer jy in die grys as van verloopte tyd krap.

Ou Neef, afskeid is deel van tyd gegun. Soms is dit tot weersiens, soms finaal. Teen jaareinde gedenk ons vrinne en familie wat nie meer met ons is nie en drink ons ‘n vonkelwyntjie met wie ons nog ‘n glasie kán klink. Voorspoed ou Neef, mag dit ‘n sagte nuwe jaar wees wat voorlê.

Geseënd op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: December 2011

Section: E-mails

Search